Verkiesing 2021

ActionSA wil staatsdiens ‘professionaliseer’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lede van ActionSA betoog Dinsdag buite Tshwane-huis teen die uitkontraktering van munisipale werkers en vir ’n effektiewe en betroubare staatsdiens. Foto: Deaan Vivier
Lede van ActionSA betoog Dinsdag buite Tshwane-huis teen die uitkontraktering van munisipale werkers en vir ’n effektiewe en betroubare staatsdiens. Foto: Deaan Vivier

ActionSA wil die staatsdiens professionaliseer.

Lede van die party, insluitende die burgemeesterskandidate vir Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni, het Dinsdag buite Tshwane-huis vir 'n effektiewe en betroubare staatsdiens betoog.

Herman Mashaba, leier van ActionSA en die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, wil ook munisipale werkers heeltyds aanstel waar hulle die nodigste is.

"Om in die staatsdiens te werk, behoort een van die lonendste loopbane in Suid-Afrika te wees. Jare van kaderontplooiing, korrupsie en die manipulering van huurpraktyke het die staatsdiens verlam. Inwoners het ook vertroue verloor in die regering se vermoë om hulle te dien.

Mashaba het ook die DA in Tshwane van bedrog en korrupsie beskuldig. Dit hou verband met die metro wat meer as R80 miljoen aan die salarisse van 627 algemene werkers bestee het wat vir 'n jaar ledig was.

Rapport het in Mei berig dat die metro in November 2019 jaarkontrakte gesluit het met die werkers, maar geen departement in die metro was bereid om hulle in diens te neem nie.

"In Johannesburg, eThekwini en Ekurhuleni gaan dinge ook nie veel beter nie. Kaderontplooiing en swak bestuur van werkers het dienslewering vernietig," het Mashaba gesê

Hy belowe onder ActionSA se bestuur sal die staatsdiens 'n baken van dienslewering vir inwoners word deur die professionalisering daarvan.

"Ons sal nie meer middelmatige prestasie of gebrekkige dienslewering duld nie. Ons sal 'n prestasiegedrewe, mededingende werkplek vir munisipale amptenare skep wat omgee. Ons sal ook van ons amptenare verwag om hard te werk en die werk gedoen te kry. Ons sal ons munisipale organisasies transformeer om te verseker dat belastingbetalers se geld bestee word aan dienslewering, en nie aan 'n miljoen bestuurders nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM