Verkiesing 2021

Afwesige Ace kos ANC steun

Ace Magashule verlede week in Durban toe hy die biddag vir oudpres. Jacob Zuma  bygewoon het. Foto: Gallo Images
Ace Magashule verlede week in Durban toe hy die biddag vir oudpres. Jacob Zuma bygewoon het. Foto: Gallo Images

Dit lyk asof daar 'n "agter-die-skerms-ooreenkoms" tussen pres. Cyril Ramaphosa en die Zuma-groepering bereik is ná die Julie-onluste - met die gevolg dat oudpres. Jacob Zuma hom nou buite die tronk bevind, en Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, toenemend "geïsoleerd" aan die vooraand van die munisipale verkiesings staan.

Die impak van 'n afwesige of ondergrondse Magashule sal ook tydens die verkiesingstyd in die Vrystaat gevoel word.

Só reken prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit en oud-Bloemfonteiner, wat die naweek aan 'n gesprek op die KragDag-ekspo oos van Pretoria deelgeneem het.

Maar as 'n mens die karakter van Magashule in ag neem, is hy waarskynlik besig om ondergronds te werk om die verkiesingsveldtog van pres. Cyril Ramaphosa in die wiele te ry.

Prof. Koos Malan, professor in openbare reg aan die Universiteit van Pretoria, en Dawie Roodt, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Group, het hom Saterdag in Pretoria gelyk gegee oor sy siening oor so 'n ooreenkoms tussen Ramaphosa en die Zuma-groepering.

Duvenhage het Sondag aan Netwerk24 gesê Magashule, wat Dinsdag weer in die hooggeregshof in Bloemfontein saam met sy medebeskuldigdes moet verskyn in verband met die asbesdakke-saak van R255 miljoen, is tans baie stil en veroorsaak geen rimpeling nie.

Vir die ANC is dié beslis die moeilikste verkiesing sedert 1994.

"Maar as 'n mens die karakter van Magashule in ag neem, is hy waarskynlik besig om ondergronds te werk om die verkiesingsveldtog van pres. Cyril Ramaphosa in die wiele te ry.

"'n Mens sien dit ook in die feit dat sy groot Vrystaatse bondgenoot, Vusi Tshabalala, wat hoofsweep van die ANC in die Vrystaatse wetgewer was, uit die wetgewer en uit die ANC geskors is."

Tshabalala word daarvan beskuldig dat hy in Vrystaatse wyke waar die Magashule-faksie se kandidate dit nie gemaak het nie, soos veral in die Maluti-A-Phofung-munisipaliteit (Qwaqwa, Kestell en Harrismith) en ook Lejweleputswa (Wes-Vrystaat), daardie kandidate aangemoedig het om as onafhanklikes te staan of vir alternatiewe partye te stem.

Duvenhage sê dit kan daartoe lei dat die stempersentasie in die swart gemeenskappe in die Vrystaat laer gaan wees indien hulle sou besluit om vanjaar eerder tuis te bly.

"Magashule is waarskynlik besig om die veldtog-strategie van pres. Ramaphosa te ondermyn omdat die ANC vir Ace toenemend in die koue gelaat het en daar ook bewys is van konflik wat tussen Magashule en Duduzane Zuma, seun van Jacob Zuma, uitgebreek het.

"Die partye wat hierdeur bevoordeel kan word, is die EFF, wat 'n persentasie stemme of twee meer mag kry, die VF Plus wat ten opsigte van sy proporsionele lys voordeel mag trek, en ook die DA.

Prof. André Duvenhage
Prof. André Duvenhage

"As die Zuma-groepering en Magashule nou weg van mekaar staan, is hulle minder gevaarlik as wanneer hulle sou saamstaan.

"Ramaphosa kry ook weerstand met sy veldtog in plekke soos Soweto, die Oos-Rand, Noord-Kaap en ook in Pretoria.

"Vir die ANC is dié beslis die moeilikste verkiesing sedert 1994."

Hy sê hy stem saam met meningspeilings dat daar 'n swak stempersentasie onder swart kiesers gaan wees en hoër stempersentasie onder die res.

" 'n Ander faktor wat 'n invloed gaan hê is dat stemdag op 'n Maandag aan die einde van 'n maand is."

Prof. Sethulego Matebesi, hoof van die departement sosiologie aan die Universiteit van die Vrystaat, sê hy was die afgelope week in Fouriesburg en het gesien hoe die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) hul gewig agter die ANC ingooi.

Prof. Sethulego Matebesi
Prof. Sethulego Matebesi

"Dít wat die ANC gaan verloor omdat Magashule nie daar is nie, gaan opgemaak word deur die alliansievennote van die ANC, naamlik die SAKP, Cosatu en die South African National Civics Organisation (Sanco), wat hul gewig agter die ANC ingooi en die ANC in sy veldtog steun.

"Tydens die presidentskap van Jacob Zuma was daar soms ontevredenheid wat veroorsaak het dat van die alliansievennote nie die ANC wou ondersteun nie."

Hy meen ook dat onderwysvakbonde soos die SAOU die ANC kan steun.

"Dit gaan nie noodwendig altyd oor beleid nie, maar ook oor poste en posisies wat bekom kan word."

Hy meen die feit dat die verkiesing op 'n Maandag val en 'n vakansiedag is, sal alle partye help om meer kiesers by die stembus te kry.

Matebesi glo, soos Duvenhage, dat 'n swak opkoms by die stembus vir die ANC negatief kan reflekteer op Ramaphosa en dat hy moontlik ná die tyd daarvoor geblameer kan word.

Dit is iets wat 'n bepalende rol kan speel by die volgende verkiesingskonferensie van die ANC: of hy vertrou gaan word om die ANC nog 'n termyn te lei of nie.

Werner Horn, DA-LP en voorsitter van die DA in die Vrystaat, sê dit is in groot Vrystaatse munisipaliteite soos die Mangaung-metro, (Bloemfontein), Metsimaholo (Sasolburg), Mokhaka (Kroonstad), Matjhabeng (Welkom) en Maluti-A-Phofung (Kestell, Harrismith en Qwaqwa), waar die ondersteuning van Magashule waarskynlik die meeste in die komende munisipale verkiesings gevoel gaan word.

"Magashule se afwesigheid en sy hofverskyning vandeesweek sal beslis sy partygenote se gees demp."

Werner Horn
Werner Horn

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM