Verkiesing 2021

'Traai maar ons oumas, Cyril’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
'n Vrou stap met ’n sambreel verby 'n berg vullis in Mangaung, Bloemfontein, oomblikke nadat pres. Cyril Ramaphosa hier verbygery het. Die township is met berge vullis besaai en die strate is onrybaar.  Foto: Charles Smith
'n Vrou stap met ’n sambreel verby 'n berg vullis in Mangaung, Bloemfontein, oomblikke nadat pres. Cyril Ramaphosa hier verbygery het. Die township is met berge vullis besaai en die strate is onrybaar. Foto: Charles Smith

"Traai ons oumas, Cyril. Hulle sal dalk nog vir die ANC stem, maar ek? Never, ever sal ek weer ANC stem nie. Nooit, ooit nie."

Moaketsi Matlakala (35) is kwaai omgekrap waar hy op pres. Cyril Ramaphosa op die Duma-plein in die hartjie van Bochabela, Mangaung, wag.

"Dis useless vir Ramaphosa om hierheen te kom. Die mense wat Ramaphosa se T-hemp dra, is useless, net soos hul president," sê Matlakala.

"Ek lewe hier. Ek het nie 'n dak oor my kop nie, ek het nie werk nie en ek het drie kinders. Ek is 'n broodwinner sonder werk. So, dis useless vir hom om hierheen te kom. As hy nie hier is nie, gaan hier niks aan nie."

Nou skielik word strate geskraap en die gehawende parkie skoongemaak, beduie hy.

Wat sal hy vir die president wil sê?

"Ek wil vir hom sê die ANC is useless, van die raadslid hier tot bó by die president."

Gaan hy op 1 November stem?

"Ek gaan nooit, ooit weer vir die ANC stem nie. Never, ever. Traai ons oumas, Cyril. Dis wat hulle doen. Hulle roep ons oumas op om vir hulle te stem. Nie ons nie. Hulle is nikswerd, daardie spul."

Ramaphosa se dag om stemme vir die ANC te werf in Mangaung, die meeste gekaapte stad in 'n gekaapte, verwoeste Vrystaat onder Ace Magashule, eertydse premier, het vroeg al begin skeefloop.

In Malaykamp, waar hy eerste moes optree, was daar net berge vullis.

Twee kaders wat 'n plakkaat van hul president teen 'n paal moes vasspyker, was só dronk dat hulle amper van die drom getuimel het. Dit is skuins ná 09:00 die oggend.

In die omgewing van Paradise Hall is die paradys nou 'n nagmerrie van vullis. Een straat vol rommel en riool is probeer skraap, maar die berg is nét so gelos. Dit is 'n hopelose taak vir 'n hopelose munisipaliteit.

By Duma-plein wag mense drie uur lank in die son vir Ramaphosa. Meestal oues en kinders staan sonder glans in hul oë.

Eindelik moet die kamerade jaag om water en piesangs vir die oues te kry.

Mense staan in 'n ry om hul klagtes oor werk, riool, huise en vrot dienste aan joernaliste deur te gee. Telkens duik hierdie sin op: "Hulle het ons geld geëet. Die ANC het ons geld geëet!"

Godwell Sechabe (59) dra 'n verbleikte ANC-T-hemp met Jacob Zuma op wat grynslag. Sechabe is 'n ANC-man in murg en been.

Maar hy is amper meer omgekrap as Matlakala.

"Dienste? Watter dienste? Ek het al vir 15 jaar geen werk nie. Ek het nog nooit 'n huis gehad nie. Ek plak by my broer."

Maar hy gaan steeds vir die ANC stem?

"Ja, ek stem steeds vir die ANC. Ek laaik hulle, want hulle het apartheid doodgemaak. Ek soek net 'n beter lewe in die land."

Sydwell Gaanakgomo spring van sy stoel af en druk sy vinger in Sechabe se gesig. Hy vreet hom van 'n kant af in Sesotho uit.

"Zuma het die land aan die Guptas uitverkoop. Hoe durf jy sy naam hier noem? Hulle het die geld geëet, man. Alles. Hulle en daardie skelm Ace Magashule. Hy het die meeste geld geëet."

'n Jong man moet Gaanakgomo teruglei na sy stoel.

Matlakala begin 'n ANC-T-hemp met Ramaphosa se gesig op aan die brand steek. Dit lei tot 'n geveg met kaders en 'n polisielid moet hom verwilder.

Ramaphosa daag eindelik op en beloof 'n skoner regering en beter dienste. Die mense luister na hom, sonder veel emosie.

'n Groep mense wat al drie jaar lank sukkel om hul geld vir 'n kontrak uit die regering te kry, probeer hom omsingel op pad na sy motor, maar hul boodskap val op dowe ore. Niemand luister nie.

Sy konvooi ry deur strate vol slaggate en deur berge vullis. By die Pieter Swarts-gebied beloof hy 'n ANC sonder korrupsie.

Zacharias September sit op sy winkeltrollie met 'n bietjie tuingereedskap in en luister na pres. Cyril Ramaphosa waar hy Maandag mense in die Pieter Swarts-gebied in Mangaung, Bloemfontein, toegespreek het. September sê hy is bitter ongelukkig met die ANC. In 27 jaar het hy nog geen werk gehad nie en hy kry nou ook nie eens stukwerk nie. Foto: Charles Smith
Zacharias September sit op sy winkeltrollie met 'n bietjie tuingereedskap in en luister na pres. Cyril Ramaphosa waar hy Maandag mense in die Pieter Swarts-gebied in Mangaung, Bloemfontein, toegespreek het. September sê hy is bitter ongelukkig met die ANC. In 27 jaar het hy nog geen werk gehad nie en hy kry nou ook nie eens stukwerk nie. Foto: Charles Smith

Zacharias September sit op 'n winkeltrollie en luister stilswyend na die president.

Hy stoot die trollie met 'n paar stuks tuingereedskap rond en hoop vir tuinwerk. Dagin en daguit. Straatop en straataf. Hy kry min werk.

"In 27 jaar het ek nog niks werk gehad nie. Ek kan nie kos koop nie. Ek lewe van die kinders se Sassa-geld," sê September.

"Ek wil vir pres. Ramaphosa sê ons soek water in ons pompe, ons soek onse kinders in skole en in werk."

September oorweeg dit om vir die eerste keer nie vir die ANC te stem nie.

"In die 27 jaar wat ek ANC gestem het, het ek geen werk gekry nie. Ek is nie seker of ek vir die ANC gaan stem nie. Ek gaan óf vir die ANC óf EFF stem. Ek is baie teleurgesteld in die ANC."

Hy kan nie sy seun se geld vir kollege en sy dogter se busgeld betaal nie. Hy kan nie vir sy seun van tien jaar oud kos koop nie.

Dit is tyd vir 'n verandering, sê September.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM