"Al het die ANC se steun in Mpumalanga verminder, moet geen vuurwerk in die provinsie verwag word nie."
So het Theo Venter, politieke ontleder, Dinsdagaand gesê kort nadat sowat 55% van die stemme in Mpumalanga getel is.
Die ANC het loshande voorgeloop met 'n voorsprong in al die munisipaliteite en metro's. Dié party het toe reeds 151 van die 793 setels bekom en het 55,15% van die stemme in die provinsie op hom getrek.
Die EFF was tweede met 15 setels en 15,65% van die stemme, terwyl die DA in die derde posisie was met 33 setels en 14,04% van stemme.
Dit is een van die laaste plekke waar die ANC steun sal verloor. Die provinsie het ook nie groot stedelike sentrums soos in ander provinsies waar die ANC in die metro's steun verloor nie.
— Theo Venter
"In Mpumalanga sal kiesers eerder wegbly van die stembus as om vir 'n ander party te stem," sê Venter.
Die ANC het in 2011 met 78,03% van die stemme in Mpumalanga gewen, en in 2016 met 70,74%.
Die WNNR se voorspelling is dat die ANC egter vanjaar met slegs 60,6% van die stemme tevrede sal moet wees.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê hy is nie verras deur die ANC se uitslag in Mpumalanga nie. "Hy is nog sterk in die provinsie. Dit is een van die laaste plekke waar die ANC steun sal verloor. Die provinsie het ook nie groot stedelike sentrums soos in ander provinsies waar die ANC in die metro's steun verloor nie," sê hy.
Die ANC het ook Dinsdagaand loshande in die Mbombela-metro voorgeloop. Toe sowat 39% van die stemme in Mbombela getel is, het die ANC koning gekraai met 'n allemintige 69,53% van die stemme.
Die EFF was tweede met 15,82% van die stemme, terwyl die DA 9,90% van die stemme gehad het.
Daar is egter nog geen setels in die metro aan enige party toegedien nie.
In die Nkomazi-munisipaliteit was die ANC ook loshande voor. Met byna die helfte van die stemme (49,15%) wat getel is, het die ANC 73,23% van die stemme gehad met twee van die 65 setels in die munisipaliteit.
Ook hier was die EFF tweede met 12,37% van die stemme. Die DA was derde met 6,30%.
Die DA en EFF het in daardie stadium geen setels gehad nie.
In Emalahleni het die ANC met 50,06% van die stemme voorgeloop toe sowat 95% van die stemme getel is. Hy het ook reeds 23 van die 65 setels gewen. Die EFF was tweede (20,20% stemme met 0 setels), gevolg deur die DA (18,83% met ses setels).
Die ANC beheer sedert 2000 al die munisipaliteite en metro's in Mpumalanga.



















