Hoewel die meeste van sy eie kiesers die ANC as korrup beskou, sal hulle weer vir dié party stem of eerder van die stembus af wegbly omdat opposisiepartye dit nie regkry om ANC-kiesers se stemme te werf nie.
So het politieke ontleders Vrydag gesê oor 'n peiling wat onder meer wys verreweg die meeste Suid-Afrikaanse kiesers beskou die ANC as die korrupste van die land se drie grootste politieke partye.
Die navorsing is in aanloop tot die plaaslike verkiesings op 1 November vandeesmaand deur 'n onafhanklike onderneming gedoen in opdrag van Netwerk24 en in samewerking met News24, Rapport en City Press.
In die opname wat telefonies onder 1 824 mense gedoen is, is respondente gevra om te besluit of die woord "korrup" die beste by die ANC, die DA of die EFF pas.
Byna 70% van alle respondente sê die woord pas die beste by die ANC. Uit alle respondente sê 5,9% dat die woord die beste by die EFF pas en 2,3% by die DA.
Die verkiesingstrategie van apologie met die belofte van beter diens ná 1 November behoort die ANC weer oor 50% van die kiesers te kry op die proporsionele komponent van die verkiesing.
— Theo Venter
Boonop dink meer as 60% van die respondente wat ANC-kiesers is dat die ANC die korrupste party is.
Volgens Victory Research, wat die peiling gedoen het, is die sogenaamde foutmarge vir die peiling sowat 2,3%.
Die opname was verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse bevolking in sy geheel omdat daar van sewe aanduiders gebruik gemaak is om mense in te sluit, onder meer ras, geslag en taal.
Prof. Christi van der Westhuizen, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, glo opposisiepartye het in hul verkiesingsveldogte 'n kans deur hul vingers laat glip omdat hulle nie meer op die kwessie van korrupsie in die ANC-regering gehamer het nie.

"Die DA en die VF Plus het die naaste daaraan gekom om op die korrupsieprobleem in die ANC te kapitaliseer. Hulle moes egter meer besonderhede gee oor hoe hulle van plan is om die swetterjoel munisipaliteite wat in 'n vervalle toestand is, skoon te maak," sê sy.
Volgens haar is die tendens in vorige verkiesings waargeneem dat ANC-kiesers eerder van die stembus sal wegbly as om vir 'n ander party te stem.
"Dit is omdat die opposisiepartye dit nie regkry om hulle te oortuig nie."
Theo Venter, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die plaaslike verkiesings is eintlik op 'n paradoksale manier 'n verkiesing van die ANC teen homself.
"Die verkiesingstrategie van apologie met die belofte van beter diens ná 1 November behoort die ANC weer oor 50% van die kiesers te kry op die proporsionele komponent van die verkiesing," sê Venter.
Hy dink dat die sterk menings wat in die peiling deur sowel ANC-kiesers as -niekiesers uitgespreek word, meer as blote persepsie is. Dit word deur die optrede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), die openbare beskermer (OB), die ouditeur-generaal (OG) en die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping bevestig.
Dr. Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder, sê hoewel die ANC belangrike stappe gedoen het om korrupsie te takel, is daar nog nie genoeg gedoen om die probleem uit te roei nie.
Hy dink egter ook dat die ANC sy kiesers sal kan oortuig om aan hom 'n tweede kans te gee, hoewel dienslewering nie noodwendig gaan verbeter nie.



















