Beurtkrag sal nie verkiesings ontwrig – Gordhan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto ter illustrasie. Foto: Reuters
Foto ter illustrasie. Foto: Reuters

Die regering doen saam met Eskom alles moontlik om te verseker dat beurtkrag teen die naweek opgeskort word voordat kiesers Maandag landwyd hul kruisies in stemlokale in die plaaslike verkiesings gaan trek, sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Hy het Woensdagaand gepraat op 'n nuuskonferensie wat haastig byeengeroep is, en gesê "ons is tans op vlak 4 weens die ineenstorting van verskeie eenhede by die opwekkingsaanlegte. Daar is ook vertragings met die terugkeer van eenhede wat uit diens gestel is vir instandhouding."

Vroeër die dag het die ANC ook "ondubbelsinnige antwoorde" oor die stand van kragverskaffing by Gordhan en André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, geëis.

"Sowat 2 000 megawatt (MW) krag sal oornag herstel word. Dan sal die stelsel waarskynlik van vlak 4 na vlak 3 afgegradeer word," het Gordhan gesê.

Tensy iets onverwags gebeur, sal daar nie beurtkrag op verkiesingsdag wees nie. Eskom en die regering doen alles moontlik om te verseker dat die verkiesings sonder ontwrigting kan voortgaan.

—  Pravin Gordhan

Vrydag behoort "nog 'n paar duisend megawatt" weer aanlyn te kom, wat tot 'n waarskynlike afgradering na vlak 2 sal lei.

"Tensy iets onverwags gebeur, sal daar nie beurtkrag op verkiesingsdag wees nie. Eskom en die regering doen alles moontlik om te verseker dat die verkiesings sonder ontwrigting kan voortgaan," het hy gesê.

Volgens Gordhan het die Verkiesingskommissie (OVK) beligtingstoerusting aangeskaf vir stemlokale wat buite Eskom se toevoergebiede val. Kragopwekkers en tegnici sal ook gereed wees om by enige stemlokaal ingespan te word indien nodig.

Uitslagsentrums sal ook oor die nodige kragopwekkers beskik.

"Skandeerders by stemlokale word vooraf gelaai en het 'n batterylewe van 12 uur," sê Gordhan.

Meer as 100 mobiele kragopwekkers is beskikbaar gestel wat Maandag by enige van die stemlokale ontplooi kan word.

"Dit is duidelik dat 'n gebrek aan elektrisiteit nie die verkiesings sal ontwrig nie," het hy gesê.

Gordhan het op die konferensie ook aan politieke partye om verskoning gevra vir "die angs wat die beurtkrag voor die verkiesings veroorsaak het".

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, het vroeër Woensdag gesê die plan is om alle beurtkrag "teen Saterdag op die laatste" op te skort.

Mantshantsha het gesê eenhede by Medupi, Kusile en Matla het in die afgelope 24 uur vanlyn gegaan, terwyl Eskom gedwing is om eenhede by die Lethabo- en Arnot-steenkoolkragstasie af te skakel.

Dié vyf eenhede beskik gesamentlik oor 3 168 megawatt (MW) se opwekkingsvermoë, wat skielik van die netwerk afgehaal is.

"Eenheid 1 by die Koeberg-kragstasie behoort teen Donderdag weer te begin opwek en sal teen Saterdagoggend teen volle kapasiteit kan werk. Die vyf ander eenhede sal ook weer terugkeer. Dit sal ons in 'n posisie plaas om beurtkrag Saterdag en hopelik vir nog 'n paar weke op te skort," het hy gesê.

Eskom het Woensdag aangekondig dat fase 4-beurtkrag van 12:00 af sal geld. Fase 4 sal tot Vrydag om 05:00 duur, waarna teruggeskakel sal word na fase 2. Volgens Eskom sal dit in hierdie stadium tot Saterdag om 05:00 geld.

"Natuurlik is daar geen waarborge nie, maar Eskom doen alles in sy vermoë om beurtkrag teen Saterdag op te skort," het hy gesê.

Intussen het Fred Nel, Gautengse voorsitter van die DA, gesê die party is bekommerd oor die impak van moontlike beurtkrag op stemlokale en veral op die selfoonnetwerke. "Die OVK se nuwe tablette moet gekoppel wees aan die netwerke om behoorlik te kan werk. Ons vrees dat dit die stemproses sal vertraag as dit gebeur en dat kiesers gaan wegdraai as hulle lank in toue moet staan.

"Die tablette moet ook naby kragpunte wees sodat die batterye gelaai kan word. Beurtkrag is dus 'n groot risiko," het Nel gesê.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê Eskom moet dringend verduidelik wat die plan is om iets te doen aan die voortdurende beurtkrag en die ineenstorting van sy opwekkingsvermoë.

"Verskonings is nie meer goed genoeg nie. Wat is die plan om te keer dat die onderbrekings die ekonomie doodmaak? En as daar 'n plan is, hoekom werk dit nie?" het Bredell gevra.

Op sy beurt het die ANC gesê hy is bekommerd oor beurtkrag en meen dit kan doelbewus geïmplementeer word vir "politieke doeleindes".

"Die jongste ronde van beurtkrag kom ondanks 'n verbintenis deur die uitvoerende hoof om iets te doen aan beurtkrag en die ontwrigting van kragtoevoer teen middel Oktober," het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Woensdag in 'n verklaring gesê.

Volgens Mabe is die party ook bekommerd oor die impak van beurtkrag op duisende matrieks wat hul eindeksamen moet aflê.

"Gegewe die teenstrydigheid in inligting en versekerings wat van die nutsmaatskappy ontvang word, is die ANC baie bekommerd dat die dade die doelbewuste optrede van sommige mense binne Eskom vir politieke doeleindes kan wees."

Mabe het gesê die ANC eis "ondubbelsinnige antwoorde" oor die huidige stand van kragverskaffing.

Brett Herron, Good se burgemeesterskandidaat in Kaapstad, het gesê "sedert die bekendstelling van sogenaamde beurtkrag 13 jaar gelede, moes Suid-Afrikaners 'n oënskynlik eindelose sepie van planne, beloftes, skurke, redders en blaam verduur".

"Besluitneming in die land se energiesektor moet meer toepaslik gekwalifiseerde kundiges betrek," sê Herron. "Dit moet mense wees met kwalifikasies buite partypolitieke lojaliteit. Mense wat omgee vir die klimaat en maatskaplike geregtigheid."

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê hy hoop Eskom en die OVK kom hul ooreenkoms na aan Suid-Afrikaners wat wil stem. "Beurtkrag kan 'n vrye en regverdige verkiesing bedreig," sê hy.

SPELETJIES VANDAG

CTA