Met byna 35% van die uitslae vir Noordwes wat teen Dinsdagmiddag geverifieer is, het die DA vier wyke by ander partye afgerokkel en een afgestaan.
Die VF Plus kon nog nie daarin slaag om nader te kruip aan sy mikpunt om sy vier wyke tot agt in die provinsie te verdubbel nie. Dié party het trouens wyk 5 in Potchefstroom aan die DA afgestaan.
Heinricha Hodgson, 'n plaaslike prokureur, was die DA se wykskandidaat hier. Die DA het al sy wyke in Potchefstroom behou.
In Wolmaransstad het die DA egter 'n wyk aan die ANC afgestaan. In die Brits-omgewing (Madibeng) en in Rustenburg het die DA weer 'n wyk in elk van dié munisipaliteite van die ANC afgeneem, terwyl die party 'n wyk in Coligny van die EFF afgeneem het.
Die ANC was teen Dinsdagmiddag, soos verwag, nog los voor met sowat 54% van die steun oor die provinsie heen. Sy steun in die onderskeie munisipaliteite het tussen 50% en 70% gewissel, met enkele uitsonderings, soos J.B. Marks, waar die ANC se steun byna 43% was.
Die VF Plus kon nog nie daarin slaag om nader te kruip aan sy mikpunt om sy vier wyke tot agt in die provinsie te verdubbel nie.
Dié munisipaliteit, wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, asook die Rustenburg-munisipaliteit is die waarskynlikste in Noordwes wat uiteindelik deur 'n koalisieregering gelei sal word, meen prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU).
Die ANC het in die 2016-verkiesing net onder die 60%-steun in Noordwes geniet.
Duvenhage meen die DA se mikpunt om sy steun in die 2016- munisipale verkiesings van 15% in Noordwes tot 17% op te stoot, is haalbaar inaggenome dat die DA teen Dinsdagmiddag landwyd beter as verwag presteer.
"Ek twyfel of die VF Plus daarin sal slaag om sy getal wyke in Noordwes tot agt te verdubbel, maar hy kan dalk 'n wyk of twee êrens bykry."
Die VF Plus het in die 2016- munisipale verkiesings byna 2% steun in Noordwes gehad.
Die VF Plus het in die 2016- munisipale verkiesings byna 2% steun in Noordwes gehad.
Duvenhage sê die rassedebakel wat hom vroeg in 2019 in Schweizer-Reneke afgespeel het en die DA daar steun gekos het, is nou in 'n groot mate uitgespeel.
"Diegene wat toe van die DA na die VF Plus geskuif het, het klaar geskuif. Die DA se verkiesingsveldtog was baie sterker as dié van die VF Plus. Die VF Plus het nie werklik leiers en name na wie mense in Noordwes opkyk nie."
Duvenhage meen die Afrikaanse elite vereenselwig hulle oor die algemeen nie met die VF Plus nie. "Dié party slaag nie werklik daarin om na denkende leierskap deur te breek nie. Hy dra nog die bagasie van die vorige bedeling en kon nog nie daarin slaag om homself bo verdenking te definieer nie."
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het wel begin om die party te vernuwe en reik uit na bruin gemeenskappe, maar groter verandering is nodig (vir verdere groei), meen Duvenhage.
Hy sê die groot rede waarom die ANC sy steunbasis in Noordwes, ondanks munisipaliteite hier se vrot diensterekord, grootliks behou, is omdat daar in talle landelike gebiede nog 'n gebrek aan 'n sterk middelklas is.
"In sowel J.B. Marks as Rustenburg is daar 'n groter stedelike middelklas as gevolg van onderskeidelik die universiteit en mynhuise. Ons kan daarom hier veranderinge verwag."
• Die EFF was in 2016 met 15,54% van die steun - 'n raps meer as die DA s'n - die amptelike opposisie in Noordwes. Teen Dinsdagmiddag het die EFF 15,7%, die DA 12,6% en die VF Plus 6,47% van die steun in Noordwes gehad.





















