Die toepassing van reg en orde is belangrik om die Nelson Mandelabaai-metro 'n skoner plek te maak, sê Nqaba Bhanga, uitvoerende burgemeester van die metro.
Hy het Dinsdag die "gesondheid-pilaar" van die DA se verkiesingsmanifes vir die komende plaaslike verkiesings in 'n openbare park in Neavestraat, Schauderville, bekend gestel. Die munisipaliteit het die park opgeknap en skoongemaak.
"Mense stort onwettig vullis op al ons openbare plekke. Dis inwoners en sakeondernemings wat byvoorbeeld klippe en boumateriaal stort. Ons gaan dié mense vind en in hegtenis neem. Ons gaan seker maak mense tree volgens die munisipale verordeninge op. Hulle gaan swaar boetes opgelê word."
Volgens Bhanga gaan die DA ook die verordeninge oor onwettige storting hersien en 'n taakmag teen onwettige storting stig om te verseker mense gehoorsaam dié regulasies.

As die DA 'n meerderheid in die metro behaal, gaan die party ook vullisverwydering in arm gebiede twee keer pleks van een keer per week doen om onwettige huishoudelike vullisstorting hok te slaan.
"Daar is party huishoudings waar baie gesinne woon en al hul vullis word dan een keer per week verwyder. Dis egter nie genoeg nie."
Daarom gaan die party ook meer gebruik maak van werkers van die program vir uitgebreide openbare werke om sodoende ook werk te skep.
Bhanga sê tariewe vir vullisverwydering sal nie buitengewoon styg as dit twee keer per week verwyder word nie. "Onwettige storting van huishoudelike vullis is 'n groot probleem in ons metro en baie duur om skoon te maak. Deur meer gereelde vullisverwydering sal ons die koste om onwettige stortingsterreine gereeld skoon te maak, kan sny. Ons gaan aanhou om ons gemeenskappe skoon te maak."
Volgens Bhanga gaan hulle ook opknappingswerk by die Baai se twee vername stortingsterreine (Arlington en Koedoeskloof) aanbring en ook sekerheid by die terreine opskerp.

Hy sê die Arlington-stortingsterrein is 'n groot bekommernis weens misdaad in die gebied. "Die helfte van die Baai se afval gaan na daardie stortingsterrein. Ons gaan die terreine opknap."
Hy sê die DA beplan ook om met gemeenskappe aan 'n herwinningsprogram te werk.
Die party sal ook voortgaan om openbare plekke soos parke en ontspanningsgeriewe te vestig en "mooi te maak".
Volgens Bhanga het die DA die aantal emmerstelsels van sowat 16 000 tot sowat 6 000 verminder toe die party in 2016 in die metro aan die bewind gekom het.
Van Augustus 2018 tot Desember 2020 is die metro deur 'n koalisie tussen die ANC en EFF regeer.
Daarna het die DA weer deur 'n koalisie die meerderheid in die raad behaal.
"Ons gaan die emmerstelsel heeltemal uitroei in die Baai en skoon en veilige water verskaf," sê Bhanga.
"Ons manifes bevat regte oplossings en strategieë, maar ons kan dit net bereik as ons die verkiesing met 'n volstrekte meerderheid wen."




















