Verkiesing 2021

DA het ‘vrees geskep’, sê Lennit Max

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lennit Max Foto: Jaco Marais
Lennit Max Foto: Jaco Marais

Die DA is sterk op dreef om sy meerderheid in Kaapstad te behou, maar Lennit Max, die Vryheidsfront Plus (VF) se kandidaat vir burgemeesterskap, meen sy vorige party het net die voortou geneem omdat sy kieserskorps skepties is oor die "radikale planne" van ander partye.

"Selfs ek sou vir die DA stem as ek 'n gewone kieser was. Die DA het vrees geskep - vrees vir wat kan gebeur as die ANC, die EFF of Good beheer van die metro sou neem. Mense wil nie behuising in die middestad hê of die kaping van geboue soos wat jy in ander metro's sien nie. Hulle wil 'n skoon en aantreklike stad, toerisme en werk hê."

Teen Woensdag laatoggend het VF 1,72% van die stemme in die stad gelok. Dit is meer as die 0,41% in 2016.

Max het gesê hy is tevrede met die resultaat en het daarop gewys dat hy net twee weke gehad het om sy veldtog op dreef te kry nadat hy as die party se burgemeesterskandidaat aangewys is.

Hy het voorheen aan News24 gesê die VF poog om die belange van die minderheidsgroepe te verteenwoordig, "insluitend Afrikane wat in ons waardes glo".

Selfs ek sou vir die DA stem as ek 'n gewone kieser was. Die DA het vrees geskep - vrees vir wat kan gebeur as die ANC, die EFF of Good beheer van die metro sou neem.

Die party staan volgens hom vir "gelyke geleenthede gegrond op meriete" en hulle verwerp die beleid van regstellende aksie.

Hy het die party se toewyding aan die beëindiging van werkloosheid benadruk, asook die agterstand van behuising en misdaad.

"Dit is duidelik dat ons boodskap met kiesers resoneer. In die baie kort tyd wat ons aan ons veldtog in die metro bestee het, is die resultaat oorweldigend, baie beter as wat ons verwag het."

Die party het nie op 'n spesifieke rassegroep gefokus nie, maar wou wanopvattings uit die weg ruim met die boodskap dat die VF mense van alle demografie-groepe verwelkom.

"Ek het daarop gefokus, veral by die bruin mense wat uit onkunde dink dat ons nie ook vír hulle is nie. Dit is my verantwoordelikheid om mense te laat besef ons staan vir almal.

"As ek meer tyd gehad het, sou die party beter gevaar het. Maar ons gaan dit gebruik as 'n wegspringplek vir 2024. Ek gaan hard werk om te verseker ons kry meer setels in die provinsiale wetgewer."

Tammy Petersen, News24

CTA