Patronaatskap, nepotisme en selfverryking moet deur alle partye in 'n koalisie-regering in munisipaliteite vermy word.
Dít is een van die DA se 11 waardes en voorwaardes in 'n voorlopige koalisie-ooreenkoms wat dié party opgestel het en wat enige party moet onderteken om in koalisie-regering met die DA in 'n munisipale raad te gaan.
Die DA was Vrydag, soos ander politieke partye, die ANC ingesluit, reeds druk besig met koalisie-gesprekke óf beplanning daarvan.
Dit volg nadat geen party Maandag 'n volstrekte meerderheid in 66 munisipaliteite kon kry nie. Koalisie-regerings vir dié onbesliste rade moet binne 14 dae ná Donderdagaand saamgestel word.
Dié onbesliste rade sluit in die grootste metro's in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, asook ander munisipaliteite oor die land heen, die Wes-Kaap ingesluit.
In Johannesburg het die ANC en DA onderskeidelik net 33,60% en 26,47% van die verkiesingsteun gekry, in Tshwane 34,31% en 32,34%, in Ekurhuleni 37,19% en 28,72%, in eThekwini (Durban) 42,02% en 25,62% en in Nelson Mandelabaai 39,43% en 39,92%.
Die EFF is in almal, behalwe Johannesburg, die derde grootste party.

Herman Mashaba se ActionSA is op twee na die grootste party in Johannesburg en weier enige koalisie met die ANC.
Dumisane Magagula, hoofsekretaris van die munisipale werkersvakbond Samwu, het Vrydag in 'n verklaring gevra dat politieke partye in hul koalisie-gesprekke hul verskille opsy moet plaas met die oog op stabiele munisipale regerings wat op inwoners en munisipale werkers se behoeftes kan reageer.
Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand met die Verkiesingskommissie (OVK) se uitreiking van die amptelike verkiesingsuitslae vir dieselfde gevra ter wille van 'n "nuwe en beter era" vir munisipaliteite.
Bantu Holomisa, UDM-leier, meen daar sal groter voordele vir Suid-Afrika wees as die ANC en DA as koalisievennote saamwerk waar hulle die twee grootste partye is.
Prof. Jaap de Visser, direkteur van die Dullah Omar-instituut aan die Universiteit van Wes-Kaapland, stem saam dat 'n koalisie-ooreenkoms tussen die ANC en DA "op papier meer stabiel sal wees as een met baie meer koalisie-vennote". Hy meen egter dat die "geskiedenis" tussen dié twee partye so 'n ooreenkoms "ingewikkelder" maak.
De Visser waarsku ook dat daar in koalisie-gesprekke ook nie probeer moet word om aan alle eise van sogenaamde "koningmaker"-partye te wil voldoen nie, omdat dit "ondemokraties en teen die wil van kiesers kan wees".
Ramaphosa en die ander ANC-topsesleiers het Vrydagoggend ook vergader om die ANC se koalisie-benaderings te bepaal na dié party se swakste vertoning nog. Die ANC se uitgebreide nasionale werkskomitee vergader ook Sondag verder daaroor.
Paul Mashatile, ANC tesourier-generaal, het Vrydag aan eNCA gesê die ANC sal met enige ander party saamwerk in koalisies om op dienslewering te fokus. Die ANC glo egter die party met die meeste stemme in 'n munisipaliteit moet eerste kans kry om so 'n koalisie-regering saam te stel.
Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder, het Vrydag gesê John Steenhuisen, DA-leier, voer reeds koalisie-gesprekke met verskeie partye.
Oor of die DA met die ANC sal saamwerk, het Gwarube gesê die DA is bereid is om met enige party te onderhandel wat die waardes en voorwaardes soos uiteengesit in hul voorlopige koalisie-ooreenkoms, deel.
Nóg 'n DA-voorwaarde is dat alle koalisielede moet probeer om korrupsie en wanadministrasie in munisipaliteite uit te roei en hulle "nie-onderhandelbaar" te verbind tot die oppergesag van die reg en konstitusionalisme.
Wouter Wessels, verkiesingshoof van die Vryheidsfront Plus, wat nie in koalisies met die ANC of EFF belang stel nie, het Vrydag gesê die party het op leiersvlak reeds met ander partye gepraat. Die betrokke partye se taakspanne vergader volgende week verder daaroor.
Die IVP maak Sondag sy besluite oor moontlike koalisies op 'n nuuskonferensie bekend.
Eugene Botha, nasionale hoof van regsake van die Patriotic Alliance, wat 75 munisipale setels verower het, het gesê dié party het reeds 'n paneel saamgestel om op enige koalisie-versoeke te reageer.
Die EFF het vroeër aangedui dat enige party wat hom nader vir koalisies hul uitvoerende poste soos dié van burgemeesters, speakers en lede van burgemeesterskomitees sal moet aanbied.
Ander waardes en voorwaardes
Die DA se voorlopige koalisie-ooreenkoms stippel verder uit dat 'n kultuur van aanspreeklikheid, deursigtigheid en goeie regering die grondslag sal vorm van alle werk wat in 'n munisipaliteit verrig moet word.
Dit lui verder dat alle voornemende koalisielede:
• Die waarde van oopheid erken en die toeganklikheid van inligting aan inwoners van die munisipaliteit sal verseker;
• Toeganklik sal wees en reageer op alle inwoners van die munisipaliteit;
• Die skeiding tussen party en staat streng sal nakom;
• Insluiting, regstelling en versoening in die munisipaliteit sal beywer;
• Sal poog om geleenthede vir almal uit te brei en enige vorm van ras-, geslags- en ander kwota's sal teenstaan;
• Nierassigheid sal handhaaf;
• Sal verseker dat die munisipaliteit gedryf word deur die strewe na uitnemendheid, dit sluit meriete-gebaseerde aanstellings in en beleid wat gelei word deur bewyse en die objektiewe in die ooreenkoms; en dat
• Geen party tot hierdie ooreenkoms enige ander koalisie sal aangaan wat nie met dié ooreenkoms strook nie.






