2021

Daarom sal hy met DA saamwerk, sê Mashaba

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Herman Mashaba, leier van ActionSA, en Patricia de Lille, Good-leier, gesels ná verlede week se plaaslike verkiesings in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt
Herman Mashaba, leier van ActionSA, en Patricia de Lille, Good-leier, gesels ná verlede week se plaaslike verkiesings in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Sy persoonlike verhouding met die DA "behoort tot die verlede", sê Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester wat nou die leier van ActionSA is.

Mashaba het soos Mmusi Maimane, die vorige DA-leier, ná die algemene verkiesings in 2019 uit die DA bedank.

Hy het egter Dinsdag op 'n mediakonferensie van sy party in Johannesburg gesê ActionSA is bereid om onder die omstandighede op professionele vlak met die DA saam te werk.

Die oorgrote meerderheid van die 17 500 mense wat aan ActionSA se meningspeiling oor koalisies deelgeneem het, het in elk geval aangedui dat sy party met die DA moet saamwerk "maar nie tot elke prys nie", het Mashaba gesê.

Hy het ontken dit is een van sy party se voorwaardes vir 'n koalisie in Johannesburg dat hy die burgemeester moet word.

"Ons is hier om te dien en nie om poste te beklee nie. As ons nie deel van 'n koalisieregering is nie, sal ons deel van die opposisie wees, en ons in dié tyd voorberei op die volgende algemene verkiesings in 2024 om die ANC te onttroon."

Mashaba het onder meer uit die DA bedank nadat Helen Zille tot voorsitter van die federale komitee verkies is.

Hy het aangevoer dat haar verkiesing 'n oorwinning vir mense in die DA is wat ander waardes as hy het.

Die DA het 'n voorstel op die tafel geplaas oor 'n stabiele regering om dienste aan die inwoners van Tshwane te lewer. My reaksie was hoekom sluit ons nie Johannesburg en ander plekke ook in nie?

John Moodey, Gautengse leier van ActionSA en een van dié party se koalisie-onderhandelaars, sê ActionSA het verlede Vrydag "op kort kennisgewing" 'n versoek van die DA vir 'n vergadering ontvang.

Hy en Abel Tau, ook 'n ActionSA-onderhandelaar en dié party se burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro, het hierop 'n vergadering met twee van die DA se onderhandelaars, Zille en Thomas Walters, gehad.

"Dit was hoofsaaklik 'n gesprek om die kommunikasiekanale tussen ons te open. Dit was 'n baie kort vergadering.

"Die DA het 'n voorstel op die tafel geplaas oor 'n stabiele regering om dienste aan die inwoners van Tshwane te lewer. My reaksie was hoekom sluit ons nie Johannesburg en ander plekke ook in nie?

"Daarom was ek vanoggend verras om in die media te verneem dat die DA geen probleem met Herman Mashaba as burgemeesterskandidaat in Johannesburg het nie. Dit is nie eens op daardie vergadering geopper nie," het Moodey gesê.

In Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni kon geen party verlede week 'n volstrekte meerderheid behaal nie. Koalisies of politieke samewerkingsooreenkomste is dus nodig.

Deur met die ANC 'n koalisie te vorm sal daarop neerkom dat hulle by die agterdeur inkom. Dit sal misdadig wees.

Moodey sê ActionSA is ook met die EFF, die African Independence Party (AIC) en die ACDP in gesprek. 'n Samesprekings sal ook Dinsdag met die Inkatha-vryheidsparty (IVP) en Cope gehou word.

ActionSA het vroeër reeds besluit hy sal nie met die ANC gesprek voer oor moontlike samewerking nie. Dit is sy doel om die ANC in die volgende algemene verkiesings in 2024 uit die kussings te lug.

"Deur met die ANC 'n koalisie te vorm sal daarop neerkom dat hulle by die agterdeur inkom. Dit sal misdadig wees," het Mashaba gesê.

Die VF Plus het vroeër gesê hy is ook bereid om met ActionSA gesprek te voer.

Moodey sê ActionSA was nie beïndruk met die EFF se voorstelle nie, maar bestudeer nog die voorlegging wat dié party sedertdien aan ActionSA gestuur het.

Michael Beaumont, voorsitter van ActionSA, sê dié party sal slegs onder streng voorwaardes deel van koalisies wees. Daar moet onder meer behoorlike en deursigtige ooreenkomste wees.

As geen koalisies gevorm kan word nie, sal verlede week se verkiesing kragtens wet nietig verklaar en 'n nuwe verkiesing uitgeroep word.

Hieroor het Mashaba gesê dit is nie wat ActionSA wil hê nie - onder meer om begrotingsredes. Maar as dit gebeur, is daar niks wat ActionSA daaraan kan doen nie.

So staan sake in Johannesburg

In Johannesburg het die ANC 33,6% (91 setels) van die stemme gekry, die DA 26,14% (71 setels), ActionSA 16,05% (44 setels), die EFF 10,63% (29 setels), die Patriotic Alliance 2,93% (agt setels), die IVP 2,36% (sewe setels), die VF Plus 1,34% (vier setels), die ACDP 1,05% (drie setels), die AIC 0,59% (twee setels) en Good 0,37% (een setel).