Met die drag slae wat die ANC in verlede week se plaaslike verkiesings gekry het, kan die politieke speelveld in die Vrystaat en Noord-Kaap verander, skryf Theo Neethling.

Op Maandag 1 November het 45% van die 1 413 158 geregistreerde kiesers in die Vrystaat hul stemme in die munisipale verkiesings uitgebring. Dit was ongeveer 11% minder as in die 2016-verkiesings. In die Noord-Kaap het amper 54% van die 622 746 geregistreerde kiesers gestem, wat ietwat minder is as die 61% in 2016.
Die vraag is watter perspektiewe ons uit die verkiesings in dié twee provinsies kan neem.
Vrystaatse ANC
Wat die regerende ANC in die Vrystaat betref, het die party duidelik deurlopende agteruitgang beleef sedert die vorige munisipale verkiesings in 2011 en 2016. Waar dié party sedert 1994 vir twee dekades kragtige vertonings by die stembus gelewer het met 72% in 2000, 76% in 2006 en 71% in 2011, was die ANC sedertdien in 'n duidelike afwaartse kurwe. Dié party het immers 61% in die vorige munisipale verkiesings van 2016 behaal, wat nou afgeskuif het na net meer as 50% in die 2021-uitslae. Dit kom neer op 'n afname in kiesersteun by die stembus van meer as 20% sedert 2000. Omdat dit 'n landwye tendens is, meen sommige waarnemers tereg dat dit die begin van die einde van die ANC kan inlui.

Vir ANC-leiers met visie moet die afname in kiesersteun en spesifiek die jongste afname van 11% sedert 2016 as uiters kommerwekkend en 'n groot skok beleef word. Die ANC se enigste ligpunt is dat die party steeds die meerderheid van munisipaliteite in die Vrystaat - met die uitsondering van vier - met 'n volstrekte meerderheid gaan regeer en waarskynlik nie tot enige opposisierolle afgeskaal gaan word nie. Die afname in volstrekte meerderhede is nou egter drie munisipaliteite meer as met die 2016-verkiesings, toe die ANC slegs in Metsimaholo (Sasolburg) nie 'n volstrekte meerderheid kon behaal nie. Die drie bykomende munisipaliteite is Maluti-a-Phofung (Phuthaditjhaba), Moqhaka (Kroonstad) en Nala (Bothaville).
Die ander
Die DA in die Vrystaat het met sy steun van amper 19% effens swakker gevaar as die 20% wat die party in 2011 asook die 2016-verkiesing behaal het. Wat die EFF betref, het dié party in 2016 tot die munisipale vlak as 'n rolspeler toegetree met amper 10% van die totale provinsiale stemme op hom verenig. Nou staan die party effens sterker op 12%. Dit maak van die EFF egter steeds nie 'n groot party nie, maar ook nie onbelangrik nie. Met tussen 4% en 5% staan die VF+ ook effens sterker as in 2016 en albei partye kan hulle in die munisipale rade laat geld.
Mangaung
Wat verder interessant is, is dat die ANC se steun ook in die Mangaung-metro 'n verdere afname toon, naamlik van 66% in 2011 tot 56% in 2016 en nou net meer as 50% met die jongste uitslae. Ook hier het die ANC nou duidelik 'n 50%-party geword. Dit bring die partyleierskap in alle opsigte voor groot uitdagings te staan. Die tendens in Mangaung bevestig ook dat die ANC in die metropolitaanse gebiede landwyd onder stedelike kiesers veel minder sterk staan as in die afgelope twee dekades en dat miljoene tradisionele ondersteuners van die ANC - ook in die Vrystaat - hul politieke verbintenis met die ANC begin bevraagteken of vertroue verloor het in die party.
In 2016 kon die EFF in Mangaung daarin slaag om ANC-steun af te rokkel as 'n mens die party se destydse steun van meer as 8% in ag neem. Nou met die party se 11% in die 2021-verkiesing is sake 'n stap verder gevoer. Die DA het op 25% min of meer in Mangaung stilgestaan sedert die 2016-verkiesings en die party kon nog nie weer sy 27% van 2011 ewenaar nie.
Nuwe verwikkelinge
Tog het die DA in verskeie Vrystaatse munisipaliteite relatief goed gevaar deur meer as 20% van die steun op hom te verenig. Dis naamlik in Matjhabeng (Welkom), Moqhaka (Kroonstad), Metsimaholo (Sasolburg), Nala (Bothaville), Masilonyama (Theunissen) en Mantsopa (Ladybrand). In Maluti-a-Phofung (Phuthaditjhaba) is die gemeenskapsgebaseerde MAP16 verrassend nou met 28% die tweede grootste party en in en Setsoto (Ficksburg) is nog 'n gemeenskapsgebaseerde party, die SSDF, ook in die tweede plek met 22%. Dit is interessante nuwe verwikkelinge. In etlike plattelandse gebiede in veral die meer suidelike dele van die Vrystaat staan die ANC egter steeds baie sterk.

Noord-Kaap
Die Noord-Kaap het eweneens betekenisvolle uitslae opgelewer. Ook hier is die ANC in 'n afwaartse kurwe in die lig van die ongeveer 63% wat die party in die 2011 en 58% in die 2016- plaaslike verkiesings behaal het. Met net meer as 50% in die jongste verkiesingsronde is die afname in steun vir die ANC baie beduidend. Vir die eerste keer het die party se steun tot 'n skrale meerderheid gedaal. Die ANC het weliswaar nie 'n enkele munisipaliteit afgestaan nie, maar in etlike munisipaliteite is daar nie volstrekte meerderhede behaal nie, naamlik Richtersveld, Nama Khoi, Hantam, Karoo Hoogland, Kai !Garip, !Kheis, Kareeberg, Siyathemba, Gamagara, Kgatelopele en Thembelihle.
Met amper 25% van die steun in 2016 op hom verenig, was die DA se algemene prestasie in 2016 effens beter as in die vorige verkiesings. Die party kon ongeveer kwart van die algehele steun in die Noord-Kaap op hom verenig. Nou is die DA se kiesersteun egter af na net minder as 20%, wat die DA-leierskap bekommerd moet laat.
Soos in die Vrystaat, het die EFF in 2016 met 8% op die toneel verskyn wat nou in die 2021-verkiesings opgestoot is na meer as 10%. Ofskoon dit nie van die EFF 'n groot party maak nie, is die EFF wel daar om hom in sommige munisipaliteite in die komende jare te laat geld. Met net meer as 3% het die VF+ sy steun meer as verdubbel vanaf 1,5% in die 2016-verkiesings.
Sol Plaatje
In die belangrike Sol Plaatjie-munisipaliteit (Kimberley) het die DA in 2016 sy steun opgestoot vanaf 26% tot by amper 30%. Ook hier is die DA egter nou beduidend af na 20%, terwyl die EFF van 5% na 10% opgeskuif het.
Die DA het ook relatief goed gevaar met meer as 20% in Richtersveld, Springbok, Kamiesberg, Hantam, Karoo Hoogland, David Kruiper, iKheis, Gamagara en Renosterberg. In sommige munisipaliteite het hy egter steun afgestaan aan die EFF en ander kleiner gemeenskapsgebaseerde partye wat interessant genoeg nou in etlike munisipaliteite die grootste opposisiepartye uitmaak. Soos in die Oos-Vrystaat is dit 'n nuwe verwikkeling.
Speelveld kan verander
In die geheel gesproke het die verkiesings in die Vrystaat en die Noord-Kaap met min logistieke haakplekke gepaard gegaan en kan alle rolspelers grootliks tevrede voel met die wyse waarop die Verkiesingskommissie sake georganiseer het.
Talle nuutverkose lede kan hul plekke in munisipale rade inneem. Wat seker is, is dat die regerende ANC onder groter druk sal wees as ooit tevore om dienslewering beter te bestuur met die DA, EFF en ander kleiner partye wat hulle sterk kan laat geld as opposisie- en koalisiepartye.
So gesien, kan daar in die Vrystaat en die Noord-Kaap dalk nou nog verder wegbeweeg word van 'n politieke speelveld waar 'n enkele party domineer en waar die ANC baie meer bewus is van die risiko wat sy gebrekkige dienslewering vir die politieke oorlewing van die party inhou - veral teen die agtergrond van voorspellings dat die begin van die einde van die ANC begin aanbreek het.

- Prof. Theo Neethling is verbonde aan die departement politieke studie en regeerkunde van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.










