2021

EFF stippel voorwaardes uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sowat 30 EFF-lede het teen 09:30 in die parkeerarea van 'n winkelsentrum in Brackenfell bymekaargekom. Foto: Jaco Marais
Sowat 30 EFF-lede het teen 09:30 in die parkeerarea van 'n winkelsentrum in Brackenfell bymekaargekom. Foto: Jaco Marais (Jaco Marais)

Verbintenisse tot dienslewering met tydsraamwerke veral oor grond, werksgeleenthede, elektrisiteit, spoeltoilette, nierassigheid en geen inmenging in die aanstel van senior munisipale bestuurders nie.

Dié faktore vorm deel van die EFF se raamwerk van beginsels vir onderhandelings met ander politieke partye om koalisieregerings in sommige munisipaliteite tot stand te bring.

"In wese moet diegene wat die EFF nader, bereid wees om tot dié beginsels en algemene verbintenisse in te stem en dit te ondersteun," lui 'n verklaring van die party.

Die voorwaardes behels:

* Erkenning moet gegee word aan die party se sewe nie-onderhandelbare beginsels vir ekonomiese vryheid;

* Verbintenisse tot dienslewering met tydlyne veral oor grond, werksgeleenthede, water, elektrisiteit, spoeltoilette en die versorging van mense met gestremdhede;

* Nierassigheid - dit beteken dat 'n party wat 'n koalisie saam met die EFF vorm, "nie wit opperheerskappy of Afrikanerdom moet versterk nie";

* 'n Verstandhouding dat die EFF uitsluitlik in sekere munisipaliteite moet regeer in ruil vir ander. Waar dit die geval is, moet daar 'n ooreenkoms wees ten opsigte van toesigfunksies wat aan die koalisievennote gegee word;

* Geen inmenging in die aanstel van munisipale bestuurders en ander senior bestuurders nie;

* Die publikasie van alle vaste ooreenkomste wat met koalisievennote bereik is om 'n persepsie van geheime ooreenkomste te voorkom; en

* Konstante en eerlike gesprekvoering en terugvoering aan die mense oor vordering wat met koalisies gemaak word.

Volgens die EFF moet sy onderhandelingspan ook tydsraamwerke in plek plaas ten opsigte van onder meer die wysiging van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak; die skep van 'n staatsbank; die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank; die kansellering van studenteskuld; die skep van 'n farmaseutiese staatsmaatskappy; die verwydering van Die Stem uit die volkslied; klinieke wat elke dag 24 uur lank oop is; die voorsiening van sanitêre doekies; en die voorsiening van gratis water en elektrisiteit vir mense wat van staatstoelae afhanklik is.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, is as die sameroeper van die party se onderhandelingspan aangestel. Die ander lede is Veronica Mente, die nasionale voorsitter, Marshall Dlamini, sekretaris-generaal, Hlengiwe Mkhaliphi, Mbuyiseni Ndlozi en adv. Dali Tambo.

Koalisiegesprekke tussen die land se politieke partye en onafhanklike kandidate sal binnekort begin nadat geen politieke party daarin kon slaag om 'n volstrekte meerderheid in 66 munisipaliteite in Maandag se plaaslike verkiesings te behaal nie.

Dié regerings moet binne 14 ná Donderdagaand saamgestel word.

Die DA het reeds sy voorwaardes vir koalisievennote bekend gemaak, terwyl die ANC se topses-leiers onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa Vrydag oor dié party se benadering tot koalisies sal praat. Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vergader Sondag verder oor die kwessie.