Verkiesing 2021

Cyril skud sy kop oor vuil Bloem: ‘Ons sal dié soort raadslede uitgooi’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Cyril Ramaphosa en Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, Maandag op die ANC se verkiesingsveldtog in wyk 8 in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Pres. Cyril Ramaphosa en Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, Maandag op die ANC se verkiesingsveldtog in wyk 8 in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Korrupsie in munisipaliteite moet uitgeroei en dienslewering moet verbeter word.

Dít was Maandag pres. Cyril Ramaphosa se onderneming aan kiesers in Bloemfontein, waar hy as deel van die ANC se verkiesingsveldtog in drie verskillende wyke met inwoners gepraat het.

LEES OOK: 'Traai maar ons oumas, Cyril'

"Ek kan sien dat Bloemfontein baie vuil is en verswelg word deur plastieksakke, papiere, bottels en blikke.

"Raadslede sal moet toesien dat die stad skoongemaak word.

"Ons het raadslede nodig wat vir hul gemeenskappe werk. As hulle geld steel of vriende en families nooi om deel te neem aan korrupte kontrakte, sal ons vir hulle die deur oopmaak en hulle uitgooi," het Ramaphosa op Dumaplein agter die Pelonomi-hospitaal gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa se gesig pryk op ANC-T-hemde. Hy het Maandag kiesers in drie wyke in Bloemfontein toegespreek. Foto: Mlungisi Louw
Pres. Cyril Ramaphosa se gesig pryk op ANC-T-hemde. Hy het Maandag kiesers in drie wyke in Bloemfontein toegespreek. Foto: Mlungisi Louw

'n Groot skare het hier ure lank in die warm son op hom gewag terwyl oorverdowende musiek gespeel en ANC-regalia op straat gesmous en vurig onder mekaar oor munisipale dienste gekla is.

Hier in wyk 3, waar Tshepiso Machachamisa as ANC-wykskandidaat staan, het inwoners gekla oor HOP-huise wat aan hulle beloof is, maar wat hulle nog nie gekry het nie, huise wat so vervalle is dat 'n mens deur die krake in die mure kan kyk en die stowwerige omstandighede waarin hulle woon omdat die strate nie geteer is nie.

Ramaphosa het gesê van die nuwe raadslede gaan verwag word om die water-, elektrisiteits- en padinfrastruktuur-probleme op te los.

Ramaphosa het ook 'n beroep om eensgesindheid in die ANC gedoen.

"Die ANC moet leer om saam te werk, korrupsie te beveg en op te hou om met mekaar te baklei."

Op Dumaplein in Bloemfontein is daar selfs op 'n glyplank baljaar terwyl die skare ure lank in die warm son op pres. Cyril Ramaphosa gewag het. Foto: Mlungisi Louw
Op Dumaplein in Bloemfontein is daar selfs op 'n glyplank baljaar terwyl die skare ure lank in die warm son op pres. Cyril Ramaphosa gewag het. Foto: Mlungisi Louw

Hy wil hê burgemeesters moet só lei dat dit nie vir inwoners nodig is om te betoog nie. "As daar protesoptrede en betogings in 'n munisipaliteit is, kan die werk nie gedoen word nie."

Hy het erken dat die ANC foute gemaak het, maar het gesê die foute is reggestel en daar is lesse daaruit geleer.

"Die ANC is die enigste party wat jul lewensomstandighede kan verbeter," het hy gesê, maar van die inwoners was briesend oor wat hulle beskou as leë verkiesingsbeloftes.

Themba Zweni, leier van die groep Mangaung Concerned Community (MCC), het Ramaphosa ten tyde van sy besoek in 'n ope brief gevra om die Mangaung-metroraad te ontbind.

"MCC verwelkom u in die stad wat die lewe geskenk het aan twee politieke partye wat die land regeer het, naamlik die Nasionale Party en die ANC.

Pres. Cyril Ramaphosa Maandag op die ANC se verkiesingsveldtog in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Pres. Cyril Ramaphosa Maandag op die ANC se verkiesingsveldtog in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

"Die stad, wat as die Rosestad bekend was, is vandag net 'n skaduwee van sy glorieryke verlede. En ons is absoluut seker dat die afstammelinge van Bram Fischer, wie se naam op die hoofkantoor van die Mangaung-metro pryk, jammer is oor die assosiasie.

"Bram Fischer, die ikoon van die vryheidstryd, wie se onbaatsugtige opofferings ter wille van die land en sy mense gedoen is, se naam word nou met onbekwaamheid, korrupsie, politieke onverdraagsaamheid en 'n algeheel ineengestorte regering geassosieer."

Ramaphosa het ook wyk 8, 'n informele nedersetting naby die Lema Mall, besoek, waar hy onder meer gesê het dat daar gekyk sal word hoeveel meer mense nog vir die Covid-19-toelae van R350 kan kwalifiseer.

In wyk 51, 'n informele nedersetting voor die Grootvlei-tronk, en die enigste nuwe wyk in Mangaung waar Mantsane Mohulatsi vir die ANC staan, het Ramaphosa weer eens verarmde kiesers wat kla dat hulle nie munisipale dienste kry nie versoek om vir die ANC te stem omdat dié party 'n verskil kan maak.

Wyk 51, waar pres. Cyril Ramaphosa die ANC se verkiesingsveldtog in Bloemfontein gevoer het. Foto: Mlungisi Louw
Wyk 51, waar pres. Cyril Ramaphosa die ANC se verkiesingsveldtog in Bloemfontein gevoer het. Foto: Mlungisi Louw
'n Vrou stap verby 'n vullishoop in Bloemfontein oomblikke nadat pres. Cyril Ramaphosa hier verbygery het. Hy het erken dat Bloemfontein deur vullis verswelg word. Foto: Charles Smith
'n Vrou stap verby 'n vullishoop in Bloemfontein oomblikke nadat pres. Cyril Ramaphosa hier verbygery het. Hy het erken dat Bloemfontein deur vullis verswelg word. Foto: Charles Smith

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM