Dit is tweede grootste munisipaliteit in die Overberg, met van die snelgroeiendste bevolkings in die Wes-Kaap en bekend as die land se walviskyk-hoofstad.
Overstrand is egter ook 'n plek van ongelykheid, kommer oor misdaad en 'n groot behoefte aan behuising.
In die plaaslike verkiesings ding 14 partye en 115 kandidate mee om dié munisipaliteit te lei, wat Hermanus, Gansbaai, Kleinmond, Bettysbaai, Sandbaai, Onrus en Stanford insluit.
Met die plaaslike verkiesings van 2016 het die DA se steun van 57,3% (in 2011) tot 64,5% gegroei, terwyl die ANC se steun van 35,4% tot 31,2% gedaal het.

Plek van kontraste
Overstrand is ietwat van 'n uitskieter in vergelyking met die res van die Overberg-distrik en die Wes-Kaap as daar na die bevolking en statistieke gekyk word.
Dit het in 2016 onder meer die grootste persentasie van inwoners gehad wat 65 jaar en ouer is (11,9%) van al die provinsie se munisipaliteite.
Daarby is dit een van die min munisipaliteite in die Wes-Kaap waar bruin mense (29%) minder as 'n derde van die bevolking is, swart Afrikane (42%) meer as 'n derde en waar van die hoogste persentasie wit mense (28,5%) voorkom.
Altesaam 7 133 huishoudings (20%) het in 2016 in informele wonings gebly en 11 600 huishoudings (32,5%) in HOP-huise, volgens Statistieke Suid-Afrika se gemeenskapsopname.
In dié opname het byna 33% van huishoudings in HOP-huise die gehalte van hul woonplek as swak beskryf.
Overstrand het in dié tyd 6 480 huishoudings (18%) gehad wie se kosgeld in die voorafgaande 12 maande opgeraak het en 3 518 huishoudings (10%) wat in dieselfde tydperk 'n maaltyd oorgeslaan het.
Terselfdertyd het die munisipaliteit van die hoogste koerse van huishoudings met toegang tot die internet (27,8%).
Statistieke Suid-Afrika noem dat Overstrand (10,5%) van die hoogste persentasie van huishoudings in die provinsie het waar minstens een lid in die voorafgaande 12 maande 'n slagoffer van misdaad was.
Van die byna 26 000 huishoudings wat gevra is of die munisipaliteit probeer om probleme op te los, het 46% sterk verskil en 23% nie saamgestem nie, teenoor slegs 11% wat saamstem.

DA het ‘omvattende aksieplan'
Masizole Mnqasela, DA-kiesafdelingshoof, het Woensdag gesê kommunikasie is een van die eerste kwessies waarop die party wil fokus as hy verkies word.
Hy sê daar sal veral aandag gegee word aan kommunikasie met gemeenskappe oor belangrike besluite van die munisipaliteit wat "eerlik, eenvoudig en blitsig" is.
Dan is misdaad ook 'n "netelige kwessie" wat veral die landelike dele en plaasgemeenskappe raak en uiteindelik 'n uitwerking op ekonomiese groei en voedsel- en werksekerheid het.
Mnqasela sê die DA sal aanhou veg om polisiëring af te wentel na provinsiale vlak om 'n "doeltreffende, responsiewe diens te lewer".
Intussen moet munisipale wetstoepassers ook genoeg hulpbronne kry om verordeninge af te dwing.
Volgens Mnqasela gaan rompslomp ook gesny word om beleggings te lok deur die omkeertye vir aansoeke en bouplanne te verminder.
Om geïntegreerde behuising te skep sal daar met die private sektor gewerk word om wonings aan 'n "diverse klandisie" te bied.
Dit is als glo deel van 'n omvattende aksieplan wat die DA onmiddellik wil uitvoer as hy verkies word.
"Mense vertrou die DA wanneer dit by basiese dienslewering en skoon regering kom. Hulle stel nie belang in die feëverhale wat sommiges in die opposisie vertel nie en soek 'n party wat dinge gedoen kry."
Die DA het Annelie Rabie as sy burgemeesterskandidaat gestel en sal kandidate vir speaker en onderburgemeester ná interne keuring aankondig.
Rabie is in 2018 deur die DA oorweeg om die voormalige burgemeester te vervang, maar Dudley Coetzee is toe as burgemeester aangewys.
Sy het haar loopbaan as raadslid in Overstrand begin en is later in Prins Albert tot die raad verkies, waarna sy na die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit geskuif het.
In haar termyn het die distriksmunisipaliteit sy eerste skoon oudit ontvang.
In 2011 is daar egter berig dat sy deur die organisasie Business Against Crime afgedank is vir ongemagtigde besteding met 'n kredietkaart voordat sy in Prins Albert verkies is.
Rabie het toe gesê dat sy haar persoonlike kaart met dié van die organisasie verwar het toe sy betalings van R37 000 gemaak het.
Die DA het later gesê daar is geen strafregtelike klagte ingedien nie en 'n interne ondersoek het getoon die aantygings is ongegrond.
ANC wil vertroue terugwen
Derick Appel, ANC-streeksekretaris in die Overberg, het Dinsdag gesê die kiesersopkoms sal 'n deurslaggewende faktor in vanjaar se verkiesings wees, terwyl die ANC hard gewerk het om gemeenskappe se vertroue terug te wen.
Hy het benadruk dat die Overstrand 'n "hoogs ongelyke samelewing" is met uiters ryk en arm mense wat taamlik naby aan mekaar woon.
"Dié blatante ongelykheid, dikwels ongesien deur toeriste wat na die skoonheid van Overstrand gelok word, is ons grootste onderliggende uitdaging en het die potensiaal om tot 'n maatskaplike ineenstorting te lei."
Sistemiese ongelykheid het veroorsaak dat 'n groot deel van die bevolking nie waardige dienslewering ontvang nie, sê Appel.
Hy voer aan dit word vererger deur die DA wat munisipale grond aan private ontwikkelaars afstaan ten koste van agtergeblewe gemeenskappe.
Volgens die ANC moet dié kwessies opgelos word deur inwoners te betrek in besluitneming en beplanning, terwyl ingrypings groen en volhoubaar moet wees, met geleenthede vir werkskepping en die ontwikkeling van vaardighede.
Die ANC sal eers ná die verkiesing kandidate vir senior poste bekend maak.

Nuwe party in die kryt
Vanessa Swanepoel, die Land Party se burgemeesterskandidaat, sê ongelykheid is ook 'n top-prioriteit vir dié nuwe party, wat reeds in 2020 'n wyk by die ANC afgerokkel het.
Ongelykheid word weerspieël in die gehalte van dienslewering wat rasselyne volg en gaan vereis dat daar gekyk word na waar en waarom geld bestee word, het sy Dinsdag gesê.
Swanepoel sê Overstrand is ook 'n geweldig verdeelde gemeenskap en sy verwag dat sowel die ANC as die DA steun gaan verloor weens ontevrede kiesers, terwyl partye soos die VF Plus se steun kan groei.
"Ek belowe jou, in die afgelope 15 jaar, as die raad tien keer eenparig gestem het, sal dit baie wees."
Behuising is ook 'n krisis en Swanepoel sê die Land Party het reeds die provinsiale regering gekry om die grond by Hermanus, wat as Schulphoek bekend staan, terug te koop.
Besetters op die stuk grond sit egter steeds sonder dienste en wonings ná drie jaar van onderhandelings, het Swanepoel benadruk.
As dié party verkies word, wil hy daarop fokus om inwoners te betrek by begrotings en beplanning.
Volgens Swanepoel is sy "heeltemal verstoot" deur die wit gemeenskap weens haar betrokkenheid by die betogings wat die kusdorp in 2018 geruk het en sy alleen kry die blaam vir die reël daarvan.
"Mense het regtig probeer om my en my familie uit die dorp te jaag, maar ons gaan nêrens heen nie. Ek dink dit is heeltemal moontlik vir rykes om 'n bietjie te deel sonder om te veel op te offer."

VF Plus wil misdaad, plakkery stop
Cuan Elgin, VF Plus-burgemeesterskandidaat, sê vir sy party is verantwoordbaarheid aan die belastingbetaler van die grootste belang.
"Vir te lank het die DA carte blanche gehad met die besluit oor hoe munisipale belasting bestee moet word en in baie gevalle is dit gebruik om gratis dienste te lewer aan plakkers en dié wat nie belasting betaal nie."
Elgin het Dinsdag gesê om 'n "goeie boekhouer te hê" en skoon oudits te kry, is nie 'n waarborg dat belastingbetalers se belange eerste geplaas word nie.
Hy het benadruk dat Overstrand die laaste paar jaar 'n "massiewe invloei" van plakkers gehad het. Dit het tot misdaad bygedra en raak eiendomspryse, terwyl munisipale tariewe die hoogte ingeskiet het.
"Die VF Plus sal ordelike verstedeliking verseker en aandring dat verordenings doeltreffend en gelyk afgedwing word."
Volgens Elgin is Overstrand se aansien as 'n bestemming vir toeriste en beleggers skade berokken en sy party sal toesien dat die munisipaliteit weer "sy regmatige plek" inneem.
Verder gaan die VF Plus aandring op deursigtige tenderprosesse met plaaslike verskaffers wat voorkeur sal geniet.

Burgemeesterskandidate:
Annelie Rabie, DA (68)
'n Voormalige raadslid in Overstrand en oud-inwoner van Gansbaai wat terugkeer.
Rabie het voorheen as ondervoorsitter van die Gansbaai-toerismevereniging en voorsitter van Gansbaai se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gedien.
Sy het in dié tyd ook 'n gastehuis in De Kelders saam met haar man bedryf voor sy dood.
In 2000 is sy tot wyksraadslid verkies en later as raadslid in die Overberg-distriksmunisipaliteit.
Sy is in 2011 tot Prins Albert se raad verkies en het in 2014 na die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit geskuif, waar sy in 2016 herverkies is en in 2017 burgemeester geword het.
Rabie het B.Admin-, MA- en D.Admin-grade verwerf en spesialiseer in plaaslike regering.
Vanessa Swanepoel, Land Party (53)
'n Gemeenskapsleier en aktivis wat al meer as 20 jaar in Hermanus woon.
Swanepoel het al gedien in die Hermanus-sakekamer, in die komitee van die Walvisfees en as stigterslid van Whale Coast FM se direksie.
Sy het ook voorheen drama- en kunsklasse vir kinders gegee.
In 2018 het sy die groep Overstrand Unite gestig, wat in Desember saam met Zwelihle Renewal "een van die grootste veelrassige betogings in Suid-Afrika gereël het", met meer as 5 000 mense wat deelgeneem het.
Swanepoel het vroeg in 2019 by die nuutgestigte Land Party aangesluit.
Sy beskryf haarself as iemand wat altyd besorg oor haar gemeenskap en die welstand van ander is.
Cuan Elgin, VF Plus (64)
Elgin is die voorsitter van die VF Plus in Hermanus, met 'n beroepsagtergrond in veiligheid, staatsadministrasie, toerisme-ontwikkeling, wildbestuur en joernalistiek.
Hy gee ook private lesse in Engels en skryf boeke oor Suid-Afrika se politieke en militêre geskiedenis.
Hy en sy vrou, Belinda, 'n kunstenaar, woon die afgelope 17 jaar in Overstrand.
Hy is ook lid van Hermanus se GPF en "aktiewe lid" van sy plaaslike buurtwag.
Elgin sê hy is vasbeslote om belastingbetalers eerste te stel en dat "regverdigheid en die oppergesag van die reg sal seëvier" indien hy verkies word.
















