Gautengers stem fluks, hoop op verandering

Tobie Minnaar was al vroegoggend deel van dié lang ry mense wat voor die stembusse gestaan het by Zwartkop in Centurion. Volgens Minnaar was daar teen 06:30 nog geen stembusse of -briefies nie. Teen 07:45, toe dié foto geneem is, was die ry langer en

Gautengers het Maandag die hitte getrotseer om hul kruisies by die stembus te trek in die hoop op 'n positiewe verandering.

Dit was warm en die kwik het tot 28 °C gestyg, maar van 'n gekla in die lang toue was daar nie juis sprake nie.

Stemmery in dié provinsie het oorwegend glad verloop.

In Centurion was kiesers al vroegoggend reg om te stem, maar by die Zwartkop-stembus het sake stadig begin.

Tobie Minnaar, wat al om 06:30 in die ellelange ry gestaan het, sê daar was geen beweging tot omstreeks 07:30 nie.

"Van die mense het omgedraai en huis toe gegaan," het Minnaar gesê, terwyl hy met sy hande oor sy oë gekeer het vir die skerp oggendson. Die son het toe reeds warm gebak op die drie tente op die oop veld langs John Vorster-rylaan.

Sarah Masibi ondersteun vir Annatjie du Plessis (77) om haar stembriefies in die stembus te plaas. Du Plessis het haar stem by die Hoërskool Waterkloof in die ooste van Pretoria uitgebring. Volgens die OVK was die stemlokaal vroegoggend besig, maar het die rye mense teen 10:00 minder geword. Foto: Isabel Venter

Volgens Minnaar was daar nie genoeg stembusse of -briefies nie en dis hoekom daar vertragings was. Sowat 15 minute later het 'n voertuig van die Verkiesingskommissie (OVK) opgedaag en die nodige toerusting begin aflaai.

Om die hoek, by die Kerksondermure, het minstens 100 mense in 'n lang ry gewag om te stem. Daar het sake seepglad verloop vergeleke met die bure om die draai. Covid-19-regulasies is ook streng nagekom. Mense het nie saamgedrom nie en in die kerksaal is hande gereeld ontsmet en die stemhokkie is elke keer afgevee nadat iemand gestem het.

Die ry by die Laerskool Irene in Centurion het baie stadig beweeg. Mense het op hul kampstoele gesit en wag om gehelp te word, terwyl 'n polisiehelikopter oor die skool gevlieg het.

Verskeie lede van die polisie het binne ook gehelp om die kiesers se gemoedere te kalmeer toe hulle omgekrap raak oor die verwarring oor wie in watter ry moet staan.

Die sewe maande oue Henry Upton het die hele uitstappie na die stemlokaal omgeslaap. Sy ma, Simone, en pa, Hendrik, het vir hom en sy sussie, Jemma (5), saamgebring toe hulle by die Laerskool Risiville in Meyerton gaan stem het. Simone het gesê sy het weer vir dieselfde party gestem. "Ek bly vir jare al in Midvaal. Dis 'n lekker plek om in te bly. Midvaal is skoon en die munisipaliteit werk as jy dit vergelyk met ons bure. Ek sal wil hê die regerende party in die munisipaliteit moet aanhou met die goeie diens." Foto: Raymond Willemse

By die Hoërskool Waterkloof in die ooste van Pretoria was die stembusse teen 09:00 feitlik leeg. Mense was binne vyf minute klaar gestem. Annatjie du Plessis (77) kon nie glo hoe maklik dit was om te stem nie.

"Dit was heel vinnig," het sy gesê. Sarah Masibi het haar by die stembus ondersteun omdat Du Plessis nie sonder haar loopraam oor die weg kan kom nie.

Dele van Randburg was sonder krag, maar dit het nie 'n impak op die stemmery gehad nie.

Conor O'Molony (19) het vir die eerste keer by die Northcliff Primary School in dié Johannesburgse woonbuurt gestem. Hy sê dit was maklik en pynloos en hy sal beslis weer stem. Hy meen hawelose mense is 'n groot probleem in die gebied en hy hoop die verkiesings sal verandering daar bring.

Peter Teixeira, die DA se burgemeesterskandidaat in Midvaal, het ook sy kruisie by die stemlokaal kom trek. Teixeira het kom stem vir 'n beter toekoms vir homself en sy kinders, asook vir 'n beter Suid-Afrika vir almal wat hier bly. "Die DA is die enigste party wat goed regeer waar hy in beheer is." Foto: Raymond Willemse

By die Prestasieskool in Germiston aan die Oos-Rand het die stembriewe eers ná 07:00 aangekom en die stemmery by dié punt het eers om 08:00 begin.

Maryna (62) en Jack (67) Ellis het reeds van 06:15 in die tou gestaan en was ontsteld dat hulle tot 08:00 moes wag voordat hulle kon begin stem. Dié egpaar van Elspark in Germiston sê die gebied word lamgelê deur probleme met krag en water.

Dries Franzsen, ook 'n inwoner van Elspark wat saam met sy hele gesin gaan stem het, kla ook oor die kragonderbrekings. Franzsen sê hy stem vanjaar anders as in die verlede omdat hy daadwerklike verandering wil sien.

By die Hitekani Primary School in Chiawelo in Soweto het ANC-vlae van vroeg af gewapper. Toe pres. Cyril Ramaphosa by die skool aankom om te stem, is hy luidkeels deur ANC-ondersteuners toegejuig, maar deur lede van die EFF en Action SA uitgejou.

Mpho Nogqolo (21) hoop om 'n verandering ná die verkiesing te sien. Hy het by die Living Disciples of Christ Church in Sebokeng in Emfuleni gestem.  Foto: Raymond Willemse
Mpho Nogqolo (21) hoop om 'n verandering ná die verkiesing te sien. Hy het by die Living Disciples of Christ Church in Sebokeng in Emfuleni gestem. Foto: Raymond Willemse

Keamogetse Khoza (75) en Jennifer Mthumba (74), twee vriendinne wat saam met Ramaphosa in die woonbuurt grootgeword het, sê hulle sal aanhou om vir die ANC te stem.

Hulle pleit wel vir beter elektrisiteit en watervoorsiening in die gebied.

By die Living Disciples of Christ Church in Sebokeng in Emfuleni het 'n afdak vir die kiesers skuilplek teen die son gebied. Die stemproses het heel vinnig en glad verloop.

Mpho Nogqolo (21) hoop om 'n verandering ná die verkiesings te sien.

"Hier is nie basiese dienste nie. Ons smeek al lank vir elektrisiteit, maar dit val op dowe ore."

Donald Mtimkulu (regs) saam met sy vriende Patricia Bamtoni en Buti Mofokeng by die Living Disciples of Christ Church in Sebokeng in Emfuleni waar hulle hul kruisies getrek het. Foto: Raymond Willemse

Nogqolo, wat vir die eerste keer stem, hoop ook daar word 'n skool in die gemeenskap gebou.

"My sibbes moet tans ver reis om by 'n skool uit te kom. Dit kos ook nog ekstra taxi-geld en hulle moet vroeg opstaan."

Donald Mtimkulu, wat ook by die Living Disciples of Christ Church gestem het, gaan dinge anders doen as voorheen.

"Ek gaan nie vir die groot partye stem nie. Sover het dit geen veranderinge gebring as ek vir hulle gestem het nie. Die keer gaan ek vir 'n kleiner party stem. Ek stem vir verandering sodat my kinders 'n kans het op 'n beter toekoms."

• Verslagspan: Ischke van Eeden, Isabel Venter, Arisa Janse van Rensburg en Raymond Willemse.

Die Ellis-egpaar, Maryna en Jack, het reeds van 06:15 in die ry gestaan by die Prestasieskool in Germiston aan die Oos-Rand.  Foto: Arisa Janse van Rensburg
Die Ellis-egpaar, Maryna en Jack, het reeds van 06:15 in die ry gestaan by die Prestasieskool in Germiston aan die Oos-Rand. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Van links is, voor: Tobie Coetzee, Saskia en Zandri Franzsen; agter: Jack Coetzee, Louchje en Dries Franzsen. Klein Ezra Franzsen het ook saamgekom na die Prestasieskool in Germiston aan die Oos-Rand waar die volwassenes gestem het.  Foto: Arisa Janse van Rensburg

Die vriendinne Keamogetse Khoza (75) en Jennifer Mthumba (74) sê hulle sal aanhou om vir die ANC te stem.  Foto: Arisa Janse van Rensburg
Die vriendinne Keamogetse Khoza (75) en Jennifer Mthumba (74) sê hulle sal aanhou om vir die ANC te stem. Foto: Arisa Janse van Rensburg
Lede van Action SA en die EFF jou Cyril Ramaphosa uit met sy aankoms by die Hitekani Primary School in Chiawelo in Soweto.  Foto: Arisa Janse van Rensburg
Lede van Action SA en die EFF jou Cyril Ramaphosa uit met sy aankoms by die Hitekani Primary School in Chiawelo in Soweto. Foto: Arisa Janse van Rensburg

SPELETJIES VANDAG

CTA