Die polisie in Umbilo by Durban ondersoek 'n klag van openbare geweld ná 'n nag van hoogdrama nadat die uitslag van die plaaslike verkiesings bekend gemaak is.
Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend aan Netwerk24 gesê 'n groep van sowat 300 inwoners van die Dalton-hostel het Donderdag omstreeks 19:30 in Sydney-rylaan begin betoog.
"Hulle het bande gebrand, 'n voertuig en 'n gebou waarin wagte gesit het aan die brand gesteek en ook die eThekwini-kollege gevandaliseer."
Hy het gesê die betogers was glo ontevrede omdat hulle nie Maandag kon stem nie, ten spyte daarvan dat hulle op die Verkiesingskommissie (OVK) se kiesersrol geregistreer was.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Die SAUK het Donderdagaand berig die meeste van die betogers is IVP-ondersteuners.
Die polisie het strate om die betogers gesluit omdat dit "nie veilig vir die publiek was nie".
Sydney-rylaan, wat op die roete na die Durban-hawe is, is met rommel bestrooi. Die rommel is later aan die brand gesteek.
Mdu Nkosi, die IVP se voorsitter in eThekwini, het die optrede Donderdagaand op die toneel veroordeel en om kalmte gepleit.
Hy het aan die SAUK gesê die IVP was reeds voor die verkiesing met die OVK in gesprek om seker te maak dat die inwoners wel op die kiesersrol geplaas is.
"Ek het die situasie aan die inwoners probeer verduidelik en gevra dat hulle na hul hostel terugkeer. Ek hoop die OVK kan in die toekoms soortgelyke probleme oplos voordat dit handuit ruk. Baie van die inwoners is weggewys omdat hulle elders geregistreer was."
Naidoo het Vrydag gesê die polisie is nie bewus van enige ander insidente in KwaZulu-Natal of elders nadat die verkiesingsuitslag bekend gemaak is nie. "Die polisie hou steeds die Umbilo-omgewing dop."







