Hoe op aarde kry iemand wat perdfris en gesond is dit reg om 'n spesiale stem tuis te kan uitbring?
Dirk Kotzé, DA-raadslid vir wyk 24 ('n gedeelte van Fichardtpark, Hospitaalpark, Genl. de Wet, Fleurdal en 'n gedeelte van Uitsig), sê dit slaan hom dronk dat Jan Lues van die UIM (United Independent Movement) - een van 14 kandidate wat in dié wyk staan - se versoek vir 'n tuisstem toegestaan is.

Syne is een van 32 683 goedgekeurde tuisstemme in die Vrystaat wat verg dat iemand van die Verkiesingskommissie (OVK) die persoon tuis gaan besoek. Daar is altesame 85 641 spesiale stemme in die Vrystaat goedgekeur, waarvan 52 958 mense Saterdag of Sondag self na stemlokale sal gaan om te stem.
Werner Horn, die DA se veldtogbestuurder in die Vrystaat, sê wanneer kiesers registreer vir 'n tuisstem, moet hulle aandui dat hulle fisiek nie in staat is om 'n stempunt te besoek nie.
"As daardie mens met die eerste besoek van 'n beampte van die OVK nie tuis is nie, sal hy nie weer besoek word (om 'n tuisstem uit te bring) nie, maar kan dan steeds op 1 November by die stemlokaal gaan stem."
Lues het die naweek aan Netwerk24 gesê hy het geregistreer om die komende naweek 'n spesiale stem uit te bring "omdat ek Maandag met die groot verkiesings self baie besig sal wees".
Lues sê wat hy onthou, is dat hy geregistreer het om 'n spesiale stem te mag uitbring. "Ek kan eerlik nie onthou dat ek ook geregistreer het dat die stem by die huis afgehaal moet word nie."

Hy woon minder as 2 km van sy stemlokaal af en sê hy gee glad nie om om by die stemlokaal te gaan stem nie; hy sal selfs daarheen loop. En hy gee ook nie om om in 'n ry te staan nie.
"Dit maak regtig nie saak nie."
Dit is die eerste keer dat die UIM 'n kandidaat in die wyk stel.
Horn sê diegene wat suksesvol aansoek gedoen het om 'n spesiale stem by stempunte uit te bring, kan dit Saterdag of Sondag tussen 08:00 en 17:00 doen.
"Mense wat onseker is of hulle suksesvol aansoek gedoen het vir 'n spesiale stem, kan op die OVK se webwerf - elections.org.za - kyk of hul aansoek suksesvol was of hul ID-nommer per SMS na 32711 stuur."
Hy sê die Vrystaat is die provinsie in die land waar die minste mense vir 'n spesiale stem geregistreer het.
Mmathabo Rasengane, woordvoerder van die OVK in die Vrystaat, het aan Netwerk24 bevestig dat daar 'n goeie rede moet wees as iemand 'n tuisstem wil uitbring.
Ek kan eerlik nie onthou dat ek ook geregistreer het dat die stem by die huis afgehaal moet word nie.
Kotzé sê hy sit met die OVK se lys in sy hand en daaruit blyk dit duidelik dat Lues 'n tuisbesoek wil hê om sy stem uit te bring.
Lues sê weer hy is 'n eerbare mens wat in die Mighty Families se bestuur dien en vir goeie gesinswaardes staan. "Ek is ook by AfriForum in ons buurt hard aan die werk om ledewerwing te doen.
"Maar vandat ons party hier in Bloemfontein vir die verkiesing kom staan het, is die aanslae van die duiwel verskriklik. Rooimiere kruip orals uit en ons word aangeval."
UIM is gestig deur Neil de Beer van Kaapstad omdat die ANC volgens hom in die afgelope 27 jaar nie veel vermag het nie.
"Ons party staan vir die vyf C's in Engels. In Afrikaans is dit vir die behoud en beskerming van die Grondwet, die uitroei van korrupsie, die uitwissing van misdaad, 'n Christelike geloof en dat die kapitaal met die mense gedeel sal word," sê Lues.

















