Elke enkele stem sal Maandag tel.
So het pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand gesê toe hy as staatshoof 'n beroep op elke geregistreerde kieser gedoen het om Maandag in die plaaslike verkiesings vir hul munisipale verteenwoordigers te gaan stem.
"Jou stem tel."
Volgens Ramaphosa sal kiesers met hul stem 'n beter Suid-Afrika bou. " 'n Suid-Afrika met sterk, goed bestuurde en doeltreffende munisipaliteite wat die lewe van elke burger kan verbeter.
"Plaaslike verkiesings gaan oor die kwessies wat die meeste vir ons almal saak maak - huise, elektrisiteit, water, sanitasie en ordentlike paaie.
"Ons almal wil beter dienste kry. Ons almal wil ordentlike, volhoubare werkgeleenthede hê. Ons almal wil sien dat ons ondernemings groei en ons gemeenskappe floreer.
"Dit kan slegs gebeur as plaaslike regerings sterk is. Met jou stem oefen jy jou grondwetlike verantwoordelikheid as burger uit om ons demokrasie te bou."
Hy het voornemende kiesers daaraan herinner om Maandag die stemlokaal in die wyk waarin hulle geregistreer is, met hul identiteitsdokumente te besoek.
Stemlokale sal van 07:00 tot 21:00 oop wees.
"Jy kan ook 'n verskil maak deur een van die honderde Covid-19-inentingspersele te besoek wat naby stemlokale landwyd bedryf sal word. So ek vra jou om môre uit te gaan om te stem. Kom ons bou Suid-Afrika saam," het Ramaphosa bygevoeg.



















