Verkiesing 2021

KYK | Kapenaars lug hul menings oor verkiesings

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Ek stem vir die DA omdat ek voel dit is die beste party vir alle rasse. Die ANC is net vir een ras. As die EFF aan bewind kom, dan gaan ek. Die land gaan nie staan nie."

So voel Eben Swanich (58) van Bergvliet oor die plaaslike verkiesings wat op 1 November gehou word.

Eben Swanich (58), Bergvliet. Foto: Adrian de Kock
Eben Swanich (58), Bergvliet. Foto: Adrian de Kock

Netwerk24 het Woensdag 'n verskeidenheid Kapenaars hul mening oor die komende verkiesings gevra en oor wat hulle pla.

"Ek wou nie registreer nie, maar ek het maar," sê Swanich. "Ek wil eintlik ACDP stem, maar ek glo nie 'n mens moet geloof met politiek meng nie."

Swanich glo Suid-Afrikaners het nie meer hoop as dit by verkiesings kom nie. "Meeste sal vir jou sê: ‘Ek het baie hoop,' maar in hul hart weet hulle daar is nie hoop nie. As jou eie president en ministers om jou geld steel, waarop kan jy jou hoop plaas? As mense werklik eerlik is oor hoe hulle voel, sal hulle sê dit is die beste om uit jou land te gaan," sê Swanich.

Demi Rawstorne (25), van Somerset-Wes, sê diegene wat nie stem nie en net passief agteroor sit, stem steeds in wese.

Demi Rawstorne (25), Somerset-Wes. Foto: Adrian de Kock
Demi Rawstorne (25), Somerset-Wes. Foto: Adrian de Kock

"Ek dink mense voel mismoedig omdat hulle voel hulle stem, maar verandering vind nie plaas nie. Ek voel egter verandering vind wel plaas.

"In Somerset-Wes het ons 'n raadslid wat aksie neem en wie se nommer orals gesien kan word. Jy kan hom vir enigiets bel," sê Rawstorne.

Shahieda Ganief (49), Delft. Foto: Adrian de Kock
Shahieda Ganief (49), Delft. Foto: Adrian de Kock

Shahieda Ganief (49), van Delft, sê sy gaan uit om in Seepunt te stap, want as sy dit in Delft doen, word sy aangerand. "Die Wes-Kaap is DA, maar die mense is teleurgesteld in die DA. Op die oomblik weet ek nie eens vir wie ek gaan stem nie."

Volgens haar word die beloftes net gemaak wanneer dit verkiesingstyd is.

Sy sê in Delft is die paaie swak, die skole is oorvol en baie kinders sit by die huis.

Volgens haar is die behuising net so swak. Mense het hokkies gaan opsit op oop velde en daar word niks daaraan gedoen om vir hulle regte huise te gee nie.

"Dit voel asof die armoede net meer word. 'n Mens ken nie die nuwe partye of waarvoor hulle regtig staan nie, die ou partye het nie regtig vir jou gewys wat hulle kan doen nie, alhoewel hulle seker sekere goed reggekry het."

Sy meen dit is egter steeds belangrik om te stem, want "as jy nie gaan stem nie, moet jy jou mond hou".

Darrell Hendricks (64), Southfield. Foto: Adrian de Kock
Darrell Hendricks (64), Southfield. Foto: Adrian de Kock

Darrell Hendricks (64), van Southfield, sê hy wil ACDP stem, maar deur dit te doen, voel hy hy neem iets weg van goeie opposisiepartye soos die DA om te kan wen.

"Ek wil nie hê die land moet teruggaan soos in apartheid waar die NP oral regeer het nie. Die ANC regeer amper oral. En die klein opposisiepartye kry nie die kans om eintlik 'n verskil te maak nie."

Hendricks sê in Southfield sukkel hulle met paaie, elektrisiteit wat op vreemde tye sommer net vir ure afgaan en vullis wat nie op die regte dae verwyder word nie.

Wilmor Jonas (59), Seepunt. Foto: Adrian de Kock
Wilmor Jonas (59), Seepunt. Foto: Adrian de Kock

Wilmor Jonas (59), van Seepunt, sê sy moet nog gaan registreer, maar sy gaan definitief stem. "Dit is hartseer om te sien die partye wat sê mense moet vir hulle stem, maar aan die einde van die dag doen hulle niks nie. Wat my veral die ergste pla, is die korrupsie."

Jonas meen mense verdien beter woonbuurte. "Mense het die reg om in bevoorregte plekke sonder gangsters te woon. Jy vra jouself hoekom is daar gangsters? Gangsters word gekweek as daar nie werk is nie en dit is hartseer."

Sy hoop die partye wat op 1 November gaan wen, sal vir die mense iets doen en nie vir hul eie sakke en eie gewin nie.

Melissa Malgas, Atlantis. Foto: Adrian de Kock
Melissa Malgas, Atlantis. Foto: Adrian de Kock

Melissa Malgas, van Atlantis se Go Getters-groep, sê sy beoog om vanjaar vir die eerste keer te stem. "Dinge soos werkloosheid en mense wat buite slaap, is wat my hartjie baie seer maak."

• Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag 1 November tot 'n openbare vakansiedag verklaar om te verseker dat mense kan gaan stem.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM