Kommer oor die uitwerking wat die reën in die Wes-Kaap op die stempersentasie en uitslae gaan hê, is teen die aand van stemdag uit verskeie oorde uitgespreek.
Die OVK sê die opkoms was teen 17:00 net 26% in die provinsie, maar het die aand gesê hy verwag dié syfer gaan styg.
Partye het Maandag ook gekla oor lang toue by stemlokale, vertragings en masjiene wat van lyn af is.

Stemlokale het teen 21:00 gesluit vir vanjaar se plaaslike verkiesings met 30 munisipaliteite in die provinsie op die spel en meer as 12 000 kandidate van 96 partye wat deelgeneem het.
Die OVK het die oggend bevestig dat al die 1 577 stemlokale in die provinsie geopen het, hoewel enkeles laat oopgemaak het.
Michael Hendrickse, provinsiale verkiesingsbeampte, sê die reënweer en kragonderbrekings het probleme by sommige lokale veroorsaak, veral in die Kaapstadse metropool waar tente as tydelike stemlokale gebruik is.
Twee stemlokale in die metro het deurgeloop onder kragonderbrekings weens kabeldiefstal en vier ander lokale in die provinsie het ook kragonderbrekings gehad.
Hendrickse het die oggend bevestig by een lokaal is die verkeerde stembriewe vir die distrik ontvang, maar dit is ná ses stemme reeds opgemerk en dié stembriewe wat reeds gebruik is, word afsonderlik gehou.
Die uitslae in die provinsie was ten tyde van publikasie nog nie beskikbaar nie.
Brett Herron, Good se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, het die aand by die uitslagsentrum in Century City sy kommer uitgespreek oor die uitwerking van die reën op die opkoms vanjaar.
Jaco Londt, DA-voorsitter in die Wes-Kaap, het ook aan
Jackie Kruger bevestig dat 'n "aansienlike afname" in die opkoms ervaar is.
'n Tekort aan wattestokkies by sommige stempunte het ook vertragings veroorsaak, berig Ané van Zyl.

Dié stokkies word gebruik eerder as 'n pen om kiesers se duime te merk sodat dit ná gebruik weggegooi kan word ingevolge die maatreëls teen Covid-19.
Die DA in Parow en Bellville het gesê verskeie DA-raadslede het na winkels gegaan om wattestokkies te koop wat gebruik kon word om duime te merk.
Geordin Hill-Lewis, DA burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, het gaan stem in Edgemead, waar hy grootgeword het.
Patricia de Lille, Good-leier en minister van openbare werke, het in Pinelands gestem, waar sy 'n inwoner is.
Intussen is daar die middag berig dat Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, 'n klag van aanranding teen die Oos-Kaapse polisie aanhangig gemaak het nadat sy glo hardhandig uit 'n stemlokaal in Bethelsdorp, Gqeberha, verwyder is.

Zille, voormalige premier van die Wes-Kaap, is luidens 'n verklaring van die DA deur 'n polisielid met haar hande agter haar rug uit die stemlokaal verwyder.
Zille was glo by die stemlokaal by die Fernwood Park Primary School besig om kiesers aan te moedig om geduldig te wees.
Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig hulle ondersoek dié klag van Zille.
115 601 kiesers het aansoek gedoen vir spesiale stemme oor die naweek, waarvan 46 000 gevra het om by hul huis besoek te word.
Van al die partye wat in die Wes-Kaap meeding, het slegs die DA, ANC en EFF kandidate in elke munisipaliteit.
Verder het 38 partye in net een munisipaliteit gestaan en 20 slegs in twee munisipaliteite.
844 setels in 24 plaaslike munisipaliteite, die Kaapstad-metro en vyf distriksmunisipaliteite in die provinsie is met vanjaar se verkiesings op die spel.



















