Menings

Erika de Beer: Ons is nie bloot jul stemvee nie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit het 'n bietjie soos kroek gevoel om 'n spesiale stem uit te bring.

Weerskante van die voorstedelike laerskool se hek was 'n blou stalletjie en 'n groen-swart-en-geel stalletjie.

Die nege-uur-ry was seker net so ses, sewe kiesers diep, maar die enjin daarbinne het 'n rukkie gevat om warm te word - net genoeg om darem daardie stemdaggevoel te kry en saam met jou medetoustaners te wonder wanneer die winter nou kom.

Te midde van die vreedsaamheid het drie jong vroue met mening hul weg na die voorpunt gebaan en by die beampte wat as deurwag diens gedoen het daarop aangedring om die voorsittende beampte te spreek.

Nie 'n enkele keer het ek daardie houding van "ek is die een met die mag" ervaar nie. Elke funksionaris met wie ek te doen gehad het, was vriendelik, geduldig en menslik. Teen die tyd dat die man van Nka­ndla gekom het, was ek gelukkig reeds weg. Hy was wel nie die enigste leier wat soos 'n kropduif kom paradeer het nie.

Die beampte het geantwoord: "She is otherwise engaged." Dit het geklink of hy die frase ingeoefen het.

Een van die vroue het 'n broek van kamoefleermateriaal aangehad. Ek het - dalk verkeerde - afleidings gemaak oor die party waaraan sy en haar maters behoort en wat hul oogmerk was.

Die drie vroue het met hom gestry, waarop hy nog 'n frase te voorskyn gebring het wat geklink het of dit uit 'n handleiding kom: "I do not disagree with you."

Dít, tesame met die onbedaarlike gegiggel van die vrou in die kamoefleerbroek, het die situasie ontlont.

Die rede vir my spesiale stem was my "ontplooiing" by die nasionale uitslagsentrum in Midrand. Dáár het polisielede jou akkreditasiekaart by die ingang nagegaan en die pad na 'n oop parkeerplek beduie.

Nog 'n polisielid het jou kaart nagegaan voordat dit in die gebou vir 'n derde keer gedoen is. Jy moes by 'n toonbank gaan aanmeld as jy 'n skootrekenaar by jou het, dan kry jy 'n kwitansie om te wys dis regtig joune.

Drie keer per dag kon jy met jou kaart in die eetsaalry gaan staan en lekker, gesonde kos, kompleet met slaai, nagereg en koeldrank, sap of water kry.

Maak nie saak hoe groot 'n kokkedoor jy in jou politieke party is nie, almal het in dieselfde ry gestaan, wat nogal vinnig beweeg het.

In die ruimte voor die elektroniese uitslagborde het elke party twee eenderse sitplekke by 'n eenderse lessenaar gekry - ongeag of dit 'n 40%-party of 'n splinternuwe opskietparty is wat die handtekeninge en deposito net-net kon bymekaarskraap. Ons joernaliste het dus vrye toegang tot die politici in hul spandrag gehad, selfs dié met kamoefleerdrag.

Op 'n paar plekke in die sentrum was water, masjienkoffie en tee deurentyd gratis beskikbaar.

Nie 'n enkele keer het ek daardie houding van "ek is die een met die mag" ervaar nie. Elke funksionaris met wie ek te doen gehad het, was vriendelik, geduldig en menslik. Teen die tyd dat die man van Nka­ndla gekom het, was ek gelukkig reeds weg. Hy was wel nie die enigste leier wat soos 'n kropduif kom paradeer het nie.

Ek hoop regtig daar waar die politici nou onderhandel, is goeie koffie en goeie kos beskikbaar sodat die hangry-faktor uitgeskakel kan word. Ek hoop hulle praat ook soms oor die koue en hul kinders.

By die ingang, hoop ek, is daar sluitkassies vir hul ego. Ek hoop hulle kan ook die geduld en vriendelikheid van talle deurwagte, duimmerkers, polisielede en toustaners aan die dag lê.

En dan hoop ek veral hulle vergeet nie van ons, wat net elke vyf jaar op nasionale en provinsiale vlak die kans kry om ons sê te sê nie. Ek hoop hulle besef ons stem nie almal vir leiers nie, maar eerder vir beginsels.

As hulle dít nie respekteer nie, kon ek as onseker kieser netsowel 'n papiervliegtuigie en -bootjie en 'n sout-en-peperpotjie met my stembriewe gevou het.

• De Beer is 'n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van Netwerk24 nie.

CTA