Erika de Beer: Grootmense dop dié toets

Erika de Beer
Erika de Beer (Netwerk24)

“Daar moet geen toekoms wees waarin ons steeds teen oorvol klaskamers baklei nie,” sê Pan­yaza Lesufi, Gautengse premier.

Op ’n byeenkoms Maandagoggend ter ere van die matriekpresteerders van 2025 het hy voorts gesê: “Daar moet geen toekoms wees waar kinders nie weet of hulle ’n tafel of ’n stoel in ’n klaskamer sal hê nie.”

Dié kinders behoort volgens hom nie vir water en elektrisiteit en beter rioolstelsels te baklei nie.

Lesufi het in 2014 LUR vir onderwys geword en in 2022 premier. Sedert die 2015-’16-boekjaar is net 48 skole in dié provinsie gebou of opgeknap, het The Outlier in Julie 2025 berig.

Die Wes-Kaap het in dieselfde tydperk 97 skole gebou, die Oos-Kaap 74 en KwaZulu-Natal 58.

Die naweek lees ons in die Sunday Times ondanks ’n belegging van byna R1 miljard in opgraderingsprojekte by Gautengse skole sou net twee betyds vir die skooljaar gereed wees. Die een projek het 10 jaar geduur en die ander vyf.

’n Week voor die begin van die 2026-skooljaar het meer as 4 858 Gautengse gr. 1- en 8-leerlinge nog nie plek in skole gehad nie. In die veel kleiner Mpumalanga het dié getal op sowat 9 000 gestaan.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het Maandag in sy voorlegging oor die 2025-matriekuitslae gesê: “Ons het 376 meer skole gebou.”

Hy het nie gespesifiseer in watter tydperk dit was nie, maar bygevoeg: “In vergelyking met die skole wat die regering gebou het, het die private sektor 237 skole gebou.”

Mweli erken die getal nuwe skole het nie tred gehou met die groei in leerlinggetalle nie. Dieselfde geld onderwysposte.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die beheerliggaam-organisasie Fed­sas, kla boonop onderwysposte word nie betyds gevul nie.

In Oktober verlede jaar het openbare skole in vyf provinsies nog nie geweet hoeveel poste hulle vir 2026 gaan kry nie.

Volgens ’n parlementêre antwoord van Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, was 31 811 poste vir heeltydse onderwysers en skoolhoofde teen einde Februarie 2025 vakant.

Nóg ’n probleem volgens Deacon is die laat oorbetaling van toelaes aan skole en die versuim om skole se erfbelasting te betaal.

In Gauteng is meer as 500 skole se water- en/of elektrisiteitstoevoer teen Julie verlede jaar weens agterstallige skuld van meer as R58 miljoen afgesny, blyk uit ’n antwoord in die wetgewer.

KwaZulu-Natal se onderwysdepartement verwag minstens 40% van die skole sou die skooljaar sonder skryfbehoeftes begin.

In haar toespraak Maandagaand het Gwarube gesê sewe van die nege provinsies (almal behalwe die Wes-Kaap en Gauteng) se onderwysdepartemente is “finansieel onstabiel”. Die provinsies is gevra om finansiële herstelplanne te ontwikkel.

Basiese onderwys is ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen die nasionale en provinsiale regerings. Die provinsies moet onder meer sorg vir die aanstel van onderwysers, skoolinfrastruktuur en die verkryging van leermateriaal.

Natuurlik is Lesufi reg: Kinders behoort hulle nie te bekommer oor of die basiese goed daar is nie, soos skole met krag en water, asook onderwysers en leermateriaal.

Maar dan moet hy en die ander grootmense in die vertrek soos grootmense optree en hul pligte nakom. Anders gaan die kinders aanhou om die gevolge van swak regering en korrupsie te dra. • De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA