Die verdeeldheid onder plaaslike ANC-ondersteuners het Saterdag duidelik geblyk met pres. Cyril Ramaphosa se besoek aan die Buffalo City-metro.
Baie mense is ontevrede oor die ANC se kandidate vir die komende plaaslike verkiesings en het gehoop om Ramaphosa met sy besoek aan dié metro in die Oos-Kaap daarvan bewus te maak.
"Ons stem vir een party, maar ons is twee groepe wat nou verdeeld staan in die ANC.
"Dit beteken een van die groepe sal nie hul stem uitbring op 1 November nie," het Sibusiso Maqanda, 'n inwoner van wyk 11, Saterdag in Mdantsane, net duskant Oos-Londen, gesê.

Terwyl 'n groot groep ANC-ondersteuners Ramaphosa singend en dansend in Mdantsane verwelkom het, het 'n kleiner groep ondersteuners die president met plakkate oor hul griewe ingewag.
Die situasie is vererger toe 'n plaaslike ANC-verkiesingsbestuurder voor Ramaphosa se aankoms die omgekrapte inwoners gevra het om hul plakkate te laat sak of die saamtrek te verlaat omdat hulle die party in die verleentheid sal stel.
Die versoek was olie op die vuur. Die omgekraptes het toe in 'n groep by die ingang na die verhoog saamgebondel om Ramaphosa se aandag te trek.
Toe hy daar in wyk 23 aankom om die gemeenskap toe te spreek oor die ANC se verkiesingsveldtog, moes polisielede noodgedwonge 'n menseketting vorm om die ontstoke inwoners weg te hou van hom.
Linda Neel, een van die ontevrede inwoners, het gesê hulle het gestem vir 'n ander wykskandidaat as die een wat nou benoem is en wil die situasie onder Ramaphosa se aandag bring.
"Ons gaan hier wag vir die president en vandag antwoorde vra. Anders sal ons die program tot stilstand bring," het sy gesê.
Neel en die groep inwoners wat agter haar gestaan en haar aangehits het, het gesê as die kandidate nie verander word nie, sal hulle nie stem nie en sal daar ook op stemdag ontwrigting by die stemlokale wees.
Intussen het 'n groot klomp mense Ramaphosa met 'n luide handeklap en gesing in Mdantsane verwelkom.
Daar was selfs 'n stoeiery oor 'n ANC-T-hemp wat van die verhoog af in die skare gegooi is. Mense het mekaar gestamp en gestoot tot oor die afsperring om die T-hemp in die hande te kry.
Nog 'n plaaslike inwoner, Nomsa Mavuma van wyk 24, het gesê sy is opgewonde om Ramaphosa in hul gebied te sien en sal op verkiesingsdag haar kruisie langs die ANC se naam trek.



Sy het nietemin gehoop Ramaphosa sou Saterdag uitwei oor die party se planne vir werkskepping, veral vir die jeug in die streek, en ook oor wanneer behuisingsprojekte wat aan die gang is, voltooi sal word.
Maar Ramaphosa se verwagte toespraak is deur 'n swaar reënbui in die wiele gery wat uitgesak het die oomblik toe hy die verhoog bestyg het.
Nog voordat enige ander spreker iets kon sê, het die organiseerder die mikrofoon aan Ramaphosa oorhandig, wat gesê het hy is jammer die reën het sy toespraak kortgeknip.
"Ek wou baie sê, maar ek gaan nou net die premier en jul burgemeester voorstel."
Daarna het Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, en Xola Pakati, burgemeester van Buffalo City, vorentoe gestap en gewaai.
Ramaphosa het belowe hy sal die gebied weer besoek voordat hy die mense gevra het om uit die reën te kom.
Die groot skare het binne minute uiteengegaan.
Kleiner groepe het agtergebly en in die reën gedans, terwyl etlike inwoners ook agtergebly en gekla het dat hulle nie die geleentheid gekry het om hul griewe met Ramaphosa te deel nie.
Ramaphosa sou gister sy verkiesingsveldtog in die Oos-Kaap voortsit en inwoners in die Nelson Mandelabaai-metrogebied, onder meer in Wells Estate, Gqeberha, besoek.






















