Die MaP-16-wegbrekers van die ANC in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Harrismith, Qwaqwa en Kestell), het die ANC so in die wiele gery dat die party slegs 39,36% van die stemme in die plaaslike verkiesings op hom verenig kon kry.
Azael Nhlapo, sentrale koördineerder en sameroeper van MaP-16, het Woensdag gesê dit was hul doelwit om te keer dat die ANC 'n volstrekte meerderheid, daardie magiese 50% plus 1, in Maluti-a-Phofung kry. Hulle is verheug dat hulle dit reggekry het.
MaP-16 het 28,55% van die stemme op hom verenig, die EFF 9,84% en die DA 7,47%.
"As die ANC 'n koalisie-vennoot nodig het, sal MaP-16 beslis nie bereid wees om saam met hom in die bed te klim nie.
"Ons het juis vir die ANC gesê hy steel en daarom breek ons weg. Nou moet ons sy gemors waar hy regeer het, agter hom skoonmaak. Hoewel MaP-16 nie die meerderheidstem in die munisipaliteit gekry het nie, het hy baie goed gevaar," sê Nhlapo.
MaP-16 het in 2018 van die ANC weggebreek.

Werner Horn, DA-voorsitter en veldtogbestuurder in die Vrystaat, sê spottenderwys "as 'n mens kyk na die steun wat kiesers in daardie munisipaliteit aan ons gegee het, is dit vir ons duidelik dat hulle ons nie nodig gaan kry nie".
Leona Kleynhans, DA-LPW in wie se kiesafdeling Maluti-a-Phofung val en wat in Harrismith woon, sê by navraag Maluti-a-Phofung is in 2018 onder administrasie geplaas toe Vusi Tshabalala, goed gekonnekteerde vriend van Ace Magashule, die burgemeester was.
Magashule, 'n gewese premier van die Vrystaat, is tans geskors as die ANC se sekretaris-generaal.
Tshabalala is destyds deur die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) gedwing om as burgemeester te bedank.
In Mei 2018 is Gilbert Mokotso tot nuwe burgemeester verkies in 'n geslote stemming nadat 15 ANC-raadslede, wat later as MaP-16 weggebreek het, téén party-opdragte saam met die DA vir Mokotso gestem het.
Die ANC het uiteindelik die 15 ANC-raadslede ná 'n dissiplinêre verhoor afgedank, asook vir Mokotso, wat 'n proporsioneel verkose ANC-raadslid was.

Die raad het hierna in duie gestort.
Die raad het onder nuwe administrasie gekom terwyl die geskorste ANC-lede verskeie hofsake aanhangig gemaak het om hul afdanking uit die raad ongedaan te maak.
Hulle het ook by die ANC appèl aangeteken.
Hulle het selfs by pres. Cyril Ramaphosa beswaar aangeteken en gevra om in hul poste in die raad herstel te word.
In Desember 2019 het hulle egter besluit om die burgerlike organisasie MaP-16 te stig, wat later as politieke party geregistreer is.

In die tussenverkiesings wat gehou is om nuwe raadslede te verkies nadat hulle uitgeskop is, het hulle as onafhanklike kandidate deelgeneem. Uit die 15 het tien hul setels herower.
Mokotso kon nie aan die tussenverkiesings deelneem nie omdat hy 'n proporsioneel verkose raadslid was.
Ramaphosa het intussen gelas dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) Maluti-a-Phofung se geldsake ondersoek.
Tshabalala, oor wie se "skrikbewind" as burgemeester voorheen berig is, het ná die algemene verkiesing in 2019 'n pos in die provinsiale wetgewer as hoofsweep en voorsitter van die komitee oor finansies en openbare rekeninge gekry.
Maar sedertdien is hy deur die tussentydse provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in die Vrystaat geskors.
• Die African Content Movement (ACM) van Hlaudi Motsoeneng van SAUK-faam het twee setels gekry, die Dikwankwetla-party drie setels en die VF Plus maak sy buiging met een setel.










