Mangaung, inwoners moet mekaar weer vind, sê Pappie van AASD

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Mangaung-metro moet weer die inwoners van die gebied nader trek vir openbare deelnameprosesse wanneer dit oor die begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP's) gaan.

Só sê Pappie Mokoena. Hy is 'n oud-burgemeester en nou president van die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD), wat in die munisipale verkiesings in drie Vrystaatse munisipaliteite deelneem: Mangaung, Maluti-A-Phofung (Harrismith, Qwaqwa en Kestell) en Mantsopa (Excelsior, Tweespruit en Hobhouse, Ladybrand).

"Die verhouding tussen die munisipaliteit en sy inwoners het verbrokkel. Dit is waarom die munisipale bestuur dink hy hoef nie verantwoordbaar aan inwoners te wees nie," sê Mokoena oor sy party se verkiesingsmanifes.

"Wanneer die AASD aan bewind kom, sal bande met die inwoners opgetel en versterk en hulle bemagtig word. Inwoners sal seggenskap in die plaaslike-regeringsbestuur kry deurdat hulle na begrotingsdebatte en inligtingsessies oor die GOP genooi sal word."

Pappie Mokoena
Pappie Mokoena

Hy sê deelnameprosesse behoort met inwoners gevolg te word oor alle aspekte van plaaslike regering.

"Die metrobestuur doen in dié stadium net wat hy wil, sonder deelnemende prosesse, en dit is onwettig."

Mokoena het Saterdag die verkiesingsmanifes van sy party by die Mangaung Resource-sentrum in Bloemfontein bekend gestel.

Hy sê mense se vertroue in plaaslike regering moet herstel word en hulle moet saam met hul raadslede wil werk.

"Een van die eerste dinge wat die AASD in werking sal stel, is wykskomitees om saam met raadslede te werk."

Die tweede ding wat sal moet gebeur, is om weer bekwame personeel in die administrasie aangestel te kry. "Dit help nie ons ontbind die raad en sit steeds met 'n administrasie wat onbevoeg is om sy werk te kan verrig nie."

Daar moet gekyk word wie van die munisipale bestuurder, departementshoofde en afdelingshoofde is geskik en bekwaam om die werk te kan doen en wie nie. "Gewone werkers wat nie bevoeg is nie, sal ook vervang moet word."

Hy sê die geldsake van die metro sal reggeruk moet word en mense moet leer om vir munisipale dienslewering te betaal.

" 'n Te groot hap uit die begroting gaan vir die salaris-komponent, terwyl te min geld vir dienste oorbly. Dit sal reggestel moet word."

Mokoena sê die ouditeur-generaal (OG) se bevindings sal uitgevoer moet word. "Amptenare wat gefouteer het, moet vervolg word. Daar moet gevolgebestuur vir verkeerde handeling wees.

"Ons kan nie met korrupsie en onbekwaamheid voortploeter nie."

Hy meen die nasionale tesourie sal 'n groot bedrag geld moet bewillig om die metro reg te ruk, sodat "die gemors binne die munisipaliteit opgeruim kan word".

Mokoena meen ook daar is geen strategie vir ekonomiese ontwikkeling te bespeur nie.

"Plaaslike sakeondernemings kwyn weg terwyl tenders en sakebedrywighede aan ondernemings van ander provinsies gegee word."

Hy spreek hom sterk uit oor die Hauweng- openbare busdiens, waarop al meer as R1 miljard vermors is. "Dit is geld wat by die drein afgegooi is, terwyl 'n goeie openbare vervoerstelsel broodnodig is."

Mokoena sê dit is jammer dat die stad Bloemfontein sy sokkerspan, Celtics, verloor het, want baie mense het die stad vir groot sokkerwedstryde besoek en geld hier bestee.

Wanneer die AASD aan bewind kom, sal bande met die inwoners opgetel en versterk en hulle bemagtig word.

"Dieselfde sal gebeur as Vrystaatrugby en die Cheetahs verdwyn."

Hy sê dit is belangrik dat die regering en munisipaliteit met sakeondernemings, sportklubs, universiteitsinstellings en ander groot bedrywe almal saamwerk om die stad te red.

Die AASD se leuse is "Let's fix this mess". Die party wil graag die stad opruim.

Daar is sommer baie om reg te maak, meen Mokoena.

"Inwoners moet verantwoordelikheid vir hul eie toekoms aanvaar."

Die AASD sal ook iets aan die weghol-elektrisiteitstariewe probeer doen, sê hy.

"In 2011 kon 'n mens vir R1 000 'n 1 000 eenhede krag gekoop het, maar vandag kry 'n mens vir R1 000 net 480 eenhede."

Mokoena is ook ten gunste van die aanstel van 'n onafhanklike ombudsman by die metro om klagtes te hanteer.

SPELETJIES VANDAG

CTA