Onbekwame en selfdienende ANC-lede wat in die verlede in poste ontplooi is, is 'n hoofrede waarom talle munisipaliteite landwyd in 'n krisis gedompel is.
"Baie van die foute wat ons gemaak het, het te make met die mense wat ons ontplooi het. Sommiges het net uit selfbelang opgetree. Sommiges het vergeet hulle is aangestel om die mense van Suid-Afrika te dien," het pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand tydens 'n vraag- en antwoordsessie oor die ANC se verkiesingsmanifes vir die komende plaaslike verkiesings erken.
Ramaphosa het egter benadruk dinge in die ANC en die regering sal verander omdat die party 'n duidelike "streep in die sand" teen korruptes in sy midde getrek het.
Volgens hom is dit ook die hoofrede waarom die party vroeër vanjaar sy opsystaan-resolusie ná erge wedywering tussen die verskillende ANC-faksies daaroor aanvaar en in werking gestel het.
Dié resolusie het tot die skorsing van onder andere Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, gelei wat deur aanklagte van korrupsie in die gesig gestaar word.
"Ek beskou dié resolusie as baie belangrik en as die ware grondslag vir die siel en integriteit van die ANC. Dit sal nou oor die ANC heen in werking gestel word. Dit is nou die wet van die ANC."
"Baie van die foute wat ons gemaak het, het te make met die mense wat ons ontplooi het. Sommiges het net uit selfbelang opgetree.
Volgens Ramaphosa het die instelling daarvan die ANC na 'n punt gelei wat sy benadering ten opsigte van ontplooiing verander. "Ons sal nou die regte mense aanstel wat die werk kan doen. Name sal nie meer net soos voorheen uit ANC-strukture se gunstelinge verkies word of uit ANC-lede wat die beste sing en dans nie."
Op 'n vraag oor waarom die ANC so lank vat om teen korruptes in sy midde opgetree, het Ramaphosa in Afrikaans gesê: "Die agteros kom ook in die kraal. Selfs as ons 'n agteros is, sal ons sulke prosesse bespoedig omdat ons ook nou ongetoetste waters daarmee betree. Ons gaan egter verbeter met die meeste van die dinge wat ons doen."
Rampahosa sê daar is tans voorstelle van tesouriers-generaal van verskeie politieke partye wat finansieel sukkel, soos die ANC, dat die Wet op die Finansiering van Politieke Partye gewysig moet word.
Dié wet het vroeër vanjaar in werking getree en laat geen skenkings van meer as R15 miljoen per jaar vir 'n party toe nie. Skenkers se name moet ook aan die Verkiesingskommissie verklaar word.
Die ANC se interne geldkrisis is tans so erg dat hy al maande lank nie sy werkers kan betaal nie.
Volgens hom het hy en ander ANC-topleiers "slapelose nagte" om geld bymekaar te skraap om ANC-werknemers te kan betaal wie se families erg weens die ANC-geldtekort ly.
Ramaphosa erken dié perke op skenkings veroorsaak "groot geldelike moeilikheid vir verskeie politieke partye - sekerlik vir die ANC ook".
"Ons skenkers wil nie hul name openbaar laat maak nie en skenk minder. Dit het tot die geldtekort by die ANC gelei."
Name sal nie meer net soos voorheen uit ANC-strukture se gunstelinge verkies word of uit ANC-lede wat die beste sing en dans nie.
Volgens Ramaphosa is die wet ondanks die perke op skenkings steeds 'n baie goeie een omdat dit uitwys wie aan partye skenk.
"Die voorstelle is dat die jaarlikse bedrag wat aan partye ingevolge die wet geskenk mag word, verhoog moet word. Dit sal egter steeds verklaar moet word," sê Ramaphosa.

















