Die Mangaung-metro is die vrotste metromunisipaliteit in die land.
Hieroor heers daar eenstemmigheid onder opposisiepartye, inwoners, die ouditeur-generaal (OG), ander instansies wat plaaslike regerings se bestuur en dienslewering beoordeel en politieke ontleders.
Die werklikheid is as 'n doeltreffende omdraai-strategie nie op die laatste teen 1 November ingestel word nie, word die eens trotse Bloemfontein en sy omliggende gebiede deur 'n tragedie in die gesig gestaar.
Die groter opposisiepartye in die metro meen om die ANC tot onder 50% te druk wat setels in die metroraad betref, gaan nie genoeg wees nie, omdat dit die party nie uit die bestuurstoel sal haal nie. Die regerende party sal tot minstens 45% moet val.
Die rede is dat die ANC steeds met kleiner partye soos die AIC, Patriotic Alliance (PA) en dalk ook die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) en ander kleineres 'n koalisie kan vorm, sou hy net onder die 50% inkom.

Statistieke wys dat die ANC in Mangaung in 2014 se provinsiale verkiesings 64,44% van die stemme behaal het, en in 2019 se provinsiale verkiesings 58% - 'n verlies van 6,44 persentasiepunte.
In 2016 se munisipale verkiesings was die stempersentasie vir die ANC in Mangaung 56,77% en die verwagting is dat die party se steun intussen verder getaan het.
Of die party se steun soveel gedaal het dat dit die party tot ver genoeg onder 50% in die metro sal druk, sal op 1 November gesien moet word.
Netwerk24 het met die drie groot opposisiepartye, die DA, VF Plus en EFF, in Mangaung gepraat oor hoe hulle die metro sou regruk as hulle die kans sou kry.
Hardie Viviers, DA-koukusleier van Mangaung: "Mense is keelvol vir die ANC wat in 27 jaar nie dinge op plaaslike regeringsvlak kon regkry nie en toestande bly verswak.
"Dit gaan nie beter nie. Korrupsie en kaderontplooiing is groot oorsake van die probleme wat onmiddellik uit die weg geruim sal moet word."
Hy sê die internasionale kredietgradeerder Moody's het die metro twee keer afgegradeer en werkloosheid in die metro-gebied is aan die toeneem omdat die ekonomie taan en sakeondernemings hul deure moet sluit.
Hy sê dit is nou belangrik dat mense reg sal moet stem.

Viviers sê die DA sal as hy aan die bewind kom, onmiddellik die water- en sanitasieprobleme probeer oplos. "Water- en rioleringslekkasies moet een vir een gepak en reggemaak word. Daar moet ook 'n higiëniese omgewing geskep word waarin mense kan woon en werk. Die vullisverwyderingsdiens sal baie opgeskerp moet word."
Dit is ook baie belangrik dat behoorlike instandhouding en herstelwerk aan elektrisiteitsinfrastruktuur gedoen moet word. Centlec, die elektrisiteitsverskaffer, sal as entiteit ontbind moet word.
"Ons sal verder wil toesien dat ons parke en openbare oop ruimtes behoorlik in stand gehou word en dat ons wêreldklas-paaie kry. 'n Mangaung sonder slaggate.
"Daar moet ook 'n goeie openbare busdiens kom, anders as die Hauweng-busdiens wat die metro nie geïmplementeer kry nie."
Die DA gaan sterk teen misdaad optree en nog sterker teen die redes vir misdaad.
"Ons sal nie wanbestuur en wanadministrasie duld nie en het dit reggekry om adv. Tankiso Mea, voormalige stadsbestuurder, uit die kussings te lig. Hy word nou deur die Valke ondersoek."

Hy sê hul party wil armoede uitgeroei sien, omdat dit een van die hoofredes vir misdaad is. "Werkloosheid is 'n groot probleem. Werk kan geskep word om beleggers hierheen te lok. Ons wil 'n Mangaung skep waar mense wil belê, want tans wil hulle nie omdat die stad soos 'n ashoop lyk."
Die DA sal ook volhoubare behuising wil skep en munisipale en provinsiale grond hiervoor beskikbaar stel om ontwikkeling saam met ander instansies moontlik te maak.
'n Groot probleem is die skuld aan die metro wat op 30 Junie 2021 op R7,18 miljard gestaan het. Die krediteure het op R885 miljoen gestaan deurdat diensverskaffers nie betaal word nie. Op dieselfde datum het die provinsiale en nasionale regering die metro R1,871 miljard geskuld.
"As die ANC-regering sy skuld aan die metro betaal, hoef die metro nie in soveel geldelike gemors te wees soos nou nie."
Prof. Elizabeth Snyman van Deventer, koukusleier van die VF Plus in Mangaung: Die VF Plus wil 'n onmiddellike oudit uitgevoer sien op die werkerskorps van die metro.
"Diegene wat nie oor kwalifikasies beskik vir die pos waarin hulle werk nie en diegene wie se kwalifikasies vervals is, moet verwyder word. Hulle moet met bekwame mense vervang word.
"Die VF Plus wil ook toesien dat daar geldelike beheer en kontrole kom. Begrotings moet opgestel word deur kundiges wat in staat is om begrotings op te stel.
"Departementshoofde moet in staat wees om die behoeftes van hul departemente te kan deurgee.
"Ons sien tans gedurig items op die aansuiweringsbegrotings waarvoor oorspronklik begroot moes gewees het en dit is omdat departementshoofde nie kan begroot nie."
Vir die VF Plus is die ekonomiese ontwikkeling van die metro-gebied van kardinale belang.
"Die middestad moet skoon en veilig gemaak en sakeondernemings daarheen gelok word. Mense moet voel dat hulle hier sake wil doen, want almal beweeg tans weg na woonbuurte toe, wat ook weer probleme skep."
Daar is geen rede waarom Bloemfontein nie ook kantoor- en nywerheidsparke kan hê nie.
"Ons moet vir sakelui kan sê bring jou sakeonderneming na Bloemfontein. Hier is genoeg werkers en die munisipaliteit sal jou ondersteun."
Sy voel ook dat die laaste paar uitvoerende burgemeesters deel van die probleem was, omdat daar te veel mag in dié pos gesetel was.

"Daardie mag moet weer afgesetel word na burgemeesterskomitees om besluite te neem sodat daar kollektiewe besluitneming is."
Snyman van Deventer sê te veel geld word ook met groot projekte soos die Mangaung-metropolisie, Hauweng-busdiens, N-8-deurgangsroete-ontwikkeling en vele ander vermors en die raad moet self meer seggenskap oor hersonering en ontwikkelings kry en 'n komitee moenie soveel inspraak hê nie.
Paulnita Marais, koukusleier van die EFF: Die tenderproses in die metro moet oop en deursigtig gemaak word en werk moet net aan plaaslike ondernemings gegee word.
Dit sal tot stabiliteit in die stad lei.
"Groot werk is ook nodig om die infrastruktuur van die metro op te gradeer, omdat alles nog van die apartheidsera kom en min sedertdien gedoen is om dit in stand te hou. Nuwe infrastruktuur is ook nodig om voorsiening vir die getal mense te maak wat al meer word."
Sy sê informele nedersettings moet formele status kry en die inwoners moet water, elektrisiteit en behoorlike strate kry.
"Werkloosheid bly 'n groot probleem en werk moet geskep word. Daarom is dit nodig dat mense hul munisipale dienstegeld betaal sodat daar geld is om die probleem op te los."
Slegs mense wat gekwalifiseerd is, moet aangestel word en kader-indiensneming moet afgeskaf word.
"Die stad is ook baie vuil en moet skoongemaak word," sê Marais.





















