Beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK) wat by die Plaantjie Primary School in Bosbokrand in Mpumalanga gewerk het, is Maandagaand deur onbekende mans oorval.
Volgens 'n verklaring van die OVK het die beamptes daarin geslaag om te vlug.
"Toe die beamptes gevlug het, het toerusting en stembriewe in die motor agtergebly."
Luidens die verklaring is die stemme van wyk 24 nie in die gedrang gebring nie.
"Die stembriewe is gelukkig klaar getel. 'n Getekende strokie bevestig ook dat die stemme getel is. Een van die beamptes het die strokie by hom gehad toe hulle gevlug het. Die OVK is dankbaar dat niemand in die voorval beseer is nie."
Daar is ook berading vir die beamptes gereël gegewe die trauma wat hulle ervaar het.
Die OVK sê hy hoop die verdagtes word gou opgespoor.



















