Verkiesing 2021

Phoenix-debakel nie al rede vir verlore DA-steun – kenner

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die DA se omstrede plakkate wat in Phoenix verwyder is.
Die DA se omstrede plakkate wat in Phoenix verwyder is.

Die debakel oor die DA-plakkate in Phoenix is waarskynlik nie die vernaamste rede waarom die DA se steun volgens 'n interne meningspeiling van die party met tot vier punte gedaal het nie.

Dít is die mening van prof. Dirk Kotzé, 'n politieke ontleder van Unisa.

Rapport berig 'n DA-bron meen die feit dat die party se steun van 24% in September tot 20,7% afgeneem het, is waarskynlik meegebring deur die plakkate-debakel in Phoenix.

Die DA het ná groot druk die plakkate verwyder. Op die plakkate het gestaan: "Die ANC noem julle rassiste. Die DA noem julle helde."

Hoewel John Steenhuisen, DA-leier, sy steun vir die plakkate uitgespreek het, het die party se federale bestuur later opdrag gegee dit moet verwyder word.

Dit het tot groot verdeeldheid in die party gelei.

Kotzé meen die plakkaat-debakel sal nie 'n invloed hê op die bruin, Indiër- en wit ondersteuners van die DA nie. "Die kritieke vraag is hoe kyk die party se swart ondersteuners daarna. Ek dink daar is onder húlle gemengde gevoelens," meen hy.

'n Mens moet ook onthou 'n meningsopname is presies wat dit sê - wat mense se menings is. Maar dit beteken nie noodwendig hulle sal presies so gaan stem soos hulle sê nie.

—  Prof. Dirk Kotzé

"As daardie meningspeilings korrek is, is dit eerder om ander redes. Een van die redes kan wees dat die kiesers meen die DA het die laaste ruk nie genoeg gedoen om 'n pro-aktiewe opposisie te wees nie, en was ook nie opsigtelik genoeg nie."

Kotzé sê die verlaging in die party se steun kan moontlik ook toegeskryf word aan die feit dat baie eertydse DA-ondersteuners na die VF Plus oorgeloop het.

"Dit is waarskynlik 'n groot oorblyfsel van die algemene verkiesing van 2019. Dit is my teorie dat plaaslike verkiesings die patrone van die vorige nasionale en provinsiale verkiesings volg.

"In 'n mate moet die patrone van 2019 hulself nog uitspeel in die plaaslike verkiesings. Dit beteken die skuif na die VF Plus moet nog op plaaslike vlak plaasvind.

" 'n Mens moet ook onthou 'n meningsopname is presies wat dit sê - wat mense se menings is. Maar dit beteken nie noodwendig hulle sal presies so gaan stem soos hulle sê nie."

Kotzé wys daarop in die plaaslike verkiesings het kiesers in die groter munisipaliteite twee stemme (een vir die kandidaat van jou keuse en jou proporsionele stem) en drie stemme op die platteland wat ook 'n stem vir die distriksmunisipaliteit insluit.

Dit kan gebeur dat mense in die wyksverkiesing vir een party kan stem en in die proporsionele en distriksmunisipaliteit-verkiesing vir ander partye.

"Die meningspeilings wys dalk na 'n neiging, maar dit is gewoonlik nie baie akkuraat nie.

" 'n Ander ding wat 'n mens in ag moet neem, is dat daar gewoonlik 'n merkbare persentasie mense is wat nie wil sê vir wie hulle gaan stem nie. Dit kan soveel as 4% of 5% wees," meen Kotzé.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM