Phoenix-plakkate traak DA niks – Steenhuisen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
John Steenhuisen, DA-leier, Dinsdag in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
John Steenhuisen, DA-leier, Dinsdag in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die omstrede verkiesingsplakkate in Phoenix, noord van Durban, het nie die DA skade berokken nie, want die party het in Maandag se plaaslike verkiesings al drie die wyke daar gewen.

So het John Steenhuisen, DA-leier, Dinsdag in 'n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Dit is die eerste keer in die DA se geskiedenis dat hy in 'n verkiesing al die wyke in Phoenix gewen het.

'n Storm het losgebars om Steenhuisen se kop toe hy ingestem het tot die DA se verkiesingsplakkate vir Phoenix waarop staan "Die ANC het julle rassiste genoem" en "Die DA noem julle helde".

Die DA se federale raad het later besluit dat die plakkate eerder verwyder moet word.

Herman Mashaba, leier van ActionSA, Dinsdag in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria aan die woord. Foto: Deaan Vivier
Herman Mashaba, leier van ActionSA, Dinsdag in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria aan die woord. Foto: Deaan Vivier

Die bewoording het verwys na die rassespanning en die geweld in dié buurt wat tydens die onluste in Julie in KwaZulu-Natal en Gauteng voorgekom het.

Die plakkate het dalk 'n rol gespeel op sosiale media, maar dit het nie gekeer dat die inwoners van Phoenix en Chatsworth hul vertroue in die DA geplaas het nie, het Steenhuisen gesê.

"Dit wat op sosiale media gebeur, is nie dít wat op grondvlak gebeur nie," het Steenhuisen, wat grotendeels Afrikaans gepraat het, gesê.

Die DA-leier het egter die lae kieseropkoms as 'n teleurstelling beskryf. "Ek sou sê een van die redes hiervoor is dat daar geen gevolge is vir mense wat in dié land oortree nie. Daar was al talle kommissies van ondersoeke, maar niemand beland in die tronk nie.

"En as iemand wel tronk toe gaan, is hulle binne enkele weke uit op mediese parool. Die mense is siek en sat daarvoor."

Steenhuisen meen daar was ook talle mense wat die DA voor die tyd afgeskryf het.

"Daar was met dié verkiesing genoeg tekens dat die DA weer op pad boontoe is."

Hy glo dit is die DA se waardes en beginsels wat die kiesers na die party teruggelok het. "Wat ook in ons voordeel tel, is dat ons nie bloot vir mense sê wat ons kan doen nie; ons wys hulle wat ons kan doen."

Herman Mashaba, leier van ActionSA, het ook aan die Netwerk24-program deelgeneem en gesê dié party se goeie vertoning verbaas hom glad nie.

Hy het gesê Suid-Afrikaanse kiesers soek 'n alternatief. "Ons is 'n party wat almal verteenwoordig oor die grense van ras, klas en geslag heen. Ons wil ook die armes se lot verlig, want ons kan nie meer die ongelykste samelewing in die wêreld wees nie."

Mashaba is vasbeslote om in die aanloop tot die algemene verkiesing in 2024 op sy party se prestasies voort te bou. Die party het vandeesweek aan drie verkiesings in Gauteng en drie in KwaZulu-Natal deelgeneem.

Sarel van der Walt en Gert van der Westhuizen

SPELETJIES VANDAG

CTA