2021

Ras, etnisiteit kos ANC stemme, sê SAKP

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Blade Nzimande Foto: Daily Sun
Dr. Blade Nzimande Foto: Daily Sun

Die politieke landskap wat al hoe meer rasgebonde en etnies van aard raak, is een van die "ontstellendste" kenmerke van die pasafgelope plaaslike verkiesings.

Dit is die mening van dr. Blade Nzimande, SAKP-hoofsekretaris, toe hy ook, soos ook die ANC se ander alliansievennoot Cosatu vroeër, sy party se teleurstelling oor die regerende party se vertoning in die verkiesings verwoord het.

Dit kom nadat die ANC se proporsionele steun op nasionale vlak in Maandag se verkiesings vir die eerste keer nog onder 50% gedaal het, én die party in die agt metro's net volstrekte meerderhede in Mangaung (Bloemfontein) en Buffalo City (Oos-Londen) kon behaal. Hy kon ook in 66 munisipaliteite landwyd nie die meerderheid behaal nie.

Nzimande het Donderdag die eeufeesvierings wat die vakbond Nehawu vir die SAKP in Ekurhuleni gehou het, bygewoon.

Die boodskap is duidelik. Kiesers se geduld het opgeraak en die ANC se tyd loop uit.

Met sy verwysing na ras en etnisiteit tydens die verkiesings, het Nzimande in sy toespraak gesê dat "swart mense byna uitsluitlik vir die ANC gestem het, met verswakte ondersteuning in groot stedelike gebiede". Die party moet nou al hoe meer op landelike gebiede vir sy ondersteuning staatmaak.

"Die grootste deel van die bruin gemeenskap stem vir die DA, en in ander gevalle vir partye wat op bruin kwessies fokus, soos die Patriotic Alliance en Good.

"Die Indiër-gemeenskap het oorweldigend vir die DA gestem.

"Die wit gemeenskap het vir die DA gestem, maar met die groei in steun vir die Vryheidsfront Plus was daar ook 'n sterk heropkoms in die Afrikaner-identiteit."

Hy het gesê sterker steun vir die IVP in veral die noorde van KwaZulu-Natal kan ook aan die heropkoms van die Zoeloe-identiteit in daardie gebied toegeskryf word.

Die grootste deel van die bruin gemeenskap stem vir die DA, en in ander gevalle vir partye wat op bruin kwessies fokus, soos die Patriotic Alliance en Good. Die Indiër-gemeenskap het oorweldigend vir die DA gestem.

Volgens Nzimande is die dalende steun vir die ANC 'n aanduider van die verdeeldheid in die party, sowel as die swakker wordende steun in sy tradisionele steunbasisse in veral groot stedelike sentrums weens verskeie faktore.

Hy meen die ANC en sy alliansievennote, veral die vakbondbeweging, moet daarom herbou en hernuwe word, terwyl die ANC weer met sy historiese kiesafdelings versoen moet raak.

Intussen meen Cosatu dat die ANC Eskom moet regruk en verseker dat daar betroubare en bekostigbare elektrisiteit in Suid-Afrika is, korrupsie moet meer beslissend getakel word en die korruptes moet tronk toe gaan indien die party sy nasionale meerderheid in die nasionale verkiesing van 2024 wil terugkry. Hy moet ook die ekonomie verbeter en werkloosheid beslissend verminder.

"Ons hoop dat die teleurstellende verkiesingsuitslae as wekroep vir die ANC sal dien en hom sal aanspoor om tot aksie oor te gaan," het Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, in 'n verklaring in reaksie op die verkiesingsuitslae gesê.

Cosatu het die ANC se verlies aan steun toegeskryf aan faksiegevegte, korrupsieskandale en die wanbestuur van die ekonomie.

"Kiesers het reeds in 2016 die eerste skote afgevuur toe hulle verseker het dat die ANC beheer oor groot metro's landwyd verloor het.

"Die boodskap is duidelik. Kiesers se geduld het opgeraak en die ANC se tyd loop uit," het Pamla bygevoeg.