Die DA het in die pasafgelope munisipale verkiesing in die Vrystaat wyke van die ANC afgeneem op plekke soos Boshof, Dealesville, Winburg, Matjhabeng (Welkom), Metsimaholo (Sasolburg), Philippolis en 'n wyk in Maluti-A-Phofung (Harrismith).
Maar die DA het op sy beurt wyk 16 in Heidedal, Bloemfontein, aan die ANC afgestaan, waar die Patriotic Alliance (PA) van Gayton McKenzie, 'n boorling van Heidedal, glo die kaarte deurmekaar gekrap en nie net stemme van die ANC weggerokkel het nie, maar ook van die DA. Dit het glo gemaak dat die ANC uiteindelik hier gewen het.
Verder het die DA 'n wyk in Mafube (Frankfort) aan die ANC afgestaan nadat 'n onafhanklike kandidaat glo weer daar dinge gekompliseer het, en wat uiteindelik die ANC laat wen het. Die ANC het dié wyk net met een stem bo dié van die VF Plus gewen.
James Letuka, DA-LP en kiesafdelingshoof van die Tokologo-munisipaliteit (Boshof, Dealesville en Hertzogville), en die Letsemeng-munisipaliteit (Koffiefontein, Luckhoff, Jacobsdal en Petrusburg), sê dit is heeltemal waar dat die DA wyk 2 in Boshof van die ANC afgeneem het, asook wyk 3 in Dealesville.
Netwerk24 het Sondag berig 'n klag van omkopery en/of bedrog is Saterdag teen die voorsittende beampte van die Verkiesingskommissie (OVK) in Dealesville in die Vrystaat deur die DA ingedien.
Dit het gevolg nadat iemand glo gehoor het hoe Boitumelo Seakge (44), die burgemeester, die OVK-beampte se hulp gevra het om te help dat die ANC wyk 3 wen. Seakge was self die ANC-kandidaat vir wyk 3, maar dit is uiteindelik deur die DA gewen.
Seakge het Sondag gesê hy kan nie kommentaar lewer nie en het 'n verklaring teenoor die polisie afgelê.
George Michalakis, DA-LP en kiesafdelingshoof van Winburg, sê hy is baie bly en opgewonde dat die DA vir die eerste keer 'n wyk in die Masilonyana-munisipaliteit (Winburg, Theunissen, Brandfort en Verkeerdevlei) van die ANC kon afneem, nadat die DA Winburg, (wyk 4), wat dié dorp en 'n gedeelte van Makeleketla insluit, gewen het.
Michalakis sê die DA het die Winburg-wyk met 26 stemme van die ANC gewen, maar die Masilonyana-munisipaliteit bly steeds onder die ANC se beheer.

"Dit is 'n simboliese eerste stap om nou die hele munisipaliteit vir die DA te wen," het Michalakis gesê.
Dr. Annelie Lotriet, DA-LP en kiesafdelingshoof vir Matjhabeng (Welkom en omliggende dorpe), sê voorlopige uitslae wat nog geoudit moet word, wys ook dat die DA wyk 25 in Riebeeckstad, en wyk 35 in Odendaalsrus, van die ANC afgeneem het.
Sy sê die uitslae lyk baie goed, en in wyk 3 in Hennenman het die DA ook dié keer nog verder gewen nadat die party verlede jaar die wyk in 'n tussenverkiesing van 'n onafhanklike kandidaat afgeneem het.
Mariëtte Pittaway, DA-LPW, sê die DA het in Metsimaholo (Sasolburg) al vyf sy wyke behou, asook 'n bykomende wyk van die ANC afgeneem.
Werner Horn, DA-LP en voorsitter van die party in die Vrystaat, sê dat die party in Philippolis wyk 4 van die ANC afgeneem het. Die DA het hier 65% van die stemme gekry.
Die ANC het egter wyk 16 in Heidedal van die DA afgeneem, asook 'n wyk in Mafube (Frankfort).
Leona Kleynhans, DA-LPW, het Dinsdagmiddag net ná 14:00 gesê dit lyk asof wyk 6 in Harrismith deur die DA gewen is, hoewel dit nog nie so amptelik aangekondig is nie. Dié wyk bestaan uit die grootste gedeelte van Harrismith en 'n plaasgebied buite die dorp.
Oupa Khoabane, woordvoerder van die tussentydse komitee van die Vrystaatse ANC, sê dit is waar dat Heidedal se wyk 16 nou weer onder die vaandel van die ANC is. "Ons is baie, baie bly."
Hy sê dit is ook waar dat die ANC 'n wyk van die DA in die Mafube-munisipaliteit (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) afgeneem het.
Die ANC het al die wyke in Mafube gewen, sê hy.
















