Die DA in die Nelson Mandelabaai-metro (NMB) sal voortbou op sy planne om misdaad in die Baai hok te slaan. Die party wil onder meer die verdere uitbreiding van ShotSpotter-tegnologie en 'n omvattende kringtelevisiekamera-stelsel van R33,5 miljoen oral oor die metro heen implementeer.
Die DA het Maandag sy veilige-metro-veldtog as deel van sy verkiesingsmanifes by die metropolisiekantoor in Chatty, Gqeberha, bekend gestel.
Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, en Andrew Whitfield, DA-LP en woordvoerder oor polisie, het die geleentheid bygewoon. John Best, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, en Yusuf Cassim, MPL en die DA se kiesafdelingshoof vir die noordelike voorstede, het ook die geleentheid bygewoon.
Nqaba Bhanga, NMB-burgemeester en DA-burgemeesterskandidaat, het gesê indien die DA die komende plaaslike verkiesing in die metro wen, gaan die party bykomende metro-polisiekantore met behoorlik opgeleide metropolisielede in die Baai vestig. Dit sluit in polisiekantore in die sakekern, strandfront en die breër sentrale gebied.
Die party sal ook verseker dat buurtwagte die nodige ondersteuning en opleiding ontvang. "Ons moet verseker dat die metropolisie nie net die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersteun nie, maar ook die kritiek belangrike skakel tussen ons gemeenskappe en die SAPD," het Bhanga gesê.

Die plan maak ook voorsiening vir die vestiging van 'n anti-vandalisme-eenheid om munisipale en gemeenskapsbates te beskerm.
Volgens Bhanga het die DA in 2016 in sy begrotingsraamwerk voorsiening gemaak vir die aanstelling van bykomende metropolisielede. Hy sê die party se planne vir die metropolisie is egter omvergegooi toe 'n "koalisieregering van korrupsie" tussen die ANC en EFF aan bewind gekom het vanaf Augustus 2018 tot Desember 2020. Die DA het sy uitbreidingsplanne vir die metropolisie in Januarie vanjaar hervat toe die party weer deur middel van 'n koalisie die meerderheid in die raad geword het.
"Die ANC-EFF-koalisie het nie in die begroting vir die aanstelling van bykomde metropolisielede voorsiening gemaak nie. Ek het instruksies gegee dat daar in die begroting voorsiening gemaak word om die getal metropolisielede te verdubbel. Ons moet seker maak ons versterk ons vermoë om bekwame dienste te bied wat toegerus is om ons verantwoordelikheid na te kom om na die veiligheid van mense om te sien. Ons kan nie wag vir Bheki Cele (minister van polisie) nie. Hy gaan nooit kom nie."
Bhanga sê verskeie van die metroraad se veiligheidsplanne het reeds vrugte afgewerp vanweë onder meer die samewerking tussen 35 buurtwagte en die metropolisie, sowel as ShotSpotter-tegnologie in Helenvale wat tot 'n dramatiese afname in skietvoorvalle gelei het.

Netwerk24 het voorheen berig ShotSpotter-tegnologie kan binne 30 sekondes nadat 'n skoot afgevuur is die ligging met 'n akkuraatheid van 5 m gee. Dit beteken daar kan vinniger gereageer word. Bhanga sê ShotSpotter het al daartoe gelei dat nooddienste en polisie vinniger op meer as 200 skietvoorvalle gereageer het.
Yolande Faro, metropolisiehoof, sê sy verwelkom die feit dat die metropolisie uitgebrei gaan word. "Ek wil ontplooiingsentrums oral in die Baai hê en in die hart van die gemeenskappe, soos hierdie een (Chatty-metropolisiekantoor), want dit maak ons reaksietye vinniger. Ons wil die metropolisie na die gemeenskappe vat."
Daar is tans sentrums in onder meer KwaNobuhle, Motherwell en Humewood. Die sentrums is in bestaande munisipale geboue gehuisves wat nie gebruik is nie en reggemaak is. Teen dié tyd wou sy al sentrums in onder meer New Brighton, Walmer en Zwide gehad het.
Volgens Faro word meer metropolisielede benodig. Sy sê een van die dinge wat die metropolisie noodsaaklik maak, is dat dit drie funksies verrig: verkeerstoepassing, munisipale wetstoepassing en misdaadvoorkoming. "As ons verkeer stop, verrig ons die ander funksies ook. Dis drie kantore in een."





















