10 000 soldate gaan van Saterdag af landwyd ontplooi word om saam met die polisie 'n veilige omgewing vir Maandag se plaaslike verkiesings te skep.
Dié ontplooiing is deel van Operasie Prosper en is onder meer daarop gemik om nasionale sleutelpunte, strategiese en kritieke infrastruktuur van nasionale belang en strategiese roetes landwyd te beskerm. Die owerhede sal ook 'n wakende oog hou oor die Verkiesingskommissie (OVK) se pakhuise waar kiesmateriaal geberg word en die vervoer daarvan.
Pres. Cyril Ramaphosa het die parlement Dinsdag per presidensiële kennisgewing van die soldate se ontplooiing ingelig soos wetlik vereis word.
Die soldate sal terwyl hulle ontplooi is, in terme van die verdedigingswet, dieselfde magte en verpligtinge as die polisie hê.
In die brief aan Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, bevestig die president dat hy die ontplooiing van soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gemagtig het.
"Die soldate word van 30 Oktober tot 3 November ontplooi. Die verwagte uitgawes van die ontplooiing is R47 249 000."
Ramaphosa skryf verder dat die inhoud van die brief ook onder die aandag van LP's gebring moet word.
Intussen het brig.genl. Mafi Mgobozi, SANW-woordvoerder, Donderdag bevestig dat Ramaphosa die ontplooiing van 10 000 soldate gemagtig het sodat hulle die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe kan help om die verkiesings te beveilig.
"Die soldate sal terwyl hulle ontplooi is, in terme van die verdedigingswet, dieselfde magte en verpligtinge as die polisie hê.
Die soldate word van 30 Oktober tot 3 November ontplooi. Die verwagte uitgawes van die ontplooiing is R47 249 000.
"Die weermag, in samewerking met ander wetstoepassingsagentskappe, sal nasionale sleutelpunte, strategiese en kritieke infrastruktuur van nasionale belang, strategiese roetes en die OVK se pakhuise beskerm, sowel as kiesmateriaal en die vervoer daarvan," sê Mgobozi in 'n verklaring.
Vroeër is berig dat Bheki Cele, minister van polisie, Maandag op 'n nuuskonferensie saam met ander ministers van die regering se veiligheidsgroepering gesê het dat KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes- en die Oos-Kaap die provinsies is met die grootste kans vir geweld op 1 November. Probleme kan volgens hulle ook plek-plek in onder meer die Vrystaat, Limpopo en Noordwes ontstaan.
Landwyd word tussen 270 en 300 munisipale wyke as hoërisikogebiede beskou en sowat 3 000 as mediumrisikogebiede. Die meeste van die oorblywende 19 000 word as laerisikogebiede beskou.
KwaZulu-Natal is 'n brandpunt omdat ses mense tot dusver in die aanloop tot die verkiesings daar dood is.
Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het op dieselfde nuuskonferensie Maandag 'n beroep op politieke leiers en partye gedoen om nie in die dae voor die verkiesings opruiende toesprake te maak nie en om hulle by die reëls te hou wat die OVK neergelê het.





















