Dit was die plig van die Verkiesingskommissie (OVK) om ActionSA in te lig oor wat die gevolge sou wees toe hulle nie 'n akroniem vir hul party op die stembrief geregistreer het nie.
Maar toe word die naam van ActionSA op sekere stembriewe vir sekere wyke in Gauteng weggelaat. Net die foto van die wyksraadslid en die embleem van die party verskyn op die brief. Dit sal hulle benadeel op verkiesingsdag.
Adv. Adila Hassim, vir ActionSA, het só aangevoer in die verhoor waar dié party, onder leiding van Herman Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg, die OVK voor die kieshof daag.
Regter Boissie Henry Mbha, regter-president van die kieshof, het saam met drie ander regters die saak virtueel aangehoor.
Die stembriewe is begin van Oktober bekend gestel en ActionSA het kort daarna die hof genader in 'n poging om sy naam, hetsy met 'n plakker of stempel, op die brief te plaas, omdat die briewe reeds gedruk was.
Op die stembriewe verskyn die name van die wykskandidate, die kenteken van hul party en die party se afkorting.
Hulle daag ook die OVK se hantering van die implementering van hul magte ingevolge die Grondwet uit.
Met hul registrasie was daar nooit op die vorms aangedui dat 'n akroniem verpligtend is nie. Hassim sê hulle het op die naam ActionSA besluit juis omdat dit agt of minder karakters bevat, soos wat die OVK vereis.
Daarna, met die bekendstelling van die briewe, het hulle gesien net die foto van die betrokke wyksraadslid en die embleem het sonder die party se naam verskyn.
Hulle het die kwessie opgeneem met die OVK, wat gesê het hulle moes geweet het wat die gevolge sou wees as daar nie 'n akroniem geregistreer is nie.
ActionSA voer aan die vorm het nie gestipuleer dat dit verpligtend is nie, en ook nie verduidelik wat sou gebeur as daar nie 'n akroniem is nie.
Daarom voer ActionSA aan dat die OVK sy grondwetlike pligte versuim deur te verseker dat daar 'n regverdige stemproses gevolg is.
ActionSA word benadeel daardeur en sê die OVK moet dit duideliker in die registrasievorms verduidelik oor wat die gevolge is.
"Hulle kan nie net sê dit is die party se skuld en dat hulle van beter moes geweet het nie," het Hassim gesê.
Mbha het vir haar gevra of dit nie genoeg is dat die foto en die embleem verskyn nie, want die mense wat moet stem, sou weet wie die raadslid is vir wie hulle sou wou stem. Daarom is die naam van die raadslid belangriker in hierdie geval.
Sy het gesê die naam van die raadslid is belangrik, maar die partye se naam belangriker is omdat die raadslid deel is van die politieke party.
Hassim het ook gesê as die naam van die party nie so belangrik was nie, sou geen partyname op die briewe gedruk wees nie.
"ActionSA het die reg om as 'n politieke party geïdentifiseer te word, en nie almal ken die embleem nie en daarom is die naam van uiterste belang. Dit benadeel die party," het sy gesê.
Voorstelle om die verkiesing in die betrokke wyke uit te stel, is ook bespreek. Hassim het gesê om die stemdag met 'n kort tydperk uit te stel om die briewe te herdruk met hulle naam op, sal niemand benadeel nie, maar as dit nie uitgestel word nie, sal dit ActionSA beslis benadeel deur hul naam nie op die briewe te hê nie.
Die OVK sê dit is binne sy reg om te bepaal hoe die stembriewe moet lyk. Dit sluit in die naam van die kandidaat, 'n foto van die kandidaat as hy onafhanklik is, die kenteken van die party en die afkorting, indien dit by die OVK geregistreer is.
Ook is dit nie sy plig om partye in te lig oor wat die implikasies is van die registrasie nie.
Die OVK sê toe ActionSA die eerste keer as 'n politieke party geregistreer het, het hy 'n akroniem gehad, maar het teen die tweede registrasie sy besluit verander. Geen rede is verskaf behalwe dat hulle dit nie hoef te gedoen het nie.
Die blote feit dat die naam agt karakters het en dus op die brief gebruik kan word, kan ook nie as 'n verduideliking aanvaar word nie.
Daar is ook verwag dat Mashaba as van ActionSA en 'n ervare politikus, sou weet wat die gevolge sou wees as 'n akroniem nie gebruik is nie.
Op 'n vraag van die regbank oor of die politieke partye wel ingelig is oor wat die gevolge sou wees, het die OVK se adv. Michael Bishop gesê enige politieke partye sou dit weet, maar daar is geen dokumente waarin dit staan dat dit aan die partye verduidelik is nie. Hy het verder gesê die onus is op die politieke party om te vra as hulle nie seker is nie.
Die OVK sê die hof se bevinding sal 'n groot impak hê omdat daar 13 ander partye is wat nie akronieme geregistreer het nie, wat nou ActionSA se voorbeeld sal volg en die hof nader, en dit kan nie van dié hof verwag word om voor 1 November 'n bevinding vir almal te maak nie.
As die hof bevind dat daar plakkers of 'n stempel gebruik moet word, kan dit tydelik gedoen word, maar volgens Bishop sal dit ActionSA bevoordeel omdat dit op die stembrief dadelik 'n mens se aandag sou trek.
Die OVK vra die hof om eers ná die verkiesing 'n beslissing te maak, want as ActionSA benadeel is, kan hulle 'n aansoek bring daaroor en die hof kan beslis dat die stemproses in daardie wyke weer moet plaasvind.
Mbha het die uitspraak voorbehou, maar gesê hulle sal so vinnig as moontlik 'n bevel maak en dalk die redes later beskikbaar maak.
• ActionSA sal in die verkiesings in net drie metro's in Gauteng (Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane) kandidate stel, asook in die eThekwini-metro (Durban) en die munisipaliteite van Newcastle en KwaDukuza (Stanger) in KwaZulu-Natal.
















