Verkiesing 2021

Uitgeskopte kandidaat van VF Plus ‘gaan nou EFF stem’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die VF Plus het Saterdag die verkiesingsplakkate met Maryna Jacobs se foto op van lamppale verwyder. Sy het vroeër aan Netwerk24 gesê sy het haar spesiaal laat grimeer en haar hare in ’n nuwe kapsel vir dié foto laat sny. Foto: Verskaf
Die VF Plus het Saterdag die verkiesingsplakkate met Maryna Jacobs se foto op van lamppale verwyder. Sy het vroeër aan Netwerk24 gesê sy het haar spesiaal laat grimeer en haar hare in ’n nuwe kapsel vir dié foto laat sny. Foto: Verskaf

Die VF Plus het haar "vir die wolwe gegooi", sê Maryna Jacobs (48), wat tot verlede week nog as dié party se kandidaat in wyk 20 in Dan Pienaar, Bloemfontein, sou staan.

Sy is nou so kwaad vir die party dat sy "vir die EFF gaan stem" omdat "alles vir die komende verkiesing in elk geval 'n sirkus is".

Haar lidmaatskap van die VF Plus is die naweek met onmiddellike effek beëindig nadat dit onder die party se aandag gekom het dat sy glo 'n misdaadgeskiedenis het. Dit hou glo verband met 'n klag van aanranding wat haar skoonsuster in 2009 teen haar aanhangig gemaak het.

Jacobs, wat in Dan Pienaar bekend is vir die werk wat sy in die buurtwag gedoen het, beweer die eienaars van die "klomp onwettige sakeondernemings teen wie ek as buurtwag-vrou opgetree het", het hierdie klag onder die VF Plus se aandag gebring.

Toe haar beweerde misdaadgeskiedenis aan die lig kom en die party haar lidmaatskap beëindig, het sy aanvanklik om verskoning gevra vir enige verleentheid waarin sy die party moontlik kon gebring het.

Sy was glo nie bewus daarvan dat sy 'n misdaadgeskiedenis het nie, aangesien sy destyds 'n afkoopboete van R200 betaal het "en nooit in die hof verskyn het nie".

Sy het onderneem om by die polisie navraag te doen. Sy het vandeesweek R400 betaal vir 'n sertifikaat van die polisie se misdaadgeskiedenis-databank, wat volgens haar wys dat sy nié 'n misdaadgeskiedenis het nie.

Sy het die sertifikaat aan die VF Plus oorhandig.

Wouter Wessels, nasionale verkiesingshoof van die VF Plus. Foto: Mlungisi Louw
Wouter Wessels, nasionale verkiesingshoof van die VF Plus. Foto: Mlungisi Louw

Wouter Wessels, nasionale verkiesingshoof van die VF Plus, sê egter dié sertifikaat is nie 'n klaringsertifikaat nie. Daar staan boonop in dié sertifikaat "dat daar in 2009 'n aanrandingsklag teen haar was".

"Die party volstaan daarmee dat Jacobs 'n misdaadgeskiedenis het en dat sy nie meer sy kandidaat in die komende munisipale verkiesing is nie.

"Haar naam sal egter steeds op die stembrief verskyn as die VF Plus se kandidaat omdat dit reeds gedruk is."

Hulle doen 'n beroep op kiesers "om vir die party se waardes en beginsels te stem".

"Ons het Maryna in kennis gestel dat sy teen die party se besluit kan appelleer. Die VF Plus verifieer al sy kandidate se misdaadgeskiedenisse en vra dat voornemende kandidate dit op die benoemingsvorm verklaar.

"Dit blyk dat hier 'n wanvoorstelling was en dat sy dit nie verklaar het nie."

Volgens Wessels sien iemand anders van die party nou na wyk 20 om. "Die benoemingsproses vir die komende verkiesing het reeds gesluit en daar kan nie nou iemand anders in die wyk vir die VF Plus benoem word nie. As Jacobs se appèl nie slaag nie of sy appelleer nie, en die VF Plus wen wel die wyk, sal daar basies eers weer 'n tussenverkiesing moet plaasvind."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM