Maandag 1 November gaan sowat 2 miljoen mense in die Vrystaat en Noord-Kaap hul kruisies trek in die allerbelangrike plaaslike verkiesing. Die meeste munisipaliteite in die sentrale hartland is óf bankrot óf die dienste is power. Die regerende ANC was nog nooit so onder druk nie. 'n Paar kiesers van oor die spektrum heen sê hoe hulle voel en of hulle wel Maandag hul kruisies gaan trek. Netwerk24 se span in die Vrystaat en Noord-Kaap berig.

Tanya Kriek (42), bloemiste by The House of Flowers in Kimberley
Ja! Ek gaan stem. Daar is duidelike bewyse dat ons iets moet doen om die munisipaliteit te bevorder. Om iemand daar te kry wat gaan omgee wat van Kimberley word. Die paaie, die water, alles is in 'n toestand en ons almal ly daaronder. Dis nie net bruin, swart, geel en pienk nie, almal ly onder die munisipaliteit wat ons het. Ons moet stem as ons 'n verskil wil maak. Ons móét.

Richard Henney (69), pensioenaris van Heidedal, Bloemfontein
Let bygones be bygones, ek is klaar met die politiek. Ek gaan nie stem nie. Ek het die afgelope paar dekades vir die DA gestem, maar ek sien níks verander nie. Dit raak net slegter en slegter en slegter.
As ek in die Kaap was, het ek vir hulle gestem, want daar gaan iets aan.
Rondom my hoekerf in Heidedal is drie verskillende stortingsterreine. En ons paaie is in so 'n haglike toestand dat ek nie weet watter kant toe nie.
Ek het 'n besluit gemaak in die lewe, my gesondheid kom eerste en ek lewe nou net vir die Here. Hy sal hierdie mense wat so steel, regsien.
Ek gaan nie stem nie, maar ek kan dalk van plan verander.

Donald Segopa (47), wat by die Vrystaatse provinsiale tesourie werk en in Grasland Wyk 4, Bloemfontein, woon
Ek gaan stem, want waar ek woon het ek gesien wat ons huidige raadslid doen teenoor hoe die genomineerde raadslid is. Ek gaan vir die DA stem sodat ons huidige raadslid kan bly, want die ander een is van geen nut as dit by dienslewering kom nie.
Ek wens normale dienslewering soos die herstel van paaie en straatligte wat al lank stukkend is, kan ná 1 November begin plaasvind.
Korrupsie is die kommerwekkendste ding in hierdie land.

Tayyab Tariq (26), winkeleienaar by Mimosa Mall in Bloemfontein, en oorspronklik van Pakistan
Hoekom sal ek my stem en tyd mors in hierdie korrupte land?
Ons kort 'n leier soos Imran Khan, Pakistan se premier. Hy is nie so behep met geld nie.
Ek is al so vyf jaar in Suid-Afrika. Bloemfontein kan beter bestuur word, maar dis baie lekkerder hier as in Johannesburg, waar ek eers gewoon het. Hier is baie meer vrede.

Chris Neethling (65), eienaar van 'n pandjieswinkel in Hennenman
Ek gaan vir die DA-raadslid, Maxi Badenhorst, stem omdat sy darem haar bes teen 'n oormag doen vir die dorp. Werkers wat die dorp se paaie kon help regmaak, lê onder die bome en niks doen.
Die diensleweringsprobleme is baie sleg vir my onderneming, want mense wil yskaste of ander elektriese toerusting koop of verkoop. Dan is daar dikwels nie krag om die toerusting te toets voordat ek dit sou koop of verkoop nie.
Inwoners ly ook gereeld skade met yskaste wanneer daar beurtkrag of ander kragonderbrekings is. Ons water in die dorp was skaars weer terug toe bars 'n pyp en sit die hele dorp sonder water. Hulle doen nie instandhouding nie, maar maak 'n ding eers reg as dit breek.

Jacob Kaputsa (40), Phomolong, Hennenman
Ek gaan nie stem nie, want as 'n raadslid eers geld in sy sak het, vergeet hy wie vir hom gestem het.
Hulle vat net ons geld en gooi dit in die water.
Phomolong lyk soos 'n asgat en die hele township stink na rioolvuil. Daar is oumas wat al van 2005 wag vir HOP-huise. Hulle het die fondamente gegooi en nou gebeur daar niks nie.

Anna-Marie Oosthuysen (68), eienaar van 'n private skool in Sterkspruit, woonagtig in Lady Grey
Ek gaan maar vir die DA stem, dit is seker die lig en die hoop daarso. Ek sou eers vir 'n ander party stem, maar die kandidaat is nie my en my man se keuse nie.
Met die regerende party op die oomblik is dit totale verval.
Dis net vir my asof daar 'n selfverrykingsproses van die ANC is, selfs in 'n klein dorpie soos Lady Grey. Ek hoop daar kom 'n bietjie verandering. Ons paaie is in 'n toestand. Ek weet dit is nou provinsiale administrasie wat daarvoor verantwoordelik is, maar selfs die pad na ons pragtige Lady Grey-dam is so dat ons nie meer toeriste daarheen kan vat nie.

Wynand Bezuidenhout (22), student in Bloemfontein
As jy nie stem nie, mag jy nie kla nie. Sonder jou stem het jy en jou klagtes ook nie 'n voet om op te staan nie.
Ek gaan stem omdat dit my die geleentheid bied om verbetering te verseker vir die provinsie en land waarin ons woon.
Ek is baie lief vir die land, ons is so kultuur- en geskiedenisryk, maar ons beeld stem nie ooreen met ons hart en potensiaal nie.
Een verkiesing gaan dalk nie alles wat fout is dadelik regruk nie, maar dis 'n goeie begin.

Lesego Motsiri (33), kunsstudent in sy finale jaar aan die Universiteit van die Vrystaat, wat in Willows in Bloemfontein woon
Ek gaan in die munisipale verkiesing stem, ek is nie seker wat die party se naam is nie; dit is iets soos "Hope".
Ek het nog nie voorheen in die munisipale of nasionale verkiesing gestem nie, omdat ek nie regtig polities ingestel is nie. Ek studeer en het twee werke net om my deur te dra. Werksgeleenthede is 'n groot kwessie, wat niemand hanteer nie, veral in Bloemfontein.
Almal praat oor grondhervorming en alles anders, behalwe oor die mense self en dit wat hulle nodig het.
Registrasiesyfers lyk só:
* Die Verkiesingskommissie (OVK) sê altesaam 1 413 122 mense in die Vrystaat het vanjaar geregistreer om Maandag te kan stem.
* OVK-woordvoerder Mmabatho Rasengane het bevestig dit is minder as in 2016 toe dit 1 470 999 was.
* Altesaam 410 711 mense in Mangaung het geregistreer om te kan stem en 176 035 in Maluti-a-Phofung.
* Altesaam 5 892 kandidate dit gaan uitspook vir setels in die 22 munisipaliteite in die Vrystaat. Onder hulle is 134 onafhanklike kandidate.
* Die getal geregistreerde kiesers in die Noord-Kaap is 623 188. Daar is 26 munisipaliteite in die Noord-Kaap en 72 onafhanklike kandidate.





















