Die DA het Helen Zille ontplooi in Nelson Mandelabaai, die metro buite Kaapstad waar dié party se kanse die beste lyk om ná 1 November die grootste party te wees.
Sy kry veral aftrek onder wit en bruin Afrikaanse kiesers, terwyl Nqaba Bhanga, die DA-burgemeester, hom op die werf van swart kiesers in en om Gqeberha toespits.
Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Vrydag aan Rapport bevestig sy sal tot die verkiesing op 1 November in Gqeberha woon.
Zille se ontplooiing kom nadat pres. Cyril Ramaphosa en die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, Gqeberha verlede Sondag besoek het om vir die ANC stemme te werf.
Die twee partye se leiers het mekaar die afgelope week opgekeil maar oor een ding saamgestem: dat 'n koalisieregering in dié metro nie weer sal werk nie.
In 2016 het slegs 12 000 stemme en vier setels tussen die DA en 'n volstrekte meerderheid in die metroraad gestaan (sien grafika). Dit was die eerste keer sedert die aanvang van demokrasie dat die ANC nie 'n meerderheid in die stad gekry het nie.
Sedertdien is Nelson Mandelabaai se politiek 'n wipwarit van onstabiele koalisieregerings wat gelei is deur vier burgemeesters uit drie partye. Volgens Bhanga is dié onstabiliteit die rede waarom die DA 'n volstrekte meerderheid moet kry.
"Slegs dan kan ons die DA-bloudruk vir goeie regering implementeer," sê Bhanga.
Zille stem saam.
Koalisies is 'n no-no. Die DA het self in 2016 ernstige toegewings aan die EFF as koalisievennoot gemaak, veral wat grond betref.
"As ons dinge gedoen wil kry, dan gaan ons stabiliteit (in die raad) kort. Dit is 'n onmoontlike mandaat om met 'n koalisie van 'n paar klein partye te regeer omdat hulle slegs enkele verteenwoordigers het wat dan magtige posisies op die raad wil hê."
Thabo Matiwane, die ANC-LPW wat die party se veldtog in Nelson Mandelabaai lei, stem saam.
"Koalisies is 'n no-no. Die DA het self in 2016 ernstige toegewings aan die EFF as koalisievennoot gemaak, veral wat grond betref," sê Matiwane.
"Kleiner partye hou hul groter koalisievennote as gyselaar. Dis waarom ons nou aan kiesers verduidelik dat ons 'n meerderheid kort, want ons kan nie langer afgepers word om toegewings te maak nie."
Die DA se kernboodskap in Nelson Mandelabaai was deurentyd dat hulle inwoners vra vir "50% + 1".
Maar daar is vrese dat die motorongeluk waarby Bhanga in Augustus betrokke was, dié drome kon verydel het. Bhanga wou by navraag hom nie uitlaat oor die ongeluk op 28 Augustus tussen sy Mercedes-Benz en 'n Audi waarin twee mense dood is nie, omdat dit reeds deur die polisie en die DA ondersoek word.
"Wanneer jy nie skuldig is aan iets nie, dan moet jy nie wegkruip nie. As jy skuldig is, dan sal jy wegkruip," het hy aan City Press oor die ongeluk gesê.
Gevra oor die moontlikheid van 'n nuwe koalisieregering, sê Bhanga hy glo sy party se verhouding met die United Democratic Movement (UDM), met twee setels, het die laaste paar maande gestabiliseer sedert Luxolo Namette van die UDM as sy adjunk aangewys is.
Die UDM se voormalige leier in Nelson Mandelabaai, Mongameli Bobani, was 'n stok in die wiel van die DA se eerste én die ANC se daaropvolgende koalisieregering in die metro.
Bobani het uit die aanvanklike DA-ACDP-Cope-UDM-koalisie in 2017 onttrek nadat hy verwyder is uit sy pos as adjunkburgemeester deur Athol Trollip, destydse DA-burgemeester, weens korrupsiebewerings.
















