Koalisie-onderhandelings raak nou vuurwarm omdat die raadsvergaderings waarop burgemeesters en speakers verkies moet word, teen Donderdag gehou moet word.
Politieke partye sal dus alles in die stryd werp om koalisie-ooreenkomste te beklink voordat die raadsvergaderings volgens wet gehou word binne 14 dae nadat die verkiesingsuitslae bekend gemaak is.
In 66 onbesliste munisipale rade, waaronder vyf metrogebiede oor die land heen, moet koalisies gevorm word omdat geen politieke party daar 'n volstrekte meerderheid behaal het nie.
Daar is egter nog onsekerheid oor die verkiesingsproses van burgemeesters en speakers.
Sover bekend is slegs 'n koalisie-ooreenkoms al beklink tussen die Cederberg Eerste Gemeenskapsorganisasie, die DA en die VF Plus vir die Cederberg-munisipaliteit.
Volgens bronne sal koalisie-onderhandelings waarby die DA betrokke is, Maandag en Dinsdag op 'n vergadering in Johannesburg op die spits gedryf word.
Die ander politieke partye wat op die vergadering verwag word, sluit in ActionSA, die VF Plus en die ACDP.
Op dié vergadering sal onder meer probeer word om koalisie-ooreenkomste vir die Nelson Mandelabaai-, Tshwane- en Johannesburg-metro af te handel.
Die moontlikheid om in dié metro's 'n DA-meerderheidsregering te vorm, hang egter daarvan af of verskeie ander kleiner partye bereid is om deel van so 'n koalisie te wees.
John Steenhuisen, DA-leier, het weer gesê sy party is nie oorhaastig om enige koalisie-ooreenkomste te beklink nie.
"Ons het ons koalisie-aanbod op die tafel gesit wat duidelik stel wat ons waardes en beginsels en doelwitte is. Ons is op soek na stabiele regerings wat hul meerderheid op die duur sal behou."
Intussen het die EFF die appelkar probeer omgooi met sy eie planne, wat onder meer 'n EFF-burgemeester in Tshwane sou behels.
Dit is egter in die kiem gesmoor nadat ActionSA se senaat Vrydagaand besluit het om 'n EFF-voorstel van die hand te wys omdat dit samewerking met die ANC sou behels.
"Kiesers het aan ons 'n mandaat gegee om die ANC te ontsetel en ons sal in geen omstandighede met die ANC saamwerk nie," het Herman Mashaba, leier van Action SA, aan die SAUK gesê.
Ingevolge die voorstel sou die drie partye saamwerk, en die EFF in Tshwane, die ANC in Ekurhuleni en ActionSA in Johannesburg aan die stuur van sake wees.
Volgens City Press vind onderhandelings tussen die EFF en die ANC plaas oor koalisies tussen hulle in Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en KwaZulu-Natal.
Die EFF eis glo onder meer die pos van burgemeester in die Govan Mbeki-munisipaliteit (Secunda).
Sommige ANC-lede wil blykbaar veral die samewerking van die EFF kry om in die eThekwini-metro aan die stuur van sake te wees.
Pule Mabe, ANC-woordvoerder, en Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, het nie op navrae gereageer nie.
Prof. Chirsti van der Westhuizen, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê soos sy verstaan, is die EFF bereid om met die ANC saam te werk, en is die ANC nie bereid om met die EFF saam te werk nie.
"Die groot rede is die EFF se belaglike eise wat alles te doen het met nasionale beleid, maar niks te doen het met plaaslike regering nie."
Die EFF eis onder meer:
• Die wysiging van Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding binne ses maande moontlik te maak;
• Die skep van 'n staatsbank binne 12 maande;
• Die afskryf van studieskuld binne 12 maande;
• Die skep van 'n staatsbeheerde farmaseutiese maatskappy binne 12 maande;
• Die verwydering van die gedeelte van "Die Stem" uit die volkslied binne 12 maande;
• Die verskaffing van gratis water en elektrisiteit aan alle begunstigdes van die Sassa-toelaes;
• Die verskaffing van gratis sanitêre doekies vir almal.
Volgens Van der Westhuizen is partye soos die DA, die VF Plus en ActionSA nie bereid om met die ANC saam te werk nie omdat hy in verskeie munisipaliteite swak regeer. "Voorts het hulle kiesers hulle nie 'n mandaat gegee om met die ANC saam te werk nie. Indien partye met die ANC saamwerk, is hulle boonop geneig om te verswak. Dit het byvoorbeeld met die Nuwe Nasionale Party gebeur."
Verkiesing van ampsdraers
Netwerk24 kon nie met duidelikheid vasstel of burgemeesters en speakers op die eerste raadsvergadering met 'n gewone meerderheid of 'n volstrekte meerderheid (50 plus een stem) van die teenwoordige raadslede verkies moet word nie.
Hoe dié proses werk, sal implikasies hê vir die verkiesing van burgemeesters en speakers vandeesweek in onbesliste rade waar 'n meerderheidsregering nie gevorm kan word nie omdat politieke partye nie wil saamwerk nie.
Kragtens art. 160 (3) en (2) van die Grondwet word 'n "meerderheid" vereis vir die goedkeuring van munisipale verordeninge, begrotings, die instelling van tariewe en ander heffings en die goedkeuring van lenings.
Alle ander vraagstukke voor 'n munisipale raad vereis 'n "meerderheid van die stemme wat uitgebring is".
In Bylae 3 van die Wet op Munisipale Strukture van 1998 word die proses vertroebel deur die "uitskakelingsprosedure" indien daar meer as twee kandidate vir die betrokke poste is.
Dit lui dat as geen kandidaat 'n "meerderheid" van die stemme ontvang nie, moet die kandidaat wat die minste stemme ontvang het, uitgeskakel word.
Die proses moet herhaal word totdat 'n kandidaat 'n "meerderheid van die stemme ontvang".
Katlego Mathebe, voormalige speaker van die Tshwane-metro, en Barnie Groenewald, voormalige speaker van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, meen speakers en burgemeesters kan slegs met 'n gewone meerderheid, en nie 'n volstrekte meerderheid van die teenwoordige raadslede nie, verkies word.
Terry Tselane, voormalige adjunkvoorsitter van die Verkiesingskommissie (OVK), meen weer dat 'n volstrekte meerderheid wel nodig is.
Prof. Dirk Kotzé voorspel dat die verkiesing van burgemeesters en speakers, waar dié onduidelikheid ter sprake kom, in die howe sal beland.
Van der Westhuizen benadruk dat minderheidsregerings ook gevorm kan word, waar 'n koalisie aan die stuur van sake is sonder die meerderheid setels.
In sulke gevalle kan ander partye saam met die minderheidsregering stem oor sekere kwessies.
Indien iets soos begrotings, wat wel 'n volstrekte meerderheid vereis, nie goedgekeur word nie, is daar die risiko dat die provinsiale LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake die raad sal ontbind en die munisipaliteit onder administrasie sal plaas.
Indien dit gebeur, moet tussenverkiesings volgens die Grondwet binne 90 dae gehou word.











