Plaaslike verkiesings

KYK: Het Kapenaars krag om te stem?

Krag. Dit is wat Kapenaars wil hê ná die verkiesing op 8 Mei.

Stephen Segerman oftewel "Sugar" (64), 'n sakeman van Kaapstad, het gesê mense wil sien dat Eskom se probleme opgelos word.

"Ek weet nie of dit sake- of tegniese probleme of korrupsie is nie, maar almal weet dat die land nie sonder Eskom kan funksioneer nie. Ek dink nie dit is 'n onoplosbare probleem nie," sê hy.

"As Eskom se probleme opgelos is en van korrupsie ontslae geraak is, kan ons 'n lekker land hê."

Segerman sê hy sou ook meer mense in hegtenis wou sien nadat verskeie groot korrupsieskandale oor die afgelope tyd aan die lig gekom het.

"As iemand miljoene rande steel, wil mense sien dat hulle tronk toe gaan. Ek sien nie dat die skuldiges tronk toe gaan nie," sê hy.

Stephen Segerman (64)Foto: Adrian de Kock
Stephen Segerman (64)Foto: Adrian de Kock

Volgens hom gaan hy beslis stembus toe, want "ek stem altyd".

Ook vir Marina Robenson (59) van Summer Greens, Century City, is elektrisiteit 'n groot probleem.

"Ek wil veranderinge sien by Eskom, en die afskaffing van beurtkrag. Ek het verskriklik gesukkel gedurende beurtkrag, want al my kos het sleg geword. Dinge het treurig gegaan."

Sy gaan beslis vir die DA stem. "Ek glo Mmusi Maimane sal 'n verskil maak," sê sy.

Nog 'n doring in Kapenaars se vlees is openbare vervoer.

"Ek dink ekstra busbane moet in sekere dele van die stad aangebring word," meen Colette van der Merwe (26) van Tygerberg, wat beslis ook gaan stem.

"Veiligheid moet opgeskerp word," sê sy.

Vir Andrea Folgado (32) sal dit die eerste keer wees dat sy gaan stem. Sy het nog nooit nie, want vorige kere was dit te moeilik om by die stemlokaal uit te kom.

"Ek het al baie gesukkel om tyd af te kry by die werk. Maar ek wil beslis vanjaar gaan stem."

Ronald Adams (47), 'n roomysverkoper van Kalksteenfontein naby Bonteheuwel, is baie pessimisties oor die verkiesing.

"Ek gaan nie stem nie, want dit gaan tog nie help nie. Niemand gaan ons probleme kan oplos nie. Hulle is vol leë beloftes," sê hy.

Dit is veral die kragonderbrekings en 'n tekort aan werk wat hom pla. "Ek het al baie geld weens kragonderbrekings verloor. Onverwagse onderbrekings veroorsaak dat al die roomyse smelt. Dit is ook baie moeilik om werk te kry wanneer 'n bestaande kontrak verstryk," sê hy.

Reuben Mogoba (44) sê hy twyfel of hy vir die ANC gaan stem. "Ek stem saam met baie van wat hulle doen, maar sekere dinge pla my ook. Dieselfde met die EFF. Malema het 'n paar goeie punte beet, maar ek stem nie noodwendig met hom saam oor die gebruik van geweld nie," sê hy.

"Ek wil verandering sien in dienslewering in Dunoon waar ek woon. Ek het al baie gekla, selfs 'n brief aan die burgemeester van Kaapstad gestuur, maar niemand luister na my nie."

Mogoba sê nadat polisielede verlede maand gestaak het, is hy ook veral oor die polisiediens bekommerd. "As die polisie, wat veronderstel is om ons veilig te hou, nie tevrede is nie, wat lê vir ons voor?"

Korrupsie is ook een van sy grootste griewe teen die ANC.

Howard Fyvie (31), 'n rolprentmaker van Port-Elizabeth, sê hy twyfel ook nog oor wie sy stem gaan kry, maar hy sal daaroor bid en leiding vra.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM