Promosie

Afgetredenes se wysheid is nodig

Die dekselse slaggate - oral in die land!

'n Groep huiseienaars in Vereeniging het besluit: Kom ons maak van die slaggate blomtuine. Nie ver daarvandaan nie, het die inwoners van Parys besluit: Kom ons maak die gate eerder reg.

Ds. Fanie le Roux
Ds. Fanie le Roux (SYSTEM)

"Dit was 'n hele onderneming," vertel ds. Fanie le Roux. "Ons dorp was nie die enigste nie. In Kroonstad, Viljoenskroon en in Coligny, op baie plekke, het dit ook gebeur. Maar in Parys was dit iets besonders. Ons leef in 'n stukkende dorp. Die mense is arm, verdeeld en wanhopig.

"Die onlangse hofsaak waarin wit boere weens die moord op plaasarbeiders tereggestaan het, het Parys in twee geskeur. So kan dit nie aangaan nie, het 'n aantal Parysenaars - wit en swart - vir mekaar gesê. Onder leiding van Braam Cilliers is 'n Parys-in-Aksie-groep in die lewe geroep wat mans en vroue aan die werk gesit het om Parys weer skoon en mooi te maak. AfriForum se Selfdoen-groep het die manne opgekommandeer om die slaggate in en om die dorp te herstel."

Dis lekker om Fanie le Roux te hoor praat. Ná sy aftrede - hy was 42 jaar lank dominee, eers in 'n swart en toe in 'n bruin gemeente, en uiteindelik 27 jaar lank dominee in Kloof-en-Dal-gemeente aan die Wes-Rand - het Fanie en sy vrou, Marietjie, na Parys verhuis om rustig aan die oewer van die Vaalrivier te gaan uitspan.

Moenie glo nie! Die Le Roux-egpaar het dalk afgetree, maar lank nie morsaf-getree nie.

Ds. Le Roux het sy hele bediening daaraan gewy om mense te inspireer om hul geloof op elke terrein van die samelewing uit te leef, om sout en lig te wees. Dit is ook ons gereformeerde erfenis, sê Le Roux, om in elke stukkie van die wêreld Christus se koningskap te bevestig.

Deur die jare was dit sy passie om mense sover te kry om na mekaar uit te reik, om brûe van versoening te bou. Hy het na Suid-Amerika gereis om te gaan kyk hoe gewone Christene, dikwels op die mees onverwagte plekke, sout en lig is. In Argentinië is daar 'n model-gevangenis wat eers vuil en stukkend en onregeerbaar was.

Alles het verander toe 'n groep gevangenes tot bekering gekom het en hul geloof prakties begin uitleef het. Hulle het die geweld hokgeslaan en begin om self die tronk skoon te maak en die geboue te herstel.

"Ons groot uitdaging is om almal betrokke te kry, die wit Parysenaars, die swart inwoners van Thumahole, die sakekamer en die verskillende kerke, almal sáám. Om nie net die slaggate nie, maar al die ander stukkende plekke in ons gemeenskap reg te maak. Ek wil veral almal wat afgetree het, gaan haal om saam te werk. Ons dorp se mense het hul ervaring en wysheid baie nodig."

Fanie praat Gryskrag se taal, het ek gedink. Om senior burgers te inspireer en betrokke te kry om ons land 'n beter land te maak, om hul kennis en ervaring beskikbaar te stel. Om nie morsaf te tree nie!

  • Dr. Karel Prinsloo het toestemming gegee dat hierdie artikel uit Plus50-tydskrif hier gepubliseer mag word.

GEBORG

Bataleur-landgoed

Die keuse van jou ideale aftree-woning is sonder twyfel een van die belangrikste besluite wat jy gedurende jou leeftyd sal neem. En nie sonder rede nie. Dit is ‘n groot belegging - nie net finansieel nie, maar ook emosioneel.Dit is egter nie nodig dat jy jou leefstyl moet inboet as jy hierdie stap neem nie. Inteendeel - Bateleur-landgoed bied eksklusiewe, bekostigbare eenhede, die ideale aftree-leefstyl en wêreldklas-gesondheidsorg!

Groot Parys Leefstyl-landgoed

Groot Parys Leefstyl-landgoed is 'n bekende landmerk in die Kaapse wynlande. Vandag word daar op 'n 14 ha-gedeelte van dié historiese Bolandse-plaas in die Paarl 'n beveiligde leefstyl-landgoed vir 50-plussers ontwikkel. Groot Parys Leefstyl-landgoed se wonings spog met 'n moderne plaashuisargitektuur waarby Kaapse Karoo-ontwerpelemente met energie- en omgewingsvriendelike praktyke verweef is. Elke huis se stoep en leefvertrek nooi jou uit om agteroor te sit, jou voete op te skop, en rustig te raak. Hier wil jy kook en kuier. Verskeie voltitel- en deeltiteleiendomme is beskikbaar. Maak 'n draai by die landgoed of kontak Marius en Werner Pieters, die pa-seun-bemarkingspan, by sales@grootparysestate.co.za of by 082 566 0853.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM