Bellevue

Vanjaar bied Bellevue 'n Valentynsete vir die hele gesin aan! Alle volwassenes kry 'n gratis nagereg saam met elke hoofgereg wat bestel word. Jy betaal ook halfprys vir enige gereg op die kinderspyskaart en daar sal 'n springkasteel wees om die kinders besig en vermaak te hou. Dis 'n wen-wen-situasie vir almal. As jy nie wil sit en eet nie, bestel jou maaltyd en neem dit huis toe, terwyl jy steeds al die voordele kan geniet. Skakel 021 865 2054 of stuur e-pos na chef@bellevue.co.za om julle plek te bespreek.
Hazendal

Hazendal nooi jou en jou geliefde om hierdie Valentynsdag die romanse te vier met 'n heerlike buitelug-piekniek. Geniet die bekoring van dié asemrowende landgoed - ontspan op die lowergroen grasperk met die prag van die Simonsberge en 'n strelende musiekoptrede in die agtergrond. 'n Verwelkomingskemerkelkie en spesiale happies sal die aand op die regte noot begin, waarna julle kan uitsien na 'n piekniekmandjie propvol watertandgeregte en versnaperings. Aangesien die alkoholverbod gelig is, sluit Hazendal ook 'n bottel Christoffel-wyn in. Elke paartjie betaal R850 en dit sluit 'n verrassing van Hazendal in. Bespreek jou plek by 021 903 5034 of bookings@hazendal.co.za vir 17:00 tot 19:30 op Sondag 14 Februarie.
La Bri

Steel jou wynliefhebber se hart met La Bri se geskenkpak met drie bottels wyn! Kies of jy wit- of rooiwyn wil hê of koop albei soorte en jy kry afslag. Bestel jou wyn aanlyn op www.labri. co.za.
Soek jy 'n rustige, romantiese plekkie om te gaan piekniek hou saam met jou Valentyn op Sondag 14 Februarie? La Bri is net die plek! Wat sal dan nou beter werk as hul privaat tuin langs die ou herehuis se dam, omring deur wingerde en die majestueuse Franschhoekberge. Teen R700 kry jy 'n piekniekmandjie vir twee wat 'n wyngeskenkbewys ter waarde van R170 insluit. Besprekings sluit op 10 Februarie. Daar is slegs beperkte plek beskikbaar, so stuur so gou as moontlik e-pos na pr@labri.co. za om jou plek te verseker.
La Motte

Geniet 'n romantiese Valentynsdag-piekniek op La Motte! Die skaduryke tuine van die historiese landgoed word spesiaal vir die geleentheid oopgestel. Paartjies kan sjef Eric Bulpitt se Valentyn-geïnspireerde piekniekspyskaart (R550 vir twee) en La Motte se heerlike wyne geniet. Wegneempieknieks is ook beskikbaar. Bespreek op la-motte.com, skakel 021 876 8800 of stuur e-pos na pierneef@la-motte.co.za.
Nederburg

Vier Valentynsdag saam met die spesiale persoon in jou lewe by The Manor-restaurant op Nederburg in die Paarl. Geniet 'n romantiese piekniek onder die bome op Sondag 14 Februarie teen slegs R460 per piekniekmandjie (vir twee). Bespreek jou plek by 021 862 3104 of stuur e-pos na info@nederburg.com.












