Promosie

Cancercare open nuwe tak in Worcester

Die personeel van Cancercare is baie opgewonde oor die opening van hul nuwe tak in Worcester. Hierdie tak is in Desember 2020 geopen en die personeel is trots op wat hulle tot dusver hier bereik het.

Drs. Hanlie du Toit en Johann Riedemann is die kliniese en stralingsonkoloë by Cancercare se Worcester-tak.           Foto: DANIELLE DANIëLS
Drs. Hanlie du Toit en Johann Riedemann is die kliniese en stralingsonkoloë by Cancercare se Worcester-tak. Foto: DANIELLE DANIëLS

Vir meer as 13 jaar het die Worcester-onkologiekliniek net uit sessiekamers bestaan. Die bestuur het later besluit om vier chemoterapiestoele by Mediclinic Worcester te plaas, maar weens die Covid-19-pandemie het Mediclinic die vertrek benodig. Dis toe dat die bestuur na hul eie plek begin soek en aansoek gedoen het vir 'n chemoterapielisensie in Cancercare se naam. Hul vorige chemoterapielisensie was uitgereik in Mediclinic se naam. Met hul huurkontrak wat laat verlede jaar goedgekeur is, tesame met hul chemoterapielisensie, het hulle besluit om die Cancercare-onkologiekamers in Worcester te open.

Dr. Hanlie du Toit, 'n kliniese en stralingsonkoloog van Cancercare wat al meer as 20 jaar passievol verbonde is aan die onkologiekamers in Worcester, sê onkologie is 'n dissipline wat die beste as deel van 'n multidissiplinêre span werk.

"Elke kollega wat 'n kenner in hul eie veld is, se insette is nodig vir my om die pasiënt optimaal te behandel. Ek waardeer en respekteer elke kollega se veld, ek hou van spanwerk en dit is vir my belangrik. Van die plaaslike geneeshere wat die pasiënte optel en hul nasorg behartig tot hulp met terminale sorg, tot die spesialiste wat kort-kort deur betrokke moet raak."

"Deur die jare wat ek by die kliniek gewerk het, het ek die lojaliteit van al die dokters opgebou. Ek waardeer dit en die uitstekende diens wat gelewer word. Ek sê altyd aan die pasiënte wat Kaap toe wil reis vir behandeling, dat hulle liewer moet bly, want hier in hul omgewing ontvang hulle goeie gehaltediens deur 'n multidissiplinêre span."

Die personeel by die Worcester-tak bestaan tans uit 'n onkoloog en een chemoterapie-suster.

Die dienste wat hier gelewer word, sluit in konsultasies, chemoterapie, hormoonbehandeling en bragiterapie.

"Ek is tans al onkoloog, maar dr. Johann Riedemann, 'n kliniese en stralingsonkoloog wat nuut aangestel is by die tak, gaan my ondersteun. By die tak word bragiterapie-inplantings gedoen met die hulp van dr. Deon Marais, 'n plaaslike uroloog. Nog 'n dokter wat betrokke is, is dr. Conrad Jacobs."

Cancercare se naam sê presies wat die span hier doen. "Ons verleen sorg aan kankerpasiënte. Baie van die pasiënte wat ons help, is behoeftige mense met swak inkomste, maar danksy die diens wat ons bied en met behulp van Dis-Chem kan ons hulle steeds help, veral diegene wat bestraling ontvang."

Die hele Breederivier-streek word deur die tak bedien.

Cancercare Worcester beskik oor 'n volledige chemoterapiekamer.
Cancercare Worcester beskik oor 'n volledige chemoterapiekamer.

"Hier is 'n volledige chemoterapiekamer met vier chemoterapiestoele. Pasiënte kan hier gesien en behandel word. Daar is ook gratis vervoer vir pasiënte vir enige terapie, na en van die moedereenheid in Kaapstad. Hierdie gratis vervoer word deur Dis-Chem geborg."

Dr. du Toit sê as deel van die sukses van die tak, hoop hulle vir beter samewerking met almal in die omgewing asook die staatsdiens en om voort te bou op die gehaltediens wat hulle aan die plaaslike gemeenskap lewer.

Tans word 'n gemiddeld van 12 tot 15 pasiënte per besoek by hierdie tak gesien.

Alle Covid-19-protokolle word gevolg en met die intrapslag word alle pasiënte by ontvangs geskandeer.

"Die pasiënte met aktiewe Covid-19 word hanteer volgens die protokolle en hul behandeling word uitgestel. In die lig van Covid-19 het ons ook ons protokolle aangepas, so baie van die pasiënte ontvang orale chemoterapie of kry chemoterapie as 'n buitepasiënt in plaas van toelating."

Vir meer inligting oor Cancercare se Worcester-tak, skakel gerus 021 944 3800.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM