Promosie

Die boektafel is gedek

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Woordfees het 21 jaar gelede begin as 'n deurnagletter-kundefees met voorlesings en musiek. Boeke en skrywers bly die hart van die program - ook op TV.

Willem Anker by 'n fjord in Noorweë.
Willem Anker by 'n fjord in Noorweë.

Van 'n lighartige gesprek oor die blitssukses van 'n 93-jarige hoofkarakter in 'n ouetehuis, tot 'n hartverwarmende kuier oor komvandaan-resepte en grendeltydtroos; 'n inspirerende onthoureis met oud-Springbok en wynmaker groot Schalk Burger, tot 'n indiepte-bespreking van die vreemde wêreld van mens en masjien - volledig met foto's - wat Willem Anker, wenner van vanjaar se kykNET Rapportprys vir fiksie, in sy roman Skepsel oproep . . . Dit alles vorm deel van vanjaar se Skrywersfees in sy TV-baadjie.

Rudie van Rensburg se Hans-fenomeen - sy reeks oor Hans van Kraaienburg en sy versetkabinet se streke in Huis Madeliefie - het hom al aan die bopunt van die topverkoperlyste laat beland. Na aanleiding van sy jongste, Hans bars die bioborrel, vertel hy vir Erns Grundling hoe hy destyds eintlik skaam was om sy uitgewer te nader oor die "boekie" wat hy so half met sy linkerhand gepleeg het. Maar met die sukses van Hans het hy nou nuwe vryheid om ander dinge te probeer wat hy nie sommer met Kassie, die speurder in sy ewe gewilde reeks misdaadboeke, sou waag nie. Soos om met 'n ligte hand oor die pandemie te skryf. Tobie Cronjé lees spesiaal uit die nuwe Hans voor.

'n Gesprek wat eweneens in 'n ligte trant is, maar bloot omdat die besonderse skrywer bo seer en swaarkry kon uitstyg, is Hannes van Wyk se " 'n Outistiese seun onthou" met Anton Müller. Anton is op drie met outisme gediagnoseer, maar toe dit tyd word vir skool het sy ma verseg om hom na 'n spesiale skool te stuur en is hy na die Laerskool Paul Roos toe - eers na die spesiale klas en later as 't ware "oorgesmokkel" na die gewone klas, waar hy 'n sonderlinge band met sy klasmaats gevorm het. Later jare is hy na die Olyfkrans Kollege op Swellendam en vandag werk hy in Stellenbosch se biblioteek - op 60, die dorp se "gelukbringer".

Anton sê self hy is "soos Rain Man, maar nie dieselfde nie". Sy groot talent is sy verbluffende vermoë om datums en dae onmiddellik te onthou. Sowat ses jaar gelede het hy dié talent begin inspan om aantekeninge te maak van wat hy omtrent sy lewe onthou. 'n Grypdief later moes hy oorbegin, maar met die hulp van sy broer, Corrie, kon sy biografie, Ek onthou, vanjaar verskyn. Op sy unieke manier vertel Anton vir Hannes van sy "trawante" op skool en kollege, Ma Helen se dood aan kanker, sy kat genaamd Hond, en bewys hy géén datum troef hom nie.

Die digter en Suidooster-draaiboekskrywer Ryan Pedro is deel van die gesprek oor die verwikkelinge rondom Kaaps as skeppende taal.
Die digter en Suidooster-draaiboekskrywer Ryan Pedro is deel van die gesprek oor die verwikkelinge rondom Kaaps as skeppende taal.

" 'n Taal wat groei, is 'n taal wat leef," sê die digter en dosent Nathan Trantraal. Hy is een van die skrywers wat in " 'n Niewe era vi Kaaps" praat met Donovan Law­rence oor die opwindende nuwe verwikkelinge rondom Kaaps as skeppende taal. Die digter en Suidooster-draaiboekskrywer Ryan Pedro, uitgewer Carolyn Meads en radio- en TV-aanbieder Lyntjie Jaars gesels saam en daar is ook 'n kykie na Ronelda Kamfer se debuutroman wat eersdaags verskyn.

Steeds aan die niefiksie-kant is prof. Rachel Jafta se gesprek oor 'n vrye ekonomie met die skrywer van Our Long Walk to Economic Freedom, Johan Fourie, en die uitvoerende hoof van Capitec, Gerrie Fourie, oor die rol wat innovering en tegnologie in ekonomiese vooruitgang speel - hoe dit die mensdom in die verlede al gehelp het, en hoe dit vandag veral vir jong mense geleenthede kan skep.

Lien Botha gesels met Andries Bezuidenhout oor haar tweede roman, Vin. Dis 'n anderse kuns-en-boekaanbieding as dit waaraan jy gewoond is.
Lien Botha gesels met Andries Bezuidenhout oor haar tweede roman, Vin. Dis 'n anderse kuns-en-boekaanbieding as dit waaraan jy gewoond is.

Vir 'n anderse kuns-en-boekaanbieding is daar Andries Bezuidenhout se gesprek met Lien Botha oor haar tweede roman, Vin. Self 'n skrywer en kunstenaar, doen hy dit deur te kyk na die wisselwerking tussen papier en beeld, met Lien se boek aan die een kant en haar karakter, Vin, se webtuiste aan die ander. Hier kan die leser hoofstuk vir hoofstuk saam met Vin spoorsny en reis aan die hand van haar foto- en kunsalbums.

'n Eg menslike ervaring is die sielkundige en skrywer van Bloedvreemd, Juliana Coetzer, se gesprek met Erika Murray- Theron oor haar Kom ons loop weg: Ons pad met Parkinsons. Erika se man, Tom, is 'n paar jaar gelede oorlede, maar eintlik, sê sy, het sy haar jeugliefde en rots begin verloor die dag toe hy met die siekte gediag­noseer is. En op 'n dag kom daar 'n deur, "waardeur jy net weet jy móét stap". Rika Sennett lees 'n aangrypende stuk uit die boek voor.

Ten slotte is daar die besonderse kuier tussen twee ou vriende oor 'n vingerhoedjie rosé "vir die senuwees": dié tussen die teaterregisseur Marthinus Basson en die Book­er-kortlysskrywer Damon Galgut oor laasgenoemde se roman The Promise. Ons hoor hoe 'n siek seuntjie in 'n hospitaalbed op fiksie verlief raak, hoeveel spanning daarmee gepaard gaan om as "Suid-Afrikaanse verteenwoordiger" vir 'n internasionale prys benoem te wees, en hoekom langhand skryf in klein notaboeke hom laat voel hy brei die teks.

  • Daar is 21 boekgesprekke om van te kies. Sien woordfees.co.za vir die volledige Skrywersfees­program.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM