
Die bekroonde regisseur Jason Jacobs het sy hand aan 'n vars interpretasie van Adam Small se klassieke Krismis van Map Jacobs gewaag met Dann-Jacques Mouton, Ilse Klink en June van Merch in die rolverdeling. Jaco Jacobs het die filmregie behartig.
Krismis van Map Jacobs mag dalk 'n klassieke stuk wees, maar vir die teatermaker Jason Jacobs is daar niks wat oud of uitgedien is aan die proses óf die storie wat vertel word nie.
"Adam Small skryf met herhaling in gedagte, en sy gehamer op stokou temas waarmee ons opgeskeep sit, is 'n metafoor wat spreek tot die nood om verandering," sê hy.
Vir Jason was die samewerking met choreograaf en assistent-regisseur Byron Klassen, wie se wortels in dansteater lê, 'n geleentheid om die beelde in die teks na dans en beweging te vertaal.
"Dit was 'n uitdaging om hierdie impuls te volg en daarby te hou, maar ons het sterk gevoel dat die liggame van die spelers betrokke, ryk geskiedenis dra wat gehelp het om meer uit Adam se storie te kon kry en met nuwe asem 'n ‘jonger' visie te laat realiseer."

Jason sê hy was self nog nooit betrokke by 'n produksie van Map Jacobs nie. Sy ontmoeting met die werk van Adam Small was deur 'n opvoering van Krismis van Map Jacobs deur die Cape Heart-teatergeselskap by Vredendal Senior Sekondêr. "Hul skoleproduksies maak al vir jare Small se werk meer toeganklik en laat dit voortleef."
Maar hoe bring 'n jong man soos hy dan 'n klassieke grootmeneer soos Map Jacobs op die planke? "As teatermaker glo ek in 'n proses van gesamentlike benadering tot die skep van nuwe of herskep van reeds bestaande werk." Deur meer op die mense wat die produksie máák te fokus en nie streng op die eindproduk nie, meen Jason kom hy nader aan die waarheid. "Ek praat en droom graag met almal betrokke om saam oplossings vir sensitiewe en moeilike vrae te vind."
Hy gee ook erkenning aan dié wat voor hom kom en wie ou kennis in hulself gestoor het. "Dit kos slegs vertroue en 'n bereidwilligheid om te wil leer, om wêrelde en stories soos gedwonge verskuiwing wat generasies lank in ons bloedlyne klop en ons generasies lank treiter, weer te kan vertel met nuwe hoop vir verandering."
Hy beskryf ook die werk van regisseur as dié van geneser.
Benjamin Jephta het die musiek geskryf en gesorg vir 'n vars, kontemporêre klank, eie aan sy unieke styl.
Die geleentheid om Map Jacobs as teaterstuk op TV te kan opvoer, is vir Jason baie opwindend.
"Die waarde is eintlik onmeetbaar omdat ons mense nou teater kan sien in hierdie changing times wat ons steeds mee sukkel. Nie net kry teater 'n nuwe look and feel nie, maar ook word teatermakers ge-challenge om teater aan die lewe te hou. Dit is vir my opwindend dat gemeenskappe waar daar geen teatergebou, -geselskap of -gemeenskapsgroep bestaan nie, die geleentheid kry om 'n fees vol werk te kan sien en dit onderlangs met mekaar te kan bespreek."
- Krismis van Map Jacobs | 3 Oktober | 6 Oktober












