Daar was ’n tikkie déjà vu by vanjaar se tweede World Leisure Holidays en Netwerk24-gholfweek in Mauritius, wat van 30 Augustus tot 6 September gehou is.
Vanjaar het 63 spelers om die gesogte titel sake uitgespook.
Ig Erasmus, wat verlede jaar op die wennerspodium was, is vanjaar weer gekroon as die individuele- houespel-kampioen met 122 punte. Morne Erasmus was tweede met 111 punte en Raymond Kamineth se 104 punte was genoeg om die derde plek te verseker.
Erasmus se sege het vir hom vyf aande by die vyfster- Sugar Beach-strandoord in die sakkie gebring terwyl Morne Erasmus se tweede plek vir hom vyf aande by die vyfster- Long Beach-strandoord bespreek het. Vyf aande by die vierster- Ambre-strandoord wag vir Kamineth.
“Dis ’n lekker groep. Verlede jaar se groep was awesome, hierdie jaar weer en ek moet sê alles was goed georganiseer. Ons moes nooit wag vir iets nie, die sakke was alles in plek, die busse was altyd betyds. Almal het dit geniet en ek glo dit gaan nog groter word. Anahita was vir my die lekkerste baan. Ile aux Cerfs was ook baie lekker, maar dis ’n moeilike baan. Volgende jaar bring ek my drie skoonseuns ook saam,” sê Erasmus.
Die gholfbane Tamarina, Anahita en Ile aux Cerfs was almal in ’n puik toestand, maar met tye het die wind en bietjie reën die spelers se vermoë tot die uiterste beproef.
Sugar Beach en Long Beach was weer ’n toonbeeld van luukse verblyf en Mauritiaanse gasvryheid en die spelers het dit terdeë geniet. Die goeie gees en kameraderie onder almal was tasbaar en ’n feestelike atmosfeer het die hele week geheers.
Kamineth is een van vele spelers wat verlede jaar ook die gholfweek meegemaak het.
“Die gholfweek was en is steeds een vir die boeke. Ons hoogste verwagtinge is oortref. Van die nat, winderige Tamarina, met gesoute spelers saam met jou in die span, soos Stehan Schoeman, Alwyn Hollenbach en Gideon van Wyk, waar ons ons bes moes doen teen die elemente.
“Van die pragtig ontwerpte Anahita tot by die windstil, prentjiemooi Ile aux Cerfs, kon die mooiheid en natuurskoon net nie ophou om ons te beïndruk nie.
“Die heel beste ervaring is egter die samesyn tussen ’n groep Suid-Afrikaners wat op die eiland vriende geword het. Die rit op die katamaran na die waterval, snorkel by die koraalrif met ’n vis- en hoenderbraai het ons heeltemal in ekstase gehad. Dit is ’n belewenis wat ek dink elke gholfspeler in Suid-Afrika moet meemaak.”
Louis Thornhill, lid van die Suid-Afrikaanse PGA wat die ruggraat van die kompetisie is en tussen die vierballe oor die drie dae heen beweeg het, is in sy noppies met hoe alles verloop het.
“Die gholftoer en die mense is baie spesiaal. Die toestande was aansienlik moeiliker vanjaar wat die weersomstandighede betref en ek was beïndruk met die punte wat die spelers behaal het. Die individuele houekompetisie was ’n sukses en die kombinasie van die drie bane met die berge en blou see het alles mooi byeengebring.”
Marlin Magadani, World Leisure Holidays se bemarkingshoof, is vol lof vir almal wat betrokke was.
“Namens World Leisure Holidays wil ek almal bedank vir hulle betrokkenheid. Sonder die spelers en ons vennote sou ons dit nie kon doen nie. Dit was weer ’n ongelooflike ervaring, soos verlede jaar. Baie geluk aan al ons wenners en dank gaan ook aan Netwerk24, Rudy Project en Sunlife.”
Rika Nieuwoudt, die aktrise en TV-aanbieder, deel haar ervaring: “Die Mauritius-gholftoer was ongelooflik. Elke aspek van die toer het my verras. Die organisering was puik, daar was niks om oor bekommerd te wees nie, behalwe om ’n lekker tyd te hê. World Leisure Holidays se span het seker gemaak ons weet waar ons moes wees en ons is van dag een af bederf. Die verblyf het jou die regte eilandgevoel gegee en daar was kos te kies en te keur. Die hoogtepunt van die toer was die ongelooflike gholfbane waarop ons kon speel. As amateurgholfspelers het ons gevoel soos professionele spelers in die manier wat ons hanteer is en hoe die baan voorberei is.
“Die toer sou sekerlik nie so suksesvol gewees het as dit nie was vir die mense nie. Elkeen saam met wie ons gekuier het, is lekker mense. En jy kon voel almal is daar om te ontspan en ’n lekker tyd te hê, maar jy het ook tyd vir jouself om die asemrowende eiland in te neem. ’n Ervaring wat ek vir enige een sal aanbeveel. Dit is absoluut die moeite werd.
“Dankie World Leisure Holidays, Netwerk24 en Rudy Project vir julle bydrae tot hierdie toer.”
























