Jy kan steeds tydens beurtkrag DStv kyk as jy die DStv Now-toepassing op jou slimfoon of tablet aflaai.
Al wat jy nodig het, is so bietjie beplanning. Kyk eerstens na die beurtkragskedule. Wanneer daar krag is en jy nog toegang het tot WiFi, maak die DStv Now-toepassing oop en laai die kykNET-reeks of -rolprent af wat jy graag wil kyk. Wanneer die ligte uit is, kan jy rustig kykNET kyk!

Wat is DStv Now?
Dit is die aanlyn-weergawe van DStv. Dit beteken selfs al bly jou dekodeerder by die huis, is al jou gunsteling-DStv-kanale - soos kykNET - altyd by jou. Jy kan dieselfde inhoud op die DStv Now-toepassing kyk as wat jou DStv-intekening toelaat.
Hoe om kykNET se programme met DStv Now af te laai en te kyk:
1.As jy dit nog nie gedoen het nie, registreer vir DStv Now.
2.Laai die DStv Now-toepassing vir Apple of Android af.
3.Teken aan en soek die kykNET-program wat jy wil aflaai.
4.Tik op die teken wat soos 'n wolkie lyk.
5.Kies die gehalte van die videolêer wat jy wil aflaai (hoogste, hoog, medium of laag). Hoe laer die grootte van die lêer, hoe minder stoorplek neem dit op jou slimfoon of tablet.
6.Wanneer jy 'n keuse uitgeoefen het, sal die program begin aflaai.
7.Lekker kyk!
Dis belangrik om te onthou dat jy nét 48 uur het om die program te kyk wanneer jy eers "play" gekies het. Die inhoud verval daarna en dan moet jy dit wéér gaan aflaai. As jy nié "play" kies nie, bly die program of rolprent vir 30 dae op jou toestel voor dit verval.

Wat kan jy kyk?
Jy kan die nuutste episodes van Suidooster, Dwaalsters, Hotel en nog vele meer aflaai. En jy hoef nie nét kykNET se reekse te kyk nie. Jy kan enige programme aflaai wat jy gewoonlik met jou DStv-dekodeerder by die huis kyk, soos The Voice en The Bachelor SA.












