Promosie

Hier is als wat jy oor kriptogeld moet weet – en ‘Stigter’ vertel van ’n merkwaardige SA suksesverhaal in New York

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Marius Reitz. Foto: Verskaf.
Marius Reitz. Foto: Verskaf.

Luno is in 2013 in Kaapstad begin. In 2016 het hulle 'n kantoor in Langstraat met 10 personeellede gehad. Binne vyf jaar het hulle byna 500 werknemers en kantore in Londen, Singapoer, Nigerië, Indonesië, Australië, Stanford in die VSA en Maleisië.

Luno is 'n aanlyn platform waar jy met gemak en op 'n veilige manier kriptogeld soos Bitcoin, Ethereum, XRP en Litecoin kan aankoop. Die Luno-app het al $21 miljard se transaksies deurgevoer.

Jy kan ook tot 7,6%-rente per jaar verdien op die kriptogeld wat jy aankoop, met geen versteekte koste nie. Luno is die veiligste manier om jou geld in kriptogeld om te skakel en 'n Suid-Afrikaanse suksesstorie wat nou oor die wêreld weergalm.

Marius kom van Moorreesburg, 'n klein landboudorpie in die Swartland in die Wes-Kaap. Hy het in die Paarl skoolgegaan en bestuursrekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Hy het daarna by 'n ouditfirma in die Kaap gaan werk. "Ek het in die beginjare veral gewerk met maatskappye wat in sakeredding was en het baie geleer. Ek het in 2016 by Luno se stigterspan aangesluit. Ons was so 10 mense toe ek daar begin het," onthou Marius.

‘Stigter'

(Voor jy verder lees . . . lyk dié artikel soos iets waarvan jy meer wil sien? Teken vandag nog in op Stigter, die Afrikaanse entrepreneurstydskrif. Daar is nog baie meer waar hierdie artikel vandaan kom! Meer hier.

Marius het in sy vroeë rol by Luno op lande in Afrika - spesifiek Nigerië, Uganda en Suid-Afrika - gefokus. Hy onthou die een ná die ander afspraak met reguleerders, reserwebanke en staatsinstansies.

Kriptogeld het die finansiële en beleggingslandskap vir altyd verander, maar dit was hulle wat moes help om die nuwe reëls vir die omgewing te skep. Marius moes seker maak Luno voldoen regulatories aan lande se vereistes. Hy sit tans dié rol voort in Kenia, Zambië en Ghana.

Luno het in 2015 belegging by Naspers, asook belegging vanaf 'n beleggingsmaatskappy van Indonesië ontvang. In 2017 het Rand Merchant Investment (RMI) en Burlington Capital, wat in Londen gebaseer is, in Luno belê.

Die New York-gebaseerde Digital Currency Group (DCG) was in 2014 een van Luno se eerste beleggers en het in 2020 Luno in sy geheel oorgekoop.

"DCG is die Berkshire Hathaway van die kriptowêreld," sê Marius. DCG besit Grey Scale, waar institusionele geld in Amerika in kripto belê word, asook Coin Desk, wat sekerlik die grootste kriptomediahuis ter wêreld is.

Die stigters van Luno, Marko Swanepoel, Timothy Stranex en Pieter Heyns, het nou ook aandeel in DCG verkry en is op pad om hul droom te bereik: om 'n nuwe wêreldwye finansiële stelsel te skep. Hul volgende doelwit is om teen 2030 'n miljard verbruikers te hê.

Wat maak Luno anders as ander platforms?

"Ons dink Luno is steeds vroeg in die kripto-omgewing. Bitcoin het maar rondom 2008 eers ontstaan en daar is steeds min mense wat dit verstaan. Die vraag in die mark is om rande of dollars veilig na kripto om te skakel. As ons miljarde mense wil bereik, moet ons fokus daarop om dit eenvoudig te hou, sonder te veel funksies. Ons glo ook die behoefte is dieselfde in Europa en selfs die VSA. Daarom dat ons net ses kriptogeldeenhede aanbied, terwyl daar eintlik duisende beskikbaar is," vertel Marius.

"Mense gebruik banke omdat hulle hul geld êrens veilig wil stoor, wil rente verdien, betalings kan doen en om geld te leen - dit is alles wat jy naderhand met Luno ook gaan kan doen. Mense gaan kriptogeldeenhede gebruik as sekuriteit om lenings te kan kry, en jy kan reeds op jou kriptogeld op Luno rente verdien," sê hy.

Wat is jou persoonlike beleggingstrategie vir kriptogeld?

"Jy moet balans handhaaf. Dit is nie wys om net in kripto te belê nie. Persoonlik belê ek in Bitcoin en Ethereum as 'n langtermynbelegging. Om die waarheid te sê, is daar min van Luno se verbruikers wat aktief probeer koop en verkoop om op kort termyn te probeer geld maak. Ek sit nie met groot skerms op my lessenaar om die prys van Bitcoin heeltyd dop te hou nie," antwoord hy.

Marius sê hy belê ook in eiendom en buitelandse aandele; kriptogeld is maar 'n gedeelte van sy totale beleggings.

Die toekoms van kriptogeld in Afrika

"Die Bitcoin-prys se styging in 2017 het baie verbruikers gelok. Jy kry twee soorte kliënte: die ‘greedy' en die ‘needy'. Die ‘greedy' gebruik kriptogeld om munt uit die onstabiele pryse te slaan, en die ‘needy' gebruik Luno uit desperaatheid as 'n manier om betalings te maak, geld oor landsgrense te kan stuur, hul geld te verskans teen hoë inflasie en geld veilig te stoor. In Afrika is die laasgenoemde verbruiker 'n toenemende tendens," sê Marius.

Nuwe ontwikkelinge in kriptogeld om dop te hou

  • Kriptolenings: Dit stel mense wat Bitcoin besit in staat om geld te leen. Hierdie tendens gaan al hoe meer 'n manier word om sonder 'n kredietrekord toegang tot finansiering te kry.
  • Stablecoin: Daar is tussen 4 000 en 5 000 kriptogeldeenhede, maar Stablecoins is 'n interessante verwikkeling. Dit maak die sprong van dollar of rand tot by kripto net makliker. Maatskappye soos Visa, Mastercard en PayU kyk om byvoorbeeld USD Coin te gebruik vir betalings.

Advies vir ander entrepreneurs

Marius gee die volgende advies vir entrepreneurs wat besighede in die kripto-omgewing wil begin:

  • Verbruikers plaas baie vertroue in banke, en kriptomaatskappye moet prosesse gebruik waarmee mense vertroud is, soos sekuriteitsprosesse, verbruikers se inligting veilig hou, en om te voldoen aan reguleerders se maatstawwe.
  • Jy mag nie advies gee vir verbruikers nie. Wys hulle hoe jou produk werk, maar bly weg van beloftes maak waarby jy nie kan hou nie.
  • Wen vertroue by verbruikers op 'n tradisionele manier, met akkurate inligting en tyd.

Boeke wat Marius aanbeveel

  • Fortuine deur Ebbe Dommisse - 'n Boek wat 'n blik gee oor die groei van die grootste Afrikaner-sakemagnate. "Ek besef harde werk is steeds nodig, maak nie saak wat jou idee is nie. En jy benodig uitnemende mense wat spesialiste is in hulle gebied," sê Marius.
  • In Math We Trust deur Simon Dingle - 'n Oorsig oor die tekortkominge in die huidige finansiële stelsel en hoe blokkettingtegnologie werk.

"Geld gaan 'n evolusie deur. Ons dwing nie Bitcoin op enigiemand af nie, maar moedig mense aan om nuuskierig te wees oor kriptogeld. Met positiewe geluide oor kriptogeld van maatskappye soos Paypal, Tesla en Amazon, wys dit dat die golf van kriptogeld maar nog aan die begin is," vertel Marius.

Marius beveel ook aan dat mense dit self doen: "Moenie iemand betaal om namens jou in kriptogeld te belê nie. En as iemand jou 'n vaste opbrengs belowe, stap dadelik weg, want dit is nie moontlik nie," sluit hy af.

  • Stigter is 'n Afrikaanse entrepreneurstydskrif wat jou meer vertel van Suid-Afrika se entrepreneurs en propvol sakestrategieë, raad en wenke is vir die bemarking en bestuur van jou eie besigheid. Meer inligting hier: Stigter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM