Promosie

Jou rande koop al hoe minder dollars

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hoewel kenners bekommerd is oor die huidige ekonomiese klimaat in SA, kan jy vandag begin om jouself te ontkoppel deur gebruik te maak van die jaarlikse diskresionêre en/of beleggingstoelaag.Foto: VERSKAF
Hoewel kenners bekommerd is oor die huidige ekonomiese klimaat in SA, kan jy vandag begin om jouself te ontkoppel deur gebruik te maak van die jaarlikse diskresionêre en/of beleggingstoelaag.Foto: VERSKAF

In Februarie 2015 het die Nasionale Tesourie betreklik onverwags die buitelandse beleggingstoelaag van R4 miljoen per persoon per jaar verhoog tot R10 miljoen per persoon per jaar. Dit nadat dit vanaf 2011 onveranderd op R4 miljoen per jaar gestaan het.

Daar was 'n groot gejuig uit sekere dele van die beleggingswêreld, want hierdie verhoogde toelaag het inderwaarheid daarop neergekom dat valutabeheer prakties vir die meeste beleggers afgeskaf was. Saam met die R1 miljoen diskresionêre toelaag per jaar het dit neergekom op R11 miljoen per jaar wat landuit kon gaan indien mense se belastingsake in orde is.

Slegs die super-rykes, en daar is nie meer baie van hulle nie, kon met spesiale toestemming meer as hierdie toelaag die land uitneem.

Teen die heersende ZAR/USD-wisselkoers van daardie tyd, naamlik R12,50, kon jy $800 000 koop terwyl vandag, teen die heersende koers van R18,50 jy slegs $540 000 kan aankoop.

Sedert 2015 het die jaarlikse limiete egter onveranderd gebly, wat in wese neerkom op 'n versterking van die beheer oor geld wat die land kan uitvloei.

Veral die R1 miljoen enkel-diskresionêre toelaag is reeds 12 jaar op R1 miljoen, wat daarop neerkom dat daar vandag aansienlik minder buitelandse valuta gekoop kan word. Hierdie toelaag het geen beperkings nie en word grootliks gebruik deur mense wie se kinders oorsee studeer of vir oorsese reise en dalk onderhoud van minderjarige kinders.

Veral teen die Britse pond het die rand kwaai verswak en koop R1 miljoen slegs £43 000 per jaar, wat nie meer ver gaan in die Britse hoofstad nie. Dis nie ongewoon om meer as £2 000 per maand vir 'n piepklein studentebehuisingeenheid te betaal nie, wat beteken dat enige ander uitgawes inderwaarheid die valutabeheerregulasies oorskry. Voor 2015 was SA beleggers nog huiwerig om geld die land uit te neem, synde dat dit dalk onveilig sal wees en dat beleggers meer bekend was met die JSE en ander beleggings in SA.

Maar sedertdien het buitelandse beleggings hoofstroom geword en vandag is dit vir baie beleggers, wat internasionaal probeer belê, die hoeksteen van hulle beleggingsportefeuljes - én ook tot hulle voordeel.

Sedert veral 2014/15 het die JSE stadig maar seker begin agteruit boer teenoor internasionale markte terwyl die kwynende eiendomsmark - met die uitsondering van die Wes-Kaap - meer mense begin dwing het om oorsese eiendom te koop ten einde die internasionale koopkrag van die rand te beskerm.

Terugkeer van valutabeheer

Die kwessie van valutabeheer moet ook nie uit die oog verloor word nie. Vir meer radikale politieke partye in SA is die huidige toegif 'n steen des aanstoots en daar word gereeld daarna verwys met uitsprake dat die R10 miljoen per jaar toegif in 'n nuwe politieke era gestop sal word.

So beleggers moet dus in gedagte hou dat selfs die huidige toelaag, al is dit in reële terme baie minder as agt jaar gelede, dalk gestaak kan word. Dit sal katastrofies vir die rand en buitelandse beleggersvertroue wees.

Maar kom ons kyk na die belegginsgprestasie van iemand wat agt jaar gelede R10 miljoen plaaslik belê het teenoor iemand wat R10 miljoen landuit geneem en oorsee in een van die groot beleggingsindekse belê het, onderskeidelik die Nasdaq, die S&P500 en die MSCI Wêreld-indeks.

'n Belegging van R10 miljoen in die JSE Algehele Indeks sal vandag R17,3 miljoen werd wees.

Dit is nie sleg nie en klop net-net die inflasiekoers in SA.

Dieselfde belegging in die Nasdaq is vandag R48,057 miljoen werd, in die S&P500 R33,957 miljoen en in die MSCI Wêreldindeks R27,981 miljoen.

Dit is derhalwe baie duidelik dat mense wat met Jan Tuisbly se karretjie gery en in die JSE belê het, vandag sleg afsteek teenoor beleggers wat internasionale weivelde gaan soek het. Na gelang van die risikoprofiel en keuse van bateklasse het oorsese beleggers wesenlike welvaart vir hulself en hul families gebou.

Dis derhalwe baie duidelik dat oor die afgelope agt jaar, selfs ná die betreklike sterk styging van die JSE sedert die aanvang van Covid en daarna die oorlog in Oekraïne, die JSE nie veel hond haaraf gemaak het wat welvaartskepping vir plaaslike beleggers betref nie. Vir sowat twee jaar het die JSE se liggie helder geskyn op die rug van kommoditeitpryse, maar sedert April verlede jaar het die JSE maar weer kwaai teruggesak teenoor die res van die wêreld se groot markte.

Die oorheersende vrees is dat die daling in die kommoditeitsiklus - wat reeds die afgelope jaar of wat 'n impak op die JSE het - net nog verder kan daal in die lig van die verwagte swakker wêreldgroei.

Die Internasionale Monetêre Fonds het juis verlede week aangekondig dat die wêreldekonomie teen die swakste koers in 30 jaar gaan groei, naamlik 3%.

Só 'n lae groeikoers - veral as dit langer duur as wat verwag word - kan die kommoditeitsiklus nadelig beïnvloed, en derhalwe ook die rand/dollar-wisselkoers en die pryse van kommoditeite.

SA vooruitsigte lyk maar power

Selfs al bly die buitelandse beleggingstoelaag ongeskonde, moet beleggers besef dat die vooruitsigte vir die SA ekonomie en gevolglik ook die JSE nadelig geraak word deur die enorme probleme van Eskom, die ineenstorting van infrastruktuur, korrupsie en wetteloosheid wat oral heers.

Volgens sekere aanwysers is die SA ekonomie reeds in 'n resessie, wat nog meer druk op die kleiner wordende groepie belastingbetalers sal plaas. Daar gaan deesdae nie meer 'n week verby dat die een of ander top-sakelui nie waarsku teen SA se algehele ineenstorting nie. Duncan Wanblad, hoof van Anglo American PLC, het juis verlede week gewaarsku dat SA op die randjie van die afgrond staan en balanseer, terwyl Peter Bruce, bekende joernalis en rubriekskrywer, reken dit sal "slegter gaan voordat dit nog slegter gaan". Hy voorsien ook dat 'n totale ineenstorting van SA amper onafwendbaar is.

Derhalwe word die vraag gevra: Hoekom nog steeds jou en jou familie se welvaart aan 'n sukkelende ekonomie koppel?

Begin vandag met 'n proses om 'n deel van jou welvaart van SA te ontkoppel deur gebruik te maak van die jaarlikse diskresionêre en/of beleggingstoelaag. Dis wettig en makliker as wat mense dink.

  • Magnus Heystek is die beleggingstrateeg en direkteur van Brenthurst Wealth.

Skakel gerus enige van Brenthurst Wealth se nege kantore landwyd. Die nuutste kantoor word einde vandeesmaand in George geopen.

Gaan na die webblad by www.bwm.co.za of stuur e-pos na invest@brenthurstwealth.co.za.

Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.

Geborgde Inhoud | Magnus Heystek

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM